Persiese kat

Die Persiese kat (Turks: Fars kedisi; Engels: Persian) is ’n langharige katras wat uitgeken word aan sy ronde gesig en plat snoet. Sy naam kom van Persië, die eertydse naam van Iran. Dit word sedert die laat 19de eeu deur katliefhebbers as ’n ras erken. Hulle is eers in Brittanje ontwikkel en ná die Tweede Wêreldoorlog hoofsaaklik in die VSA. In Brittanje word hulle langhaarkatte of Persiese langhaarkatte genoem.

Persiese kat
Alternatiewe naam Langhaarkat,
Persiese langhaarkat
Land Persië (Iran), Turkye
Soort lyf Stewig
Pels Lank
Patroon Alle
Wetenskaplike naam
Felis catus (huiskat)
Portaal  Portaalicoon   Katte

Dit was jare lank die gewildste kat in die VSA, maar in Brittanje en Frankryk het hul gewildheid afgeneem.

Geskiedenis

’n Angora-/Persiese kat van die "The Royal Natural History" (1894).

Die eerste aangetekende voorsate van die Persiese kat is in 1620 uit die Khorasan-provinsie in Iran na Italië ingevoer deur Pietro della Valle, en min of meer in dieselfde tyd van Angora (nou Ankara) in Turkye deur Nicholas-Claude Fabri de Peiresc. Die Khorasan-katte was grys en dié van Angora wit. Van Frankryk het hulle kort daarna Brittanje bereik.[1] Langhaarkatte is ook na Europa uitgevoer van Afganistan, Birma, China en Rusland. Kruisteling van die verskillende soorte was algemeen, veral met die katte uit Turkye en Persië.[2]

Onlangse genetiese navorsing dui daarop dat die moderne Persiese kat nie verwant is aan katte van die Nabye-Ooste nie, maar aan dié van Wes-Europa. Die navorsers het onder meer bevind: "Hoewel die vroeë Persiese kat sy oorsprong in die antieke Persië kon gehad het, het die moderne Persiese kat sy poligeografiese invloedspatroon verloor."[3]

Beskrywing

Terwyl die voorkoms van die Persiese kat verander het, het die standaarde vir die ras dieselfde gebly. Dit fokus op ’n geronde kop, breed gespasieerde, ronde oë met die velgedeelte van die neus nie laer as die onderkant van die oog nie. Die lyf moet stewig wees met kort, stewige bene, ’n breë bors en oor die algemeen ’n ronde voorkoms. Die voorkop, neus en ken moet in ’n vertikale lyn wees.[4]

Persiese katte kan enige kleur wees, insluitende goud, skilpaddop, blou en gestreep. Die selektiewe teling waarmee ’n groot verskeidenheid kleure ontwikkel is, het ook gelei tot die skepping van toenemende plat snoete wat gesondheidsprobleme kan veroorsaak. Hulle word verkies deur katliefhebbers, hoewel sommige probeer om die ouer tipe met ’n meer uitstaande snoet, wat gewilder onder die algemene publiek is, te bewaar. Oorerflike polisistiese niersiekte kom in die ras voor – met die helfte van die katte in sommige lande wat daaraan ly.

Hul rustige geaardheid maak hulle gewilde katte om in woonstelle aan te hou.

Tradisionele Persiese kat

Tradisionele Persiese katte

Die "tradisionele Persiese kat", ook bekend as die "popgesig- Persiese kat", het ’n meer uitstaande snoet en is raseg. Dié katte se voorkoms het nie verander nie, hoewel standaarde in verskillende lande verander het.

Peke-gesig en ultratipering

In die laat 1950's het ’n spontane mutasie in rooi en rooi gestreepte Persiese katte gelei tot die "peke-gesig", genoem na die pekinese hond met sy plat gesig. Dit is deur die Amerikaanse Cat Fanciers' Association (CFA) as ’n ras geregistreer, maar het in die middel 1990's ongewild geraak weens ernstige gesondheidsprobleme. Tog het telers van die vookoms gehou en meer sulke katte begin teel. Hierdie "ultratipering" het tot ’n voorkoms gelei soortgelyk aan die Peke-gesig. (Die term Peke-gesig verwys net na die rooi en rooi gestreepte Persiese katte met die spesifieke geen.) Baie katliefhebbers het die voorkoms as ’n "bydrae tot die ras" beskou.[1][5][6][7]

Himalajakat

Hoofartikel: Himalajakat.
Die Himalajakat.

In 1950 is die Siamese kat met die Persiese kat gekruis om ’n ras te skep met die gelaatstrekke van ’n Persiese kat en die kleure van ’n Siamese kat. Dit is in Amerika die Himalajakat genoem, na aanleiding van ander kleurpuntdiere soos die Himalajakonyn. In Brittanje word die katte as Persiese katte beskou en die "kleurpunt-langhaarkat" genoem.

Eksotiese korthaarkat

Hoofartikel: Eksotiese korthaarkat.
Die eksotiese korthaarkat lyk soos ’n Persiese kat met kort hare.

Die Persiese kat is in die laat 1950's in die geheim deur telers van die Amerikaanse korthaarkat gebruik om hul ras te "verbeter". Die CFA het hulle in 1966 as ’n aparte ras erken onder die naam eksotiese korthaarkat. Vanweë gereelde kruisteling stem die eksotiese korthaatkat in alle opsigte ooreen met die Persiese kat, ook wat bou en geaardheid betref, buiten dat hulle kort hare het. Hulle het ook baie van die Persiese kat se gesondheidsprobleme oorgeërf.

Chinchilla

In Amerika het pogings misluk om silwerkleurige Persiese katte as ’n aparte ras gevestig te kry. In dié land word hulle as Persiese katte geskou. In Suid-Afrika was die poging meer geslaag. Die Southern African Cat Council (SACC) erken ’n kat ná vyf geslagte van rasegte Chinchillas as ’n Chinchilla-langhaarkat. Die kat se neus is effens meer uitstaande as die Persiese kat s’n en dit lei tot minder gesondheidsprobleme. Sy hare is deurskynend met swart net op die punte daarvan, ’n eienskap wat verlore raak wanneer hulle met ander Persiese katte gekruisteel word. Kruisteling kan ook lei tot die verlies van die omlyning van die neus en lippe, wat volgens die Chinchilla-standaarde as ’n fout beskou word.

Sien ook

Verwysings

  1. Hartwell, Sarah. Longhaired Cats. Messybeast.com
  2. Helgren, J. Anne.(2006) Iams Cat Breed Guide: Persian Cats Geargiveer 19 November 2008 op Wayback Machine Telemark Productions
  3. The Ascent of Cat Breeds: Genetic Evaluations of Breeds and Worldwide Random Bred Populations Genomics. 2008 Januarie; 91(1): 12–21.
  4. "2006 Breed Council Ballot Proposals and Results" (in Engels). CFA Persian Breed Council. 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Junie 2019. Besoek op 17 Oktober 2009.
  5. Solid Color Persians Are…Solid As A Rock? Geargiveer 1 Desember 2010 op Wayback Machine Cat Fanciers' Almanac, November 2002
  6. Stargazing: A Historical View of Solid Color Persians Geargiveer 1 Desember 2010 op Wayback Machine Cat Fanciers' Almanac. Maart 1995
  7. Hartwell, Sarah. Novelty Breeds and Ultra-Cats – A Breed Too Far? Messybeast

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.