Paradiso (Dante)
Paradiso (Italiaans vir "Paradys" of "hemel") is die derde en laaste deel van Dante se epiese gedig Goddelike Komedie, ná die Inferno en Purgatorio. Dit is 'n vertelling van Dante se reis deur die hemel, begelei deur Beatrice, wat teologie simboliseer. In die gedig word die Paradys uitgebeeld as 'n reeks konsentriese sfere wat die aarde omring en wat onder meer die Maan, Mercurius, Venus, die Son, Mars, Jupiter, Saturnus en die vaste sterre bevat. Dit is in die 14de eeu geskryf. Allegories verteenwoordig die gedig die siel se opvaart na God.
Inleiding
Die Paradiso begin om 12:00 op Woensdag 30 Maart (of 13 April) ná Paassondag aan die bokant van die Aardse Paradys. Dante se reis deur die Paradys duur sowat 24 uur, wat aandui die hele reis van die Goddelike Komedie het 'n week geduur, van Donderdagaand (Inferno I en II) tot Donderdagaand.
Nadat hulle deur die sfeer van vuur beweeg het, wat geglo is in die aarde se boonste atmosfeer geleë is (Kanto I), lei Beatrice vir Dante deur die nege sfere van die hemel na die hoogste hemel, wat die blyplek van God is. Die nege sfere is konsentries, soos in die Middeleeuse standaardmodel van kosmologie,[1] wat van Ptolemeus verkry is. Die hoogste hemel is niematerialisties, wat beteken die struktuur neem, nes in Inferno en Purgatorio, die vorm 9+1=10 aan, met een van die 10 streke waarvan die aard verskil van die ander nege s'n.
Tydens sy reis ontmoet Dante verskeie geseënde siele. Hy is versigtig om te sê hulle woon almal in die saligheid van God in die hoogste hemel. Tot die voordeel van Dante (en sy lesers), is hy "soos 'n teken"[2] aan wie verskeie siele in planetêre en stellêre sfere gewys word wat die een of ander gepaste verbintenis het.
Waar die strukture van die Inferno en Purgatorio gebaseer is op verskillende klassifikasies van sonde, is die struktuur van die Paradiso geskoei op die vier hoofdeugde (verstandigheid, regverdigheid, matigheid en standvastigheid) en die drie teologiese deugde (barmhartigheid, hoopvolheid en getrouheid).
Die sfere van die hemel
Dante se nege sfere van die hemel is die maan, Mercurius, Venus, die son, Mars, Jupiter, Saturnus die vaste sterre en die primum mobile (die heel buitenste bewegende sfeer in die geosentriese model van die heelal). Dante steun ook op tradisionele verbintenisse, soos die een tussen Venus en romantiese liefde. Die eerste drie sfere, wat in die skadu van die aarde val, word verbind met ontoereikende vorme van standvastigheid, geregtigheid en matigheid. Die volgende vier word verbind met positiewe voorbeelde van verstandigheid, standvastigheid, regverdigheid en matigheid; terwyl geloof, hoop en barmhartigheid saam in die agtste sfeer verskyn.
Eerste sfeer (die maan: die wisselvalliges)
Toe hulle die maan besoek, verduidelik Beatrice aan Dante die redes vir die merke op sy oppervlak.
Die wassende en afnemende maan word verbind met wisselvalligheid.[3] Die sfeer van die maan is dus dié van siele wat afstand doen van hulle geloftes, en onvoldoende was in die deugde van standvastigheid (Kanto II). Hier ontmoet Dante en Beatrice vir Piccarda, die suster van Dante se vriend Forese Donati wat gesterf het kort nadat sy gedwing is om haar klooster te verlaat. Hulle ontmoet ook Constance, wat volgens Dante gedwing is om haar klooster te verlaat om met die Heilige Romeinse keiser Hendrik VI te trou (Kanto III).[4] Beatrice praat oor die vrye wil, die heiligheid van geloftes en die belangrikheid daarvan om nie met mag saam te werk nie (Kanto IV).
Beatrice verduidelik dat 'n gelofte 'n ooreenkoms "tussen 'n man en God is"[5] waarin 'n mens vrywillig afstand van sy vrye wil doen as 'n geskenk aan God. Geloftes behoort dus nie ligtelik opgeneem te word nie en moet nagekom word, tensy dit 'n groter euwel sal wees om dit na te kom, soos met Jefta en Agamemnon se offers van hulle dogters (Kanto V).[6]
Tweede sfeer: (Mercurius: die ambisieuses)
Vanweë sy nabyheid aan die son is die planeet Mercurius dikwels moeilik om te sien. Allegories verteenwoordig die planeet dié wat goed gedoen het weens 'n begeerte vir roem, maar wat onvoldoende in die deug van geregtigheid was omdat hulle ambisieus was. Hulle aardse glorie verdof tot ongeringheid langs die glorie van God, nes Mercurius tot ongeringheid verdof langs die son.[6] Hier ontmoet Dante vir Justinianus, wat homself voorstel met die woorde "Ek was Caesar en is Justinianus,"[7] wat aandui sy persoonlikheid bly, maar dat sy aardse status nie meer in die hemel bestaan nie[8] (Kanto VI). Justinianus vertel die geskiedenis van die Romeinse Ryk en noem onder andere Julius Caesar en Cleopatra. Hy kla ook oor die huidige toestand van Italië, inaggenome die konflik tussen die Guelfe en Ghibellyne[8] (Kanto VI).
Beatrice gesels op haar beurt oor die vleeswording en kruisiging van Christus, wat in Romeinse tye plaasgevind het (Kanto VII).
Derde sfeer (Venus: die minnaars)
Die planeet Venus (die oggend- en aandster) word tradisioneel verbind met die godin van liefde, en daarom maak Dante dit die planeet van die minnaars, wat onvoloende was in the deug van onthouding (Kanto VIII).:
Dante ontmoet Charles Martel van Anjou, wat aan hom bekend was[9] en daarop wys dat 'n goed funksionerende gemeenskap baie verskillende soorte mense nodig het. Sulke verskille word geïllustreer deur Cunizza da Romano (die minnares van Sordello), wat hier in die hemel is terwyl haar broer Ezzelino III da Romano in die hel is.[10]
Die troebadoer Folquet de Marselha praat oor die versoekings van die liefde en wys daarop dat (soos destyds geglo is) die keël van die aarde se skaduwee net aan die sfeer van Venus raak. Hy veroordeel die stad Florence (geplant deur Satan, sê hy) vir die skepping van daardie "verduiwelse blom" (die floryn) wat verantwoordelik is vir die bederwing van die Kerk, en hy veroordeel die kerklui vir hulle fokus op geld, eerder as op die Skrif en die geskrifte van die kerkvaders (Kanto IX).
Vierde sfeer (die son: die wyses)
Buite die skadu van die aarde gebruik Dante positiewe voorbeelde van verstandigheid, regverdigheid, matigheid en standvastigheid. In die son, wat die aarde se grootste bron van verligting is, ontmoet Dante die grootste voorbeeld van verstandigheid: die siele van die wyses, wat help om die wêreld intellektueel te verlig[11] (Kanto X). Aanvanklik dans 'n sirkel van 12 helder ligte om Dante en Beatrice. Dit is die siele van:[11]
- Thomas van Aquino
- Albertus Magnus
- Gratianus
- Petrus Lombardus
- Koning Salomo
- Dionisius, wat hier verwar word met Pseudo-Dionisius
- Orosius
- Boëtius
- Isidorus van Sevilla
- Bede
- Richard van Sint Viktor
- Siger van Brabant
Dié lys sluit filosowe, teoloë en 'n koning in, en het verteenwoordigers uit die hele Europa. Thomas van Aquino vertel van die lewe van Sint Franciskus van Assisi (Kanto XI).
Nog 12 helder ligte verskyn. Een daarvan is sint Bonaventura, 'n Franciskaan, wat vertel van die lewe van sint Dominikus, die stigter van die orde waartoe Thomas behoort het. Die twee ordes het op aarde nie altyd langs dieselfde vuur gesit nie, en om te hoor hoe 'n lid van een orde die stigter van die ander prys, wys die liefde wat in die hemel teenwoordig is[12] (Kanto XII). Die 24 helder ligte draai om Dante en Beatrice en sing van die Drie-eenheid.
Vyfde sfeer (Mars: die stryders van die geloof)
Die planeet Mars word tradisioneel met die god van oorlog verbind, en daarom maak Dante dié planeet die tuiste van die stryders van die geloof wat hulle lewens vir God gegee het en so die deug regverdigheid verteenwoordig.[13] Die miljoene ligpunte wat die siele van dié stryders is, vorm 'n Griekse kruis op die planeet Mars, en Dante vergelyk die kruis met die Melkweg (Kanto XIV).
Dante ontmoet sy voorouer Cacciaguida, wat in die Tweede Kruistog gedien het.[14] Cacciaguida prys die 12de-eeuse Republiek Florence en kla oor hoe die stad sedert daardie dae agteruitgegaan het (Kanto's XV en XVI). Die tyd waarin die Goddelike Komedie afspeel, die jaar 1300, voor Dante se verbanning, laat toe dat karakters in die gedig slegte dinge vir Dante kan "voorspel".[15] In antwoord op 'n vraag van Dante vertel Cacciaguida hom hy sal verban word (Kanto XVII).
Cacciaguida spoor Dante egter ook aan om te skryf en aan die wêreld te vertel wat hy alles van die hel, vaevuur en hemel gesien het.[15] Eindelik sien Dante ook ander stryders van die geloof, soos Josua, Karel die Grote en Godfried van Bouillon (Kanto XVIII).
Sesde sfeer (Jupiter: die regverdige heersers)
Die planeet Jupiter word tradisioneel verbind met die koning van die gode, en daarom maak Dante dit die tuiste van die heersers wat regverdigheid getoon het.[16] Die siele hier spel die frase Diligite iustitiam, qui iudicatis terram, die Latyn vir "Wees lief vir regverdigheid, julle wat die aarde oordeel", waarna die laaste "M" van die sin in die vorm van 'n reuse- keiserlike arend verander[16] (Kanto XVIII).
In dié sfeer is Dawid, Hiskia, Konstantyn en Willem II van Sisilië, sowel as twee heidene: Trajanus (wat hom volgens 'n Middeleeuse legende tot die Christendom bekeer het) en (tot Dante se verbasing) Rifeo, 'n Trojaan wat deur die genade van God gered is in 'n daad van uitverkorenheid.[17][18] Trajanus het voorheen in die Goddelike Komedie verskyn as 'n voorbeeld van nederigheid op die terras van trots. Op dié terras sien Dante vir Trajanus omring deur sy soldate op pad na 'n militêre verowering, maar Trajanus hou stil toe 'n treurende vrou hom vra om regverdiging te laat geskied aan haar seun, wat vermoor is.[19][18]
Dante vra dan 'n engel oor die toeganklikheid van die hemel vir mense wat voor Christus gelewe het of in 'n gebied woon wat nog nie van Hom gehoor het nie (Kanto XIX). As voorbeeld noem hy 'n man van die Indus wat goeie dade gepleeg het, nie van Christus gehoor het nie en sterf sonder dat hy gedoop is.
Hierop antwoord die engel die kern van redding is die geloof dat Jesus Christus die Messias is; dit maak nie saak of iemand voor of ná Christus, in Florence of aan die Indus gebore is nie, hy of sy kan glo dat Christus sal kom of gekom het om die mens te red. Daarom sal die man wat Dante as voorbeeld noem ook in die hemel kan kom.
Sewende sfeer (Saturnus: die peinsendes)
Die sfeer van Saturnus is dié van die peinsendes, wat gematigheid simboliseer.[20] Dante ontmoet hier die kardinaal Petrus Damiani en bespreek met hom monastisisme, die leerstelling van uitverkorenheid en die jammerlike toestand van die kerk.[21]
Dante ontmoet ook sint Benediktus, wat die wêreldsheid van sy eie monnike betreur (Kanto's XXI en XXII). Beatrice, wat teologie verteenwoordig, verduidelik die peinsendes se groter insig in die waarheid van God.
Agtste sfeer (die vaste sterre: geloof, hoop en liefde)
Die sfeer van die vaste sterre is die sfeer van die seëvierende kerk.[22] Van hier af (eintlik van die sterrebeeld Tweeling af waaronder Dante gebore is), kyk Dante terug na die sewe sfere wat hy al besoek het en neer op die aarde (Kanto XXII).
Dante sien die Maagd Maria en ander heiliges (Kanto XXIII). Petrus toets Dante oor geloof; hy vra hom wat dit is en of Dante dit het. In antwoord op Dante se antwoorde, vra Petrus hom hoe hy weet die Bybel is waar, en Dante noem die wonder van die kerk se groei van 'n nederige begin (Kanto XXIV).
Jakobus die ouere[23] vra Dante oor hoop en Beatrice bevestig dat hy dit het (Kanto XXV).
Eindelik vra sint Johannes Dante oor liefde (Kanto XXVI). Petrus keur pous Bonifatius VIII baie sterk af en sê volgens hom is die pouslike stoel leeg (Kanto XXVII).
Negende sfeer (die primum mobile: die engele)
Die primum mobile ("eerste bewegende sfeer") is die buitenste sfeer van die fisiese heelal. Dit word regstreeks deur God beweeg, en sy beweging laat al die binneste sfere beweeg[24] (Kanto XXVII).
Die primum mobile is die blyplek van die engele en hier sien Dante God as 'n intense helder ligpunt omring deur nege ringe engele (Kanto XXVIII). Beatrice verduidelik die skepping van die heelal en die rol van die engele.
Die hoogste hemel
Van die primum mobile klim Dante op na 'n streek buite fisieke bestaan, die hoogste hemel, wat die woonplek van God is. Beatrice, wat teologie verteenwoordig,[25] is hier nog beeldskoner as tevore. Dit sluit aan by haar rol in die gedig om Dante te help en reinig sodat hy kan hoër gaan.[26] Dante word omring deur lig; eers verblind dit hom en dan stel dit hom in staat om God te sien[25] (Kanto XXX).
Dante sien 'n enorme roos, wat goddelike liefde simboliseer,[25] waarvan die blare die siele van die gelowiges op trone is (beide dié van die Ou en Nuwe Testament). Al die siele wat hy in die hemel ontmoet het, insluitende Beatrice, het 'n tuiste in die roos.[25] Engele vlieg rond soos bye en versprei vrede en liefde. Beatrice keer nou terug na haar plek in die roos en dui daarmee aan Dante het verby teologie beweeg toe hy God sien.[27] Sint Bernardus, as 'n mistiese peinsende, is nou Dante se gids (Kanto XXXI), en hy beskryf die hemelse roos en sy bewoners.[28] (Sint Bernardus kan God verteenwoordig, want hy heet die pelgrim welkom in die hoogste hemel, waarna Dante God kan sien; net so kan Beatrice die Heilige Gees verteenwoordig, want sy reinig Dante en bring hom na sint Bernardus en die hoogste hemel.[29])
Tien vroue en agt mans word in die hoogste hemel aan Dante uitgewys; die vroue verskyn in 'n hiërargie waarin Maria aan die hoof is en Eva reg onder haar, gevolg deur sewe ander Bybelse vroue en Beatrice.[30] Die feit dat daar meer vroue as mans is, herinner aan die begin van die Inferno, waarin baie vroue in die voorhel voorkom.[31]
Sint Bernardus verduidelik uitverkorenheid verder en bid namens Dante tot die Maagd Maria. (Die hoogste hemel is vol elemente van Maria, soos die twee syfers van die kanto se nommer, 32, wat bymekaargetel 5 is. Dit kan Maria verteenwoordig omdat haar naam uit vyf letters bestaan en haar ondervindings blykbaar in stelle van vyf voorkom.)[30]
Eindelik kom Dante vierkant voor God te staan (Kanto's XXXII en XXXIII). God lyk soos drie ewe groot sirkels wat dieselfde ruimte beslaan, verteenwoordigend van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.[32] In die sirkels kan Dante die menslike vorm van Christus uitmaak. Die Goddelike Komedie eindig met Dante wat probeer uitwerk hoe die sirkels inmekaarpas, en hoe die menslikheid van Christus aansluiting vind by die goddelikheid van die Seun. Maar, soos Dante dit stel: "dit was nie 'n vlug vir my vlerke nie".[33]
In 'n flits van begrip, wat hy nie kan uitdruk nie, sien Dante dit eindelik, en sy siel kom in lyn met God se liefde.[32]
Sien ook
Verwysings
- C.S. Lewis, The Discarded Image: An Introduction to Medieval and Renaissance Literature, Hoofstuk V, Cambridge University Press, 1964.
- Paradiso, Canto IV, line 38, Mandelbaum translation.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto II.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto III.
- Paradiso, Canto V, lines 28–29, Mandelbaum translation.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto V.
- Paradiso, Canto VI, line 10, Mandelbaum translation.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto VI.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto VIII.
- Inferno, Canto XII, line 109, Mandelbaum translation: "That brow with hair so black is Ezzelino."
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto X.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XI.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XIV.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XV.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XVII.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XVIII.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XX.
- Raffa, Guy (2002). "Jupiter: Notes". Danteworlds. Besoek op 2 Januarie 2022.
{{cite web}}
: AS1-onderhoud: url-status (link) - Purgatorio, Canto X, lines 73–93, Durling translation.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XXI.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XXII.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XXIII.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XXV.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XXVII.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XXX.
- Barolini, Teodolinda (2005). "Lifting the Veil?: Notes toward a Gendered History of Early Italian Literature". In Barolini, Teodolinda (red.). Medieval Constructions in Gender and Identity: Essays in Honor of Joan M. Ferrante. Medieval & Renaissance Texts & Studies 293. Tempe: Arizona Center for Medieval and Renaissance Studies. p. 172. ISBN 9780866983372.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XXXI.
- Ferrante, Joan M. (2000). "Beatrice". In Lansing, Richard (red.). The Dante Encyclopedia. p. 99. doi:10.4324/9780203834473. ISBN 9780415876117.
- Seung, T. K. (1979). "The Epic Character of the Divina Commedia and the Function of Dante's Three Guides". Italica. 56 (4): 352–368. doi:10.2307/478663. ISSN 0021-3020. JSTOR 478663.
- Kirkham, Victoria (1989). "A Canon of Women in Dante's Commedia". Annali d'Italianistica. 7: 16–41. ISSN 0741-7527. JSTOR 24003857.
- Olson, Kristina (2020). "Conceptions of Women and Gender in the Comedy". In Kleinhenz, Christopher; Olson, Kristina (reds.). Approaches to Teaching Dante's Divine Comedy (2de uitg.). Approaches to Teaching World Literature. New York: Modern Language Association. p. 113.
- Dorothy L. Sayers, Paradise, notes on Canto XXXIII.
- Paradiso, Canto XXXIII, line 139, C.H. Sisson translation.
Skakels
- World of Dante, multimediawebtuiste met teks, vertaling, kaarte en deursoekbare databasis vir studente en onderwysers, by die Universiteit van Virginië
- Princeton Dante Project Geargiveer 3 Junie 2009 op Wayback Machine, volledige teks van Dante se werk in Italiaans en Engels, Universiteit van Princeton
- Dante Dartmouth Project, teks van meer as 70 Italiaanse, Latynse en Engelse kommentare op die Komedie, van 1322 tot die 2000's
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Paradiso (Dante).
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.