Oeralgebergte
Die Oeralgebergte of kortweg Oeral (Russies: Ура́льские го́ры; Oeralskije gori) is ’n bergreeks wat rofweg noord-suid deur Wes-Rusland loop. Dit word gewoonlik beskou as die natuurlike grens tussen Europa en Asië, maar ook as die westelike grens van Siberië.
Die bergreeks strek 2 498 km van die Kazachse steppe al langs die noordelike grens van Kazachstan tot by die kus van die Noordelike Yssee, maar is met 'n gemiddeld van sowat 50 km betreklik smal. Die eilande Waigatsj en Nowaja Zemlja vorm ’n verlenging van die reeks. Die hoogste punt is Berg Narodnaja (1 895 m).
Erosie het ’n aansienlike rykdom aan minerale, edelstene en halfedelstene in die Oeral ontbloot, onder andere ystererts, goud en platinum en edelstene soos malagiet, topaas en beril. Die geskiedenis van mynbou in die gebergte strek terug tot in die 17de eeu toe onder tsaar Pieter die Grote met die ontginning en verwerking van ystererts vir die wapenbedryf begin is. Die Maagdelike Komi-woude in die noorde word beskou as ’n wêrelderfenisgebied.
Die bergreeks word in vyf streke verdeel: die Suid-, Midde-, Noord-, Subarktiese en Arktiese Oeral. Veral die Suid- en Midde-Oeral is ryk aan mineraalskatte wat ook die basis vir die streek se industrialisering in die 20ste eeu gevorm het.
Industriële hartland van Rusland
Die Oeral het in die Sowjetunie tot een van die mees geïndustrialiseerde gebiede ontwikkel. 'n Nuwe nywerheidstad, Magnitogorsk, is tydens Josef Stalin se bewind vanaf 1929/1930 in 'n rekordtyd deur die Duitse argitek en stadsbeplanner Ernst May (1886−1970) nuut beplan en gebou - as die prototipe van 'n sosialistiese stad en stedelike fabriekskompleks waarin 'n plattelandse bevolking van boere in nywerheidswerkers omgeskep sou word.[1]
Ná die Duitse inval in 1941 het 'n nuwe fase in die Oeral se ekonomiese ontsluiting begin met die grootskaalse verskuiwing van meer as 1 300 nywerheidsaanlegte en honderdduisende mense uit die weste van Rusland en uit Oekraïne na die westelike voetheuwels van die Oeralgebergte. Die gebied met die grootste staal- en wapenbedryf ter wêreld was buite die bereik van die Duitse leër en lugmag, en gou kon die Sowjetunie se industriële kapasiteite verdriedubbel word. Die Oeral het die Rooi Leër van sowat veertig persent van sy militêre uitrusting voorsien. Geskiedkundiges beskou Stalin se besluit om nywerheidsaanlegte na die Oeralreeks te verskuif dan ook as een van die beslissende faktore wat bygedra tot die Sowjet-Russiese oorwinning in die oorlog teen Nazi-Duitsland.[2]
Eksterne skakel
Galery
- Die Tsjoesowaja-rivier in die Oeral.
- Die Arktiese Oeral, in Workoeta, Komi.
- ’n Myn in die Oeral, 1910.
Verwysings
- Regina Gödecke: Spätkoloniale Moderne: Le Corbusier, Ernst May, Frank Lloyd Wright, The Architects Collaborative und die Globalisierung der Architekturmoderne. Basel: Birkhäuser 2016, bl. 136
- Insight Guides: Russia. Vierde uitgawe 2016. Insight Guides / APA Publications 2016, bl. 244