Parthenon
Die Parthenon (Antieke Grieks: Παρθενών) is 'n tempel geleë op die Atheense akropolis in Griekeland, wat aan die Griekse godin Athena gewy is, wat deur die inwoners van antieke Athene as hul behoedster gehuldig is. Kontruksie van die Parthenon het 'n aanvang geneem in 447 v.C., en dit is voltooi in 438 v.C., alhoewel die versiering daarvan voortgeduur het tot 431 v.C.. Dit is die belangrikste oorblywende gebou van klassieke Griekeland, en word algemeen beskou as die apeks van die ontwikkeling van die Doriese orde. Die dekoratiewe beeldhouwerk word onder die hoogtepunte van Griekse kuns getel. Die Parthenon word geag as 'n blywende simbool van antieke Griekeland en van die Atheense demokrasie, en as een van die wêreld se vernaamste kulturele monumente. Die Griekse ministerie vir kultuur is tans besig om 'n program deur te voer van selektiewe restourasie en rekonstruksie om die stabiliteit van die deels bouvallige struktuur te verseker.[1]
Die Parthenon self het 'n ouer tempel vir Athena vervang, wat onder historici as die Pre-Parthenon of Ouer Parthenon bekend is, wat in die Persiese inval van 480 v.C. vernietig is. Soos meeste Griekse tempels is die Parthenon ook aangewend as 'n tesourie. Vir 'n tyd het dit dan ingestaan as die skatkis van die Deliese bond, wat later as die Atheense ryk bekend geword het. In die 6de eeu n.C., is die Parthenon omskep in 'n Christenkerk wat gehuldig is aan die maagd Maria. Ná die Ottomaans-Turkse besetting, is dit weer omskep in 'n moskee in die vroeë 1460's, en is daar ook 'n minaret aangebring. Op 26 September 1687 is 'n Ottomaans-Turkse wapendepot binne die gebou getref deur bombardement van 'n Venisiese aanvalsmag. Die gevolglike ontploffing het die Parthenon en die beeldhouwerk daarvan beskadig. In 1806 het Thomas Bruce, 7de hertog van Elgin, sekere van die oorblywende beeldhouwerk verwyder, met toestemming van die Ottomaanse Turke. Hierdie beeldhouwerke, tans bekend as die Elgin marmerbeelde of die Parthenon marmerbeelde, is in 1816 verkoop aan die Britse Museum in London, waar dit tans uitgestal word. Die Griekse regering is van vaste voorneme dat die beeldhouwerke aan Griekeland terugbesorg moet word, maar dusvêr sonder samewerking aan Britse kant.[2]
Verwysings
- Ioanna Venieri. "Akropolis van Athene" (in Engels). Helleense ministerie vir kultuur. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Oktober 2019. Besoek op 4 Mei 2007.
- "Griekeland dring by Brittanje aan op terugkeer van beeldhouwerke" (in Engels). UPI.com. 22 Junie 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Augustus 2018. Besoek op 29 Junie 2009.