President

President is 'n titel van 'n leier van een of ander organisasie, soos 'n land of maatskappy. Die term se Latynse oorsprong beteken letterlik "voorsitter", maar die woord dui deesdae gewoonlik op 'n beampte met uitvoerende bevoegdhede.

Presidentskap in 'n land dui gereeld op 'n demokraties verkose leier in 'n republiek wat die rol van regeringsleier en staatshoof vervul, maar daar is wel uitsonderings. In Israel en Duitsland, byvoorbeeld, is die presidente nie so magtig nie, en word hulle deur die parlement gekies en vervul hoofsaaklik 'n seremoniële rol. Soms gebruik diktators ook die titel vir hulself, soms met die titel "Lewenslange President".

Presidentskap in verskillende regeringsvorme

Presidensiële stelsel

In die presidensiële stelsel van regering geld die algemene geval waar die president die rol van regeringsleier en staatshoof vervul. In Suid-Afrika staan die regeringsleier en staatshoof sedert 1994 bekend as 'n president. Voorheen (1961–1994) was die amp bekend as die staatspresident. Die VSA en meeste lande in Latyns-Amerika volg ook hierdie stelsel.

Parlementêre stelsel

Ander state het 'n parlementêre stelsel van regering waar die president slegs die staatshoof is en die Eerste Minister die hoof van die regering is. Lande met sulke stelsels is Namibië, Finland, Duitsland, Indië, Ierland, Israel, Italië en Singapoer. Die president in 'n parlementêre stelsel vervul dus primêr 'n seremoniële rol.

"President van die regering" in parlementêre stelsels is 'n titel wat soms gebruik word vir die hoof van die regering, nie van die land nie. Die titel "president" word dus gebruik in die tradisionele betekenis van "voorsitter van die kabinet". Om verwarring te voorkom word daar soms internasionaal na sulke "presidente" eenvoudig verwys as eerste ministers. Daar is dan gewoonlik 'n aparte staatshoof wat as president of monarg dien.

Semi-presidensiële stelsel

'n Derde stelsel is die semi-presidensiële stelsel, ook bekend as die Franse stelsel, waarin daar ook 'n president en 'n eerste minister is. Anders as met die parlementêre stelsel kan die president noemenswaardige dag-tot-dag mag hê. Die verhouding tussen die president en die eerste minister kan grootliks afhang van die politieke samestelling van die nasionale vergadering, wat bepaal van watter politieke party die eerste minister aangestel moet word deur die president. Hierdie stelsel kan gesien word as 'n kombinasie van die presidensiële en parlementêre stelsels en is ontwikkel aan die begin van die Vyfde Republiek van Frankryk deur Charles de Gaulle. Verder word dit ook gebruik in Rusland, Sri Lanka en ander post-koloniale lande wat die Franse model nagemaak het.

Gesamentlike presidentskap

Slegs 'n klein minderheid van moderne republieke het nie 'n enkele staatshoof nie, byvoorbeeld:

  • Switserland, waar die leierskap van die staat gesamentlik gevestig is in 'n federale raad van sewe lede. Daar is wel 'n president wat lid is van hierdie raad soos gekies deur die algemene vergadering (parlement) vir 'n jaar; die president is bloot primus inter pares (eerste onder gelykes). Hierdie president word egter internasionaal as staatshoof hanteer.
  • Bosnië en Herzegowina, wat 'n drie-lid presidentskap het. Die aanstelling van president roteer tussen die drie lede.
  • San Marino, met twee Capitano Regente.

Sien ook

Verwysings

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.