Paradysvlieëvanger
Die paradysvlieëvanger (Terpsiphone viridis) is 'n opvallende, kleurryke vlieëvanger wat met die uitsondering van die hoogsliggende en droogste gebiede, wydverspreid in die Sub-Sahara en tot in Arabië voorkom. Bedags is dit 'n aktiewe spesie wat maklik aan die dartelende vlug[2] of welluidende sang herken word.[3] Suider-Afrikaanse voëls oorwinter in die suidelike trope en subtrope, of in die warm laagliggende kusstrook van Mosambiek, en is in die binneland en suide 'n broeiende somerbesoeker. Die spesie aard goed in tuine en plantasies en word nie bedreig nie. Vyf verdere Terpsiphone-spesies word in tropiese Afrika aangetref, benewens drie op die Indiese Oseaan-eilande, en sewe in Asië.
Paradysvlieëvanger | |
---|---|
Mannetjie by nes in Roodepoort, en opname te Giant's Castle, KZ-Natal | |
Wetenskaplike klassifikasie | |
Domein: | Eukaryota |
Koninkryk: | Animalia |
Filum: | Chordata |
Klas: | Aves |
Orde: | Passeriformes |
Familie: | Monarchidae |
Genus: | Terpsiphone |
Spesie: | T. viridis |
Binomiale naam | |
Terpsiphone viridis (Müller, 1776) | |
Broeiende migrant Heeljaar-inwoner |
Identifikasie
'n Mediumgroot sangvoël met kort bene, donkerblou kop- en borsvere, en okerkleurige bolyf- en stertvere. Die slagvere is donker met okerbruin some.[2] Die mannetjie het twee lang sentrale stertvere. Die iris is bruin, die snawel en vlesige oogring blou, en die kort bene en pote leigrys.[2] Die volwasse mannetjie is sowat 17 cm lank, maar die middelstertvere kan hierdie lengte verdubbel. Benewens die korter stert het die wyfie 'n dunner oogring.[4] Onvolwassenes lyk na die wyfie, maar is ligter gekleurd.[2]
Vorme en subspesies
By 'n tropiese kleurvorm toon die mannetjie 'n wisselende mate van wit op die vlerk- en stertvere, en by een subspesie, swart stertlinte. Tropiese subspesies toon 'n meer opvallende kuif as die suidelikes. Die nominaatsubspesie, met tipe-spesimen uit Wes-Afrika, is 1776 deur Statius Müller beskryf. Nege[4] tot tien subspesies word tans erken, waarvan twee in suidelike Afrika voorkom:
- T. v. plumbeiceps Reichenow, 1898 — suidelike trope en subtrope (oorwintering) tot in Suid-Afrika. Die kop- en borsvere is gryserig blou.
- T. v. granti (Roberts, 1948) — kuslangse verspreiding van die Kaap tot in Mosambiek (oorwintering) en verder noordwaarts. Kop- en borsvere is donkerblou met metaalglans, veral by die mannetjie.
Austin Roberts het hierdie twee taksa as afsonderlike spesies beskou. Ondermeer is die migrasietyd van T. v. granti effe later as dié van T. v. plumbeiceps.[4]
Verspreiding
Suidwaarts van die Sahelstreek en in suidwestelike Arabië en tot in Oman. In suidelike Afrika oorwinter albei subspesies ten dele in die ooste van Zimbabwe, en op die Mosambiekse kusvlakte word T. v. plumbeiceps in die wintertyd deur T. v. granti vervang.[4]
Gewoontes
Word in rivier- en kuswoude asook digte bosse in savanne, tuine en in eksotiese plantasies gevind. Hulle voed op ongewerweldes insluitend motte, rysmiere, kewers en vlieë, en by tye klein bessies. Benewens is skoenlappers en hul ruspes, krieke, sprinkane, sonbesies, muggies, muskiete, mantisse en kakkerlakke as voedsel-items aangeteken.[5]
Dit is 'n migrant en broei in die vroeë somermaande; hoofsaaklik November in suidelike Afrika.[6] Albei ouers bou gelyktydig aan die netjiese nessie, en albei broei die eiers uit. Die nessie is gewoonlik naby die einde van tak en word met korsmosse en spinnerak afgewerk.[3] Die legsel bestaan meestal uit drie eiers (1–4). Dié is roomkleurig met fyn pienk-bruin spikkels in 'n band om die breër kant.[3] Die ouers wissel mekaar af om die eiers in 11 tot 19 dae uit te broei. Die kuikens verlaat die nes na 10 tot 16 dae, en volg aanvanklik hul ouers. Die mooimeisie,[7] diederikkie, bontnuwejaarsvoël en dunbekheuningvoël tel onder die nesparasiete.[5] Die vlieëvangers sal dié spesies of laksmans uit hul gebied verjaag,[3] en selfs groot roofvoëls word getakel.[2]
Sang
'n Lewendige, kort, ritmiese kontakroepe soos tsiek tsiek krrr krrr, zie-za óf swie-swer, ensomeer, wat aan die kontakroepe van die naverwante bloukuifvlieëvanger herinner.[2] 'n Kabbelende sangdeuntjie, whie-whie-o-whit-whit, word algemeen gehoor.[2] Hierdie gebiedsroep van die mannetjie word ook snags geuiter, veral in die vroeë oggendure.
Ander name
Sien ook
Verwysings
- BirdLife International (2016). "Terpsiphone viridis". IUCN Red List of Threatened Species. 2016: e.T22707108A94107090. doi:10.2305/IUCN.UK.2016-3.RLTS.T22707108A94107090.en. Besoek op 12 November 2021.
- Prozesky, O.P.M.; Findlay, Dick (1974). Veldgids – Voëls van Suider-Afrika (1ste uitg.). Johannesburg: Perskor Uitgewery. p. 294. ISBN 0-628-00266-1.
- Gill, E. Leonard; Winterbottom, J. M. (revised) (1975). A first guide to South African birds (7de uitg.). Kaapstad: Maskew Miller. pp. 56–57. ISBN 0623005964.
- Chittenden, H.; Allan, David; Weiersbye, Ingrid; et al. (2012). Roberts geographic variation of southern African birds. Kaapstad: JVBBF. pp. 126–127. ISBN 978-1-920602-00-0.
- "Terpsiphone viridis (African paradise-flycatcher)". biodiversity explorer. Iziko Museums. Besoek op 1 Desember 2023.
- Irwin, Michael P. Stuart (1981). The Birds of Zimbabwe. Salisbury, Zimbabwe: Quest Publishing. pp. 329–330. ISBN 086-9251-562.
- Newman, Kenneth B.; Jensen, R.A.C. (1979). Birdlife in Southern Africa, 15: The brood parasites. Johannesburg: Macmillan South Africa. p. 184. ISBN 0-86954-083-1.
Bronnelys
- Roberts' Birds of Southern Africa, Sesde Uitgawe, ISBN 0620175834