Pieter Dykstra
Pieter Simon Dykstra (of Dijkstra) (Nederland, 8 Maart 1884 – Suid-Afrika, 26 Februarie 1968) was ’n Suid-Afrikaanse argitek van Nederlandse herkoms wat veral Gereformeerde kerkgeboue ontwerp het.
Lewe in Europa
Dykstra is gebore in Nederland en het ook sy opleiding as argitek daar ontvang. Nadat hy die skool verlaat het, het hy vier jaar deurgebring aan ’n spesiale skool vir argitektuur en boukuns in Assen waarvan J. Krans die hoof was. Vakansietye het hy in ’n skrynwerkery gewerk. Van 1903 tot 1904 was hy ’n leerlingtekenaar in die boufirma J.H. Koekkoek in Baar en daarna die leerling- toesighoudende tekenaar by die argitek Y. van der Veen in Groningen. Hierna het hy ’n jaar lank (1906) by die argitek Otto Wasserman en E. Haakhorst in Essen in Duitsland se Ruhrgebied gewerk. In 1907 het hy sy werk in Duitsland voortgesit by die Wes-Duitse Marmer-en-granietwerke in Dortmund.
Ná sy verblyf in Duitsland het Dykstra van 1908 tot 1927 op sy eie as argitek in Vlissingen in Nederland gepraktiseer. In dié tyd het hy ook doseer in bouwetenskappe aan die aandskool vir ambagslui in Vlissingen.
Na Suid-Afrika
Dykstra het in 1927 na Suid-Afrika geëmigreer waar sy werk daarop dui dat die modernistiese Hollandse argitek Willem Marinus Dudok (6 Julie 1884 – 6 April 1974) sy benadering tot ontwerp beïnvloed het. Ten einde in Suid-Afrika as argitek te praktiseer, moes Dykstra ’n spesiale kwalifiserende eksamen aflê, wat hy in Kaapstad voltooi het, waarna hy in 1933 lid van die Instituut van Suid-Afrikaanse Argitekte geword het.
Hy het egter nie intussen stilgesit nie en reeds in 1927 ’n kerk vir die Gereformeerde gemeente op Klerksdorp ontwerp. Die Gereformeerde kerk Swartruggens van 1933 is tekenend van sy destydse styl met elegante, sobere gewels, kompakte plan en onderbeklemtoonde toring.
Dit is nie bekend wanneer hy hom in Pretoria gevestig het nie. Hier het hy sy eerste Gereformeerde kerk vir die Jakarandastad in 1930 ontwerp, naamlik Pretoria-Oos. Daarna het die Gereformeerde kerk Heidelberg (1950-’52), Vanderbijlpark (1951), Welkom (1954) en Pretoria-Noord (1956) ook nog aan die beurt gekom. Sy kerksaaltjie vir Van Tilburg, Pretoria, van 1950 is in 1964 gesloop. Pretoria-Noord se Gereformeerde kerk was een van sy laaste ontwerpe.
Waardering
Dykstra het hom in sy kerkontwerp deurentyd toegespits op eenvoud en so daarin geslaag om modern te vertoon. Hy het elemente van tradisionele style, soos Kaaps-Hollands en Italiaans, maar dié verwysings gereduseer tot abstrakte elemente, terwyl die planne in hul kompaktheid aan hul doel beantwoord het. Saam met die firma Geers & Geers (Leendert en Geurt Geers) het dié meer stroombelynde ontwerpe die weg gebaan vir ’n vars rigting in die Afrikaanse kerkargitektuur.
Volgens die Afrikaanse kerkargitek Gerard Moerdijk, ook van Nederlandse herkoms, het Dykstra ’n belangrike rol gespeel in die ontwikkeling van Afrikaanse kerkbou. Blykbaar het Dykstra se Europese opleiding sy kerkontwerp in pas gebring met die jongste tendense in moderne argitektuur.
Ná sy dood het sy naasbestaandes Dykstra se dokumente, sketse en foto’s aan die Gereformeerde Kerkmuseum in Potchefstroom geskenk.
Gereformeerde kerke
- 1930, Pretoria-Oos, Gauteng
- 1932, Matlabas, Blinkwater, Limpopo (in gebruik geneem op 9 Julie 1932)
- 1933, Germiston, Gauteng (in gebruik tot 1977, toe gesloop)
- 1933, Swartruggens, Noordwes
- 1935, Johannesburg-Noord (Melville), Gauteng
- 1936, Messina, Limpopo, (eerste kerk)
- 1937, Pietersburg, Limpopo (vergrotings, ingewy op 12 April)
- 1937, Louis Trichardt, Limpopo (ingewy op 1 Augustus)
- 1938, Koster, Noordwes
- 1946, Sannieshof, Noordwes
- 1947, Lichtenburg, Noordwes (hoeksteen gelê op 24 Mei)
- 1950 Durban (hoeksteen gelê op 15 April 1950)
- 1950-’52, Heidelberg, Gauteng
- 1951, Vanderbijlpark, Gauteng
- 1952, Klerksdorp, Noordwes (hoeksteen gelê 10 November 1951)
- 1954, Welkom, Vrystaat
- 1956, Pretoria-Noord, Gauteng (ingewy op 11 Augustus 1956)
- 1956 Laeveld, Tzaneen, Limpopo
- 1958, Sunnyside, Pretoria, Gauteng
Galery van kerke
- Die Gereformeerde kerk Swartruggens, 1933.
- Die tweede kerkgebou van die gemeente Johannesburg-Noord, opgerig in 1935.
- Die gewese Gereformeerde kerk Johannesburg-Noord, Melville.
- Die destydse Gereformeerde kerk Vanderbijlpark, wat in 1951 volgens Dykstra se plan opgerig is.
- Die Gereformeerde kerk Sannieshof, Noordwes.
- Die destydse Gereformeerde kerk Johannesburg-Noord in Melville.
- Die Gereformeerde kerk Koster ná die verbouings van 1938 volgens Dykstra se plan en voor die verbouings van 1958, op die inlas
- Die vorige Gereformeerde kerk Klerksdorp is ingewy op 13 September 1952 en was in gebruik tot die gemeente sy derde kerkgebou op 16 September 1989 betrek het. Blykbaar is die Dykstra-kerk gesloop om plek te maak vir die huidige gebou.
- Bouwerk het in 1890 begin aan die oorspronklike kerkgebou van die gemeente Pietersburg waaruit dié kerk, soos hy hier in 1959 gelyk het kort voor hy gesloop is, ontstaan het. Die hoeksteen is op 8 November 1890 gelê. Op 12 April 1937 is die vergrote kerk, volgens Dykstra se plan, in gebruik geneem.
- Die Gereformeerde kerk Louis Trichardt, die eerste kerk deur die kerkraad gebruik op 1 Augustus 1937. Dié foto is 21 jaar later geneem.
- Hierdie plan deur Dykstra vir die weeshuis van die Gereformeerde Kerke in Pretoria (die President Kruger-kinderhuis) het in die 1934-uitgawe van dié kerkverband se Almanak verskyn.
- Die President Kruger-kinderhuis, Pretoria, se kommissie tydens sy ingebruikneming in Oktober 1939. Agterste ry: P. Schubart (praesis), W.L. du Plessis (sekretaris, Pretoria-Oos), B. van Heerden (Pretoria), B.J.L. van der Merwe (Ventersburg). Voor: W.M. Pattison (bouer), F.H.C. van der Walt (kassier, Johannesburg-Oos), H.BV. Kruger (onduidelik, Klerksdorp), W. de Vries (sekretaris, Johannesburg-Noord), S.J. Kruger (Moontlik kassier). Inlas: C. van der Walt (onduidelik, Krugersdorp), Dykstra (argitek), J. van Tilburg (adviseur).
Bronne
- (en) Sy lewensbeskrywing op Artefacts.co.za. URL besoek op 12 Februarie 2015.
Sien ook
Eksterne skakels
- (en) 'n Foto van die Gereformeerde kerk Louis Trichardt Geargiveer 21 November 2015 op Wayback Machine. URL besoek op 6 Augustus 2015.
- (en) Die Gereformeerde kerk Pretoria-Noord, soos te sien op Google Maps. URL besoek op 9 Desember 2015.