Pous Leo XIII
Pous Leo XIII (2 Maart 1810 – 20 Julie 1903), was die 256ste pous van die Rooms-Katolieke Kerk, hy regeer van 1878–1903 vir 25 jaar 5 maande en 1 dag. Hy was die oudste pous (regeer tot die ouderdom van 93), en sy pontifikaat was die derde langste, na sy onmiddellike voorganger Pous Pius IX, en Pous Johannes Paulus II.
Pous Leo XIII | |
---|---|
Geboortenaam | Vincenzo Gioacchino Raffaele Luigi Pecci |
Pontifikaat begin | 20 Februarie 1878 |
Pontifikaat eindig | 20 Julie 1903 |
Voorganger | Pius IX |
Opvolger | Pius X |
Gebore | 2 Maart 1810 Carpineto Romano, Italië |
Sterf | 20 Julie 1903 (93 jaar) Rome, Italië |
Ander pouse genaamd Leo |
Hy is bekend vir intellektualisme, die ontwikkeling van die sosiale milieu met sy ensikliek Rerum Novarum en sy pogings om die posisie van die kerk te definieer met betrekking tot moderne denke. Hy het Rooms-Katolieke Mariologie beïnvloed en bevorder beide die Rosekrans en die skapulier. Hy het 'n rekord van elf ensiklieke geskrywe oor die Rosekrans, twee nuwe Maria-skapuliere goedgekeur en was die eerste pous om die konsep van Maria as middelares ten volle te deurgrond.
Biografie
Pous Leo XIII[1] is gebore as Vincenzo Gioacchino Raffaele Luigi Pecci (hy word algemeen Gioacchino Pecci genoem) op 2 Maart 1810 in Carpineto Romano, Kerklike Staat. Die dorpie lê net suid van Rome en was toe deel was van die Franse keiserryk. Hy was die sesde van sewe kinders van graaf Ludovico Pecci en sy vrou Anna Prosperi Buzzi, 'n gesin van lae adel. Hy was die broer van kardinaal Giuseppi Pecci. Hoewel sy lae adelstand hom nie daarvoor kwalifiseer nie, word hy tog opgelei aan die Accademia dei Nobili (Akademie vir die adel). Hy word priester op 31 Desember 1837 nadat hy op 14 Februarie 1837 al aangestel is as persoonlike priester van die pous. Op 27 April 1843 word hy aartsbiskop van Damietta. Hy maak vinnig opgang en op 28 Januarie 1843 word hy nuntius in België. Koning Leopold I van België was die protestante matig gesind. Pecci instigeer die oprigting van die Belgiese Pouslike Kollege in Rome in 1844. Hy kom in konflik met die liberale party in België en meng hom in met die skoolstryd. Koning Leopold versoek die Vatikaan om hom terug te roep in 1846. Pecci word toe aartsbiskop van Perugia op 27 Julie 1846. Hy word bekend vir sy bestryding van die anti-klerikale wetgewing in Italië en die bevordering van die neo-thomisme (die teologie van Thomas van Aquino).
Op 19 Desember 1853 word hy kardinaal met die basiliek San Crisogono in Trastevere as sy titelkerk. Op 20 Februarie 1878 volg hy Pous Pius IX op en word gekroon op 3 Maart 1878. Hy regeer tot sy dood op 20 Julie 1903 en word opgevolg deur Pous Pius X. Die naam ‘Leo’ beteken 'leeu'.
Kerklike loopbaan
- 27 Januarie 1843 – Titulêr Aartsbiskop van Tamiathis.
- 28 Januarie 1843 – Apostoliese Nuntius in België.
- 19 Januarie 1846 – Aartsbiskop van Perugia (Italië).
- 22 Desember 1853 – Kardinaal-Priester van San Crisogono.
- 21 September 1877 – Kamerlengo van die Kollege van Kardinale.
- 20 Februarie 1878 – Pous van Rome.
Pontifikaat
Pous Leo XIII[2][3] volg Pous Pius IX op 20 Februarie 1878 op. Hy probeer om die kerk en die moderne samelewing nader aan mekaar te bring. Die “Syllabus Errorum” van Pous Pius IX het 'n wig tussen die kerk en die samelewing gedrywe deur verskeie politieke en wetenskaplike beskouinge te veroordeel. Te midde van die demokratisering van die tweede helfte van die 19de eeu het Leo XII egter bly verkondig dat God en die kerk die bron van alle mag moet wees en nie volk en die nasie nie. Hy bestry persvryheid en vryheid van meningsuiting asook die idee dat alle kerke gelyk is. Hy droom van die herstel van die Pouslike Staat en die geestelike leierskap van die Christelike wêreld. Saam met sy staatsekretaris Mariano Rampolla versoen hy die Vatikaan met Otto von Bismarck en beëindig sodoende die “Kulturkampf”. Leo XIII is die eerste pous wat die Franse republiek gesteun het. Die Franse monargiste was nie baie gelukkig daarmee nie. Die pous het ook goeie kontakte gesmee met die nuwe republieke in Suid-Amerika.
Pous Leo XIII lewe as vrywillige gevangene van die Italiaanse staat en hy roep Italiaanse katolieke op om nie aan die Italiaanse verkiesings deel te neem nie. Hy skryf verskeie ensiklieke waarvan “Rerum Novarum” (oor nuwe sake) van 1891 die bekendste is. Hy beskrywe hierin sy sosiale siening van kapitaal en arbeid. In die ensikliek “Aeterni Patris” (Ewige vader) beveel hy aan dat die teologie van Thomas van Aquino beter bestudeer word. In die algemeen bepleit hy katolieke wetenskapsbeoefening veral van die natuurwetenskappe wat in daardie tyd met wantroue bejeën is. Die konserwatiewe “ultramontane” was nie gelukkig daarmee nie. In 1833 open Leo XIII die Vatikaanse argiewe vir enige wetenskaplike ongeag sy of haar geloof met die voorbehoud dat dokumente slegs 75 jaar na hulle ontstaan bekend gemaak mag word.
Leo se toenadering tot die Anglikaanse Kerk het misluk en in sy bul “Apostolicae Curae” verklaar hy hulle priester- en biskopwydings asook die apostoliese suksessie ongeldig. Die Ortodokse Kerke se wydings is wel geldig verklaar. Leo XIII probeer om die verlies van die wêreldlike mag te herstel. Hy strewe konkordate na met verskeie lande en slaag daarin om die aansien van die pousdom aansienlik te verbeter. Hy sterf op 20 Julie 1903 en word opgevolg deur Pous Pius X. Sy grafmonument is gemaak deur Giulio Tadolini en kan gesien word in die basiliek St. Jan van Laterane.
Die kollege van kardinale
Pous Leo XIII het 147 nuwe kardinale aangestel in 27 konsistories. Weens die omvang van die lys word dit hier gehou.
Saligverklarings
- 14 Julie 1881 – Bertrand van Garrigue
- 9 Desember 1886 – John Shert
- 9 Desember 1886 – Richard Thirkeld
- 9 Desember 1886 – Robert Johnson
- 9 Desember 1886 – Edmund Campion
- 9 Desember 1886 – Richard Reynolds
- 1888 – Francis Pontillo
- 10 November 1889 – Jean-Gabriel Perboyre
- 1893 – Kluisenaar Falco
- 29 Januarie 1893 – Gerard Majella
- 14 Mei 1893 – Juan Alcober Figuero
- 14 Mei 1893 – Pedro Sanz i Jordà
- 4 April 1894 – Juan de Ávila Jijón
- 13 Mei 1895 – Adrian Fortescue
- 11 Februarie 1895 – Jeanne de Toulouse
- 13 Mei 1895 – John Rugg
- 13 Mei 1895 – John Beche (ook Thomas Marshall)
- 5 Oktober 1899 – Raymond delle Vigne (Raymond van Capua)
- 27 Mei 1900 – Ignacio Clemente Delgado Cebrián
- 3 Junie 1900 – Margarita Martinengo
Heiligverklarings
- 8 Desember 1881 – Benedetto Giuseppe Labre
- 8 Desember 1881 – Clare van Montefalco
- 8 Desember 1881 – John Baptist de Rossi
- 8 Desember 1881 – Lorenzo da Brindisi
- 1883 – Karel die Goeie (Graaf van Vlaandere)
- 15 Januarie 1887 – Alessio Falconieri
- 6 September 1887 – Alphonsus Rodriguez
- 1888 – Die sewe stigters van die Serviete Orde
- 22 Januarie 1888 – Johannes (Jan) Berchmans
- 1888 – Peter Claver
- 14 Maart 1890 – Lijdwine van Schiedam
- 27 Mei 1897 – Antonio Maria Zaccaria
- 27 Mei 1897 – Pierre Fourier
- 1899 – Bede
- 24 Mei 1900 – Jean-Baptiste de La Salle
- 24 Mei 1900 – Margarita van Cascia
- 1902 – Eurosia (ook Orosia)
Bulle, briewe, ensiklieke en dekrete
Pous Leo XIII het 'n groot aantal publikasies die lig laat sien. Die belangrikste ensiklieke word hieronder gegee, maar 'n volledige lys van sy publikasie kan hier gevind word.
- 1 September 1883 – Supremi Apostolatus Officio – Oor die verbreiding en die versterking van die Rosekransdevosie.
- 20 April 1884 – Humanum Genus – Oor die Vrymesselary.
- 20 Junie 1888 – Libertas Praestantissimum – Oor die menslike vryheid.
- 15 Mei 1891 – Rerum Novarum – Oor kapitaal en arbeid.
- 22 September 1891 – Octobre Mense – Oor die Rosekransdevosie in die maand Oktober.
- 18 November 1893 – Providentissimus Deus – Oor Bybelstudie.
Bibliografie
- Artaud de Montor, Alexis, Chevalier de. (1911) The lives and times of the popes (vertaal vanaf "Les vies des papes") The Catholic publication Society of America, New York. Heruitgee: Kessinger Publishing. http://www.saint-mike.org/library/ papal_library/default.asp
- Duff, Eamon (2001). Saints and Sinners: A History of the Popes, Yale University Press. ISBN 0-300-09165-6.
- Maxwell-Stuart, P. G. (2002). Chronicle of the Popes: The Reign-by-Reign Record of the Papacy from St. Peter to the Present, Thames & Hudson. ISBN 0-500-01798-0.
Verwysings
- De Montor, Artaud, Chevalier de. 1911. The Lives and Times of the Popes. The Catholic Publications Society, New York.
- Benigni, U. (1910). Pope Leo XIII. In The Catholic Encyclopedia. New York: Robert Appleton Company. Besoek 30 Januarie 2012 by: http://www.newadvent.org/cathen/09169a.htm
- Leo XIII. (2008). Encyclopædia Britannica. Deluxe Edition. Chicago: Encyclopædia Britannica.
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Leo XIII. |
- CE Inskrywing in die Catholic Encyclopedia (Engels)
- CF Inskrywing in die Catholic Forum (Engels)
- PTA Inskrywing in "Popes through the Ages" deur J. Brusher S.J. (Engels)
- Bulle 'n Databasis van pouslike ensiklieke, dekrete en bulle (in Engels)
- VH Inskrywing in die Vatican History (in Duits).
- CA Inskrywing in die "Cardinals of the Holy Roman Church".
- Inskrywing in die Catholic Hierarchy (Engels)
- Inskrywing in die Giga Catholic Information (Engels).
- Inskrywing in die Saint-Mike Papal Library (Engels).
Nota
Saamgestel en vertaal uit die Nederlandse, Engelse, Duitse en Franse wikipedia en aangevul uit ander bronne soos aangedui.
Opvolging
Voorafgegaan deur Filipo de Angelis |
Kamerlengo van die Kollege van Kardinale 1877 – 1878 |
Opgevolg deur Camillo di Pietro |
Voorafgegaan deur Pius IX |
Pous (Pontifex Maximus) 1878 – 1903 |
Opgevolg deur Pius X |