Petrus Viljoen

Ds. Petrus Jacobus Johannes Viljoen (25 November 1820Venterstad, 1 November 1906) was van 1869 tot 1879 die eerste predikant van die Gereformeerde kerk Colesberg.

Petrus Jacobus Johannes Viljoen
Ds. P.J. Viljoen, van 1869 tot 1897 die eerste predikant van die Gereformeerde kerk Colesberg.
Ds. P.J. Viljoen

Naam Petrus Johannes Jacobus Viljoen
Geboorte 25 November 1820
Onbekend
Sterfte 1 November 1906 (op 85)
Venterstad, Kaapkolonie
Kerkverband Gereformeerd
Gemeente(s) Colesberg, 1869–1879
Jare aktief 1869–1879
Kweekskool O.l.v. ds. Dirk Postma

NG kerkraadslid

P.J. Viljoen[1] was eers 'n boer op die plaas Olyvenbosch in die distrik Burgersdorp. Ten tyde van die afskeiding op die plaas Roosterhoek in die daardie distrik (later deel van die distrik Venterstad) op 21 Januarie 1860, het hy as diaken in die kerkraad van die NG gemeente Burgersdorp gedien. Hy was ook lid van 'n kommissie van die NG kerkraad wat alles in hulle vermoë gedoen om die afskeiding van die Gereformeerde Kerk in die Kaapkolonie te verhoed.

Op 25 Februarie 1860 het Viljoen saam met diaken P.J. Joubert 'n byeenkoms van die Gereformeerdes op Burgersdorp bygewoon en daarna verslag aan die NG gemeente gedoen van die redes wat die Doppers self vir hul breuk met die Kaapse Kerk aangedui het. Dit het hoofsaaklik ooreengestem met die brief van die Gereformeerde kerkraad Reddersburg aan prof. Helenius de Cock, ’n seun van die vader van die Afskeiding in Nederland, ds. Hendrik de Cock, in Nederland op 14 Januarie 1860. Die Burgersdorpse NG kerkraad het besluit om raad van die ring oor die redes van die Gereformeerdes in te win. Nog in 1860 is Viljoen as ouderling in die NG gemeente bevestig.

In die kerkraad van die NG gemeente Burgersdorp, wat destyds vakant was, het 'n stryd gewoed oor die moontlike beroep van 'n sekere prop. Naude (moontlik ds. S.P. Naudé, van 1860 tot 1909 die NG gemeente Queenstown se eerste leraar was), wat van erkende liberale gevoelens was. Viljoen het groot vertroue geniet, maar mettertyd ál onrustiger geword oor die liberale uitlatings wat hom in preke van NG predikante opgeval het. Hy het die saak persoonlik op die Ring van 1861 aanhangig gemaak en diep geskok geraak omdat die predikante hulle so lig van sy besware afgemaak het. Ds. Andrew Murray, die ouere, van Graaff-Reinet het beweer dat “de heerlijke opwekking, te midde van het liberalisme" die regsinnigheid sou bewaar.

Aansluiting by Gereformeerde Kerk

Anna Johanna Joubert, mev. ds. Viljoen, is gebore op 11 Augustus 1824 en oorlede te Bethulie op 7 Januarie 1905.

Intussen wou Viljoen dat sy kerkraad by die Kaapse Sinode van 1862 ook 'n duidelike uitspraak oor die uitverkiesingsleer aanvra. Sommige kerkraadslede het hom teëgestaan omdat die leer “sorgelose mense sou kweek”. Viljoen is op 8 September 1862 herkies as ouderling, maar op 20 Augustus 1863 het hy plotseling bedank as lidmaat van die NGK om by die Gereformeerde Kerk aan te sluit. Hy het gepleit dat die NG broeders hom nie moes verstoot nie, maar hy kon nie anders nie omdat dit vir hom ná 'n swaar gewetenstryd van twee jaar uit die Skrif duidelik geword het dat hy moes aansluit by die kerk wat “de naaste by de ware kerk gebleven is”. Die Kaapse Kerk het, syns insiens, deur “menschelijke inzettingen en veranderingen" die suiwere basis wat “ons vrome voorvaders door de Dordsche Synode alles in beproefde waarheid, naar Gods Woord, vasgesteld hebben", verlaat. Die ondertekeningsformulier vir predikante, die legitimering van predikante deur die aktuarius alleen, die uitskakeling van die ouderlingseggenskap in die toelating tot die kansel, ens. het liberale predikante die kerk laat binnekom, terwyl wette en reglemente dit vir die Kaapse Sinode onmoontlik gemaak hetom die liberale predikante uit die kerk te ban. Die prediking was te “algemeen” en kardinale leerstukke soos die algehele verdorwenheid van die mens, die onderskeiding van ware- en skyngeloof, die uitverkiesing, en so meer, het ontbreek.

Sy mening is van soveel gewig geag dat die NG kerkraad 'n antwoord in brosjurevorm laat druk het. Daarin word Viljoen se erns en opregtheid geensins betwyfel nie. Hy was 'n gesiene figuur:was ouderling, assistent-veldkornet, landskaptein en lid van die afdelingsraad in Albert.

In 1864 het ds. Dirk Postma, onder wie se leiding die eerste Gereformeerde kerk in 1859 en 1860 ontstaan het, sy advies gevra in verband met die aansoek van N.J.R. Swart wat hom as predikant wou laat oplei. Moontlik het Viljoen kennisse of kontak met die Karoodorp Hanover gehad, waar die liberale ds. T.F. Burgers predikant was en waar Swart ook 'n tyd as onderwyser en voorleser in die NG gemeente Hanover vertoef het en so goed bevriend met Burgers geraak het. Viljoen het ’n logiese en Skrifgebonde ontleding van die probleem gegee. Ds. Swart, wat die eerste Suid-Afrikaner geword het wat as Gereformeerde predikant bevestig is, het in 1871 as predikant van die Gereformeerde kerk Pretoria bedank nadat hy ’n hoë amp in die staatsdiens aanvaar en besef het dat hy nooit werklik as predikant geroepe was nie.

Opleiding as predikant

Ds. Viljoen.

Teen 1864 het die nood aan predikante in die Gereformeerde Kerk baie dringend geword. Ds. Postma en ds. Johannes Beijer (Reddersburg se eerste predikant) kon onmoontlik al die werk doen. Van die kerkrade is toe gevra om manne met besonderse gawes aan te beveel sodat hulle by een van die twee predikante opgelei kon word. Hulle sou dan volgens Artikel 8 van die Kerkorde toegelaat word. So het Viljoen in 1866 by ds. Postma tereggekom en is hy deur die Sinode in 1869 beroepbaar gestel en bevestig as die eerste predikant van Colesberg.

Bediening te Colesberg

Die Colesberg Advertiser van 27 Julie 1869 het soos volg oor prop. Viljoen se bevestiging berig: “De heer P.J. Viljoen is een man uit ons midden, die zich vroeger met de boerderij heef bezig gehouden, en nu de herderstaf oor eene gemeente heeft opgenomen." Die goeie indruk wat hy gemaak het, is hoog geroem. Die eerste inheemse predikante van die Gereformeerde Kerk was begaafde Afrikaanse boeremense wat die Woord van God, die Statebybel met sy kanttekeninge en die Belydenisskrifte geken het. Hulle moes dikwels op die pad en langs die kampvure toegerus word en het met bekwaamheid hulle moeilike diens in die wordingsjare verrig. Die Sinodeverslae getuig dat veral ds. Viljoen hom onderskei het. Hy het die moed gehad om dikwels selfs teenoor ds. Postma standpunt in te neem.

'n Engelsman, J. Mackinnon, gee in sy South African Traits 'n karikatuurbeskrywing van 'n Dopper-bruilof op Ruigtefontein. Nogtans het Viljoen op hom 'n sterk indruk gemaak. Hy sê dat Viljoen bekend was as “Oom van Donder” omdat hy so 'n uitsonderlike basstem gehad het en innemend met die mense kon omgaan. Hy het die onderwys van die Afrikaanse jeug op sy hart gedra en op die Sinode van 1873 reeds in 'n vergesig die oprigting van 'n Normaalskool vir opleiding van Gereformeerde onderwysers bepleit, iets wat later op Steynsburg in vervulling gegaan het. Hy was later ’n skoonvader van prof. Jan Lion Cachet en as emeritus-leraar is op Venterstad oorlede.

Bronne

Verwysings

  1. Die Kerk se rekords gee sy voorletters aan as P.J.J., maar in die gemeente Colesberg se eeufeesboek van 1960 verwys dr. Bouke Spoelstra net na hom as P.J.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.