Pixie-bob

Die Pixie-bob is ’n katras wat moontlik afstammelinge is van hibrides, maar as ’n gedomestikeerde kat beskou word.

Pixie-bob
Land VSA
Ontstaan Natuurlik
Pels Meestal kort
Patroon Kolle
Wetenskaplike naam
Felis catus (huiskat)
Portaal    Katte

Geskiedenis

Pixie-bobs het gewoonlik kort hare.

In 1985 het Carol Ann Brewer ’n polidaktiele[1] kat met ’n kort, stomp stert in die Kaskadegebergte in die Amerikaanse staat Washington gekoop. In 1986 het sy nog ’n kat gekry waarvan die pa glo ’n voskat was. Dié het met ’n huiskat met bruin kolle gepaar[2] en Brewer het een van die katjies gehou. Sy het haar Pixie genoem en ’n teelprogram met haar begin.

In die volgende paar jaar het Brewer nog 23 katte van die Kaskadegebergte by haar program ingesluit wat volgens haar die resultaat was van natuurlike parings tussen vos- en huiskatte. Terselfdertyd het ander telers in Amerika gewerk met plaaskatte met ’n duidelik wilde voorkoms. Hulle het met Brewer saamgewerk om ’n breë genetiese basis te skep vir die ontwikkeling van die moderne Pixie-bob.

Hulle het eindelik The International Cat Association (TICA) en die American Cat Fancier's Association (ACFA) oorreed om die kat te erken. Dit het in 1998 kampioenskapstatus gekry.

Hoewel tekens van wilde katte in die gene opgespoor is, word dit vir alle doeleindes beskou as ’n gedomestikeerde kat.

Beskrywing

Pixie-bobs kan groot wees, maar die gemiddelde gewig is sowat 5 kg. Hulle bereik ná sowat vier jaar ’n volwasse ouderdom in vergelyking met die een jaar van die meeste katrasse. Die meeste Pixie-bobs het swart hare en vel onder hul pote en swart lippe. Hulle het wit hare om die oë en op die bors, maar het dikwels ’n swart vel onder die wit hare. Die pels het ’n patroon soos dié van ’n voskat, dikwels gemeng met rooi skakerings. Hoewel sommige lang hare het, is die meeste kortharig. Die oë is groen of goud en het ’n driehoekige vorm. Sterte is afwesig, lank of tussen 5 en 10 cm (TICA-vereiste).

Die katte is intelligent, spelerig en sosiaal en sal hul eienaar in die huis rond volg. Hulle maak tjirp- en gromgeluide, maar die meeste miaau nie baie nie en sommige miaau nooit.

Sien ook

Verwysings

  1. ’n Polidaktiele dier het meer as die normale aantal tone en vingers
  2. Founder's Homepage Geargiveer 11 Oktober 2015 op Wayback Machine Carol Ann Brewer

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.