Pous Vitalianus

Vitalianus was die 76ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk.

Pous Vitalianus
Pontifikaat begin 30 Julie 657
Pontifikaat eindig 27 Januarie 672
Voorganger Eugenius I
Opvolger Adeodatus
Gebore ±600
Segni, Lazio
Sterf 27 Januarie 672
Rome, Italië

Biografie

Pous Vitalianus is gebore in Segni, Lazio, die seun van Anastasius. Op 30 Julie 657 volg hy Pous Eugenius I op en regeer tot sy dood op 27 Januarie 672. Hy word opgevolg deur Pous Adeodatus. Die naam ‘Vitalianus’ beteken 'lewenslustige' in Latyn.

Pontifikaat

Na die dood van Pous Eugenius I, op 2 of 3 Junie 657, word Vitalianus gekies as sy opvolger en gekroon op 30 Julie.[1]

Die probleem met Monotelitisme

Nes sy voorganger Eugenius, het Vitalianus probeer om betrekkinge met Konstantinopel te herstel deur toenadering te soek na die Bisantynse keiser Constans II (641–668) en voorbereidings te tref om die probleem van Monotelitisme te besleg. Hy stuur briewe oor sy verkiesing aan die keiser en die patriarg Petrus van Konstantinopel wat Monotelitisme gesteun het. Die keiser het die voorrang van die Kerk van Rome bevestig en 'n kodeks van die evangelies, ryklik versier met 'n goue omslag met edelstene, as 'n blyk van waardering na Rome gestuur.[1]

Patriarg Petrus het ook 'n antwoord gestuur, maar hy bly niksseggend oor Monotelitisme (wat hy gesteun het). In sy brief laat hy die indruk dat hy met die pous saamstem oor die ortodokse Katolieke geloof. Sodoende is betrekkinge tussen Rome en Konstantinopel herstel, maar onderlinge verskille oor Monotelitisme het bly betstaan. Vitalianus se naam is in die diptiek van die Bisantynse Kerk opgeneem; die enigste naam van 'n pous tussen die van Pous Honorius I en die sesde Ekumeniese konsilie (680–681).[2]

Die insluiting van Vitalianus se naam is deur sommiges gesien as te tegemoetkomend teenoor kettery.[3]

Vitalianus bewys gasvryheid teenoor Konstans, toe die keiser in 633 na Rome kom, waar hy twaalf dae bly tydens sy opmars teen die Lombarde. Op 5 Julie 633 ontmoet die pous en die geestelikes die keiser by die sesde mylpaal en vergesel hom na die Sint Pieterskerk. Die keiser gee hulle geskenke. Die volgende dag het Constans II in vol ornaat na die Sint Peterskerk gegaan en 'n goue pallium geskenk. Hy woon ook die mis by wat deur die pous opgedra word. Die keiser het saam met die pous gaan eet op die volgende Saterdag en van die pous afskeid geneem na die mis op Sondag. Tydens sy vertrek uit Rome het Constans II 'n groot aantal brons kunswerke gesteel waaronder brons dakteëls van die Partenon wat in 'n Christelike kerk omskep was.[1]

Constans II het vervolgens Sisilië aangeval, die bevolking verdruk en is deur 'n sluipmoordenaar om die lewe gebring in Sirakuse in 668. Vitalianus steun Constans II se seun Konstantyn IV teen 'n troonrower en help hom om gekroon te word. Omdat Konstantyn nie gewillig was om die Monotelitistiese dekreet van sy vader (die Typus) te steun nie, het Vitalianus probeer om Konstantyn oor te haal na die ortodokse siening. Dit het egter nie gewerk nie en die Monotelitistiese patriarg Theodorus het Vitalianus se naam van die diptiek laat verwyder. Eers met die sesde Ekumeniese konsilie toe Monotelitisme finaal onderdruk is, is Vitalianus se naam teruggeplaas in die diptiek van die Bisantynse Kerk.[1]

Betrekkinge met Engeland

Pous Vitalianus het betrekkinge met Engeland suksesvol verbeter. Die adel en die geestelikheid was daar verdeel oor verskeie kerklike sake. Tydens die sinode van Streaneshalch, het koning King Oswy van Northumberland Rome se praktyke oor Paasfees en die vorm van die geestelikes se tonsuur aanvaar. Saam met koning Egbert van Kent, stuur hy die priester Wighard na Rome, om gewy te word na die dood van aartsbiskop Deusdedit van Kantelberg in 664, maar Wighard stef in Rome aan die pes.[2]

Vitalianus skryf aan koning Oswy en beloof om so gou as moontlik 'n geskikte biskop na Engeland te stuur. Hadrianus, ab van 'n abdy in Napels, is gekies, maar hy vind homself onwaardig om biskop te word. Hy stel die hooggeleerde monnik Theodorus van Tarsus voor. Theodorus kon beide Grieks en Latyn verstaan en word as aartsbiskop van Kantelberg gewy op 26 Maart 668. Saam met ab Hadrianus het Theodorus na Engeland gegaan en is aanvaar as die hoof van die kerk in Engeland.[2]

Ravenna

Die aartsbisdom van Ravenna was ondergeskik aan die pous. Aartsbiskop Maurus van Ravenna (648–671) wou graag onafhanklik wees. Toe pous Vitalianus hom gevra het om sy teologie te verdedig, het hy geweier en sy onafhanklikheid verklaar. Die pous het hom ge-ekskommunikeer, maar Maurus het hom nie daaraan gesteur nie en het self die pous ge-ekskommunikeer.[1]

Keiser Constans II het die kant van die aartsbiskop gekies en 'n edik uitgevaardig waarin Ravenna uit die jurisdiksie van Rome gehaal is, en die aartsbiskop direk deur die keiser aangestel sou word. Maurus se opvolger, Reparatus, is op die manier aangestel. Die bedeling het gegeld tot die pontifikaat van Pous Leo II (682–683) toe keiser Konstantyn IV die edik herroep het en die bisdom van Ravenna weer ondergeskik aan die bisdom van Rome geword het.[1]

Outoriteit oor die Oosters-Ortodokse Kerk

Vitalianus het sy outoriteit as die "pontifex maksimus" (hoofbiskop) oor die Oosters-Ortodokse Kerk afgedwing. Biskop Johannes van Lappa is afgesit deur 'n sinode onder die voorsitterskap van Metropoliet Paulus. Johannes het na die pous appelleer, maar word daardeur deur Paulus in die tronk gestop. Hy het egter ontsnap en na Rome gegaan. Pous Vitalianus het 'n sinode belê om die saak te ondersoek en hulle het Johannes onskuldig bevind. Pous Vitalianus het toe aan Paulus 'n brief geskrywe waarin hy aandring dat Johannes sy bisdom moet terugkry en ook die kloosters wat onwettig van hom afgeneem is. Te selfder tyd moet die Metropoliet ook twee diakens wat getrou het nadat hulle gewy is, afdank.[2]

Orrelmusiek

Tradisioneel word geglo dat orrelmusiek tydens Vitalianus se pontifikaat ingevoer is.

Verering

Vitalianus word as heilige vereer in die Rooms-Katolieke Kerk en die Oosters-Ortodokse Kerk en sy feesdag is op 27 Januarie.

Verwysings

  1. Catholic Encyclopedia
  2. Vitalian
  3. "the Popes". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 13 Mei 2006. Besoek op 9 Januarie 2008.

Bibliografie

  • Davis, R. (2001) Book of the Pontiffs (English Translation of the Liber Pontificalis) Liverpool University Press. ISBN 0-85323-545-7
  • Duff, Eamon. Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press, 2001. bl. 62–63. ISBN 0-300-09165-6
  • Maxwell-Stuart, P. G. Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson, 2002, bl. 47. ISBN 0-500-01798-0.

Eksterne skakels

  • BBKL Inskrywing (met Literatuurverwysings) in die Biographisch-Bibliographisches Kirchenlexikon (Duits)

Nota

Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia.

Hierdie artikel maak gebruik van feite en teks uit die Encyclopædia Britannica van 1911. Die bron is in die publieke domein.

Opvolging

Voorafgegaan deur
Eugenius I
Pous (Pontifex Maximus)
657672
Opgevolg deur
Adeodatus
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.