Ou Ryk van Egipte
Die Ou Ryk van Egipte is die naam wat gegee word aan die tydperk van Antieke Egipte omstreeks die 3de millennium v.C. toe die land die eerste hoogtepunt van sy beskawing bereik het. Dit was die eerste van drie sogenaamde koninklike periodes wat die hoogtepunte van beskawing in die laer Nylvallei aandui (die ander twee is die Middelryk en die Nuwe Ryk).
Die term is deur 18de-eeuse historici begin gebruik om ’n onderskeid te tref tussen die Ou Ryk en die Vroegdinastiese Tydperk. Die Antieke Grieke sou nie self so ’n onderskeid geken het nie. Nie net was die laaste koning van die Vroegdinastiese Tydperk familie van die eerste twee konings van die Ou Ryk nie; die hoofstad was in albei gevalle Ineb-Hedg, die antieke Egiptiese naam vir Memphis. Die skeiding tussen die twee tydperke dui eerder op die groot verandering in argitektuur en die uitwerking van grootskaalse bouwerk op die gemeenskap en ekonomie.[1]
Die Ou Ryk word gewoonlik beskou as die tydperk van die 3de tot die 6de Dinastie (2686–2181 v.C.). Sommige Egiptoloë sluit ook die 7de en 8ste Dinastie in. Terwyl die Ou Ryk gekenmerk is deur interne sekuriteit en vooruitgang, is dit gevolg deur ’n periode van onenigheid en kulturele agteruitgang, wat deur Egiptoloë die Eerste Oorgangstydperk genoem word.[2]
Tydens die Ou Ryk het die koning ’n lewende god geword wat absolute mag gehad het en enigiets van sy onderdane kon eis.[3]
Verwysings
- Malek, Jaromir. 2003. "The Old Kingdom (c2686–2160 BC)". In The Oxford History of Ancient Egypt, edited by Ian Shaw. Oxford and New York: Oxford University Press. ISBN 978-0-19-815034-3, p.83
- Carl Roebuck, The World of Ancient Times, pp. 55 & 60.
- Carl Roebuck, The World of Ancient Times, p. 56.