Oeljanofsk
Oeljanofsk (Russies: Улья́новск) is ’n stad in Rusland en die hoofstad van die federale deelgebied Oeljanofsk-oblast. Dit is aan die Wolga-rivier geleë, 893 km oos van Moskou. Die bevolking in 2014 was 616 672.[1]
- Vir ’n artikel oor die oblast met dieselfde naam, sien Oeljanofsk-oblast.
Oeljanofsk Ульяновск | |
---|---|
Stad | |
Vlag Wapen | |
Die ligging van Oeljanofsk-oblast in Rusland | |
Oeljanofsk Die ligging van Oeljanofsk in Oeljanofsk-oblast | |
Koördinate: 54°19′N 48°22′O | |
Land | Rusland |
Deelgebied | Oeljanofsk-oblast |
Stigting | 1648 |
Regering | |
• Tipe | Stad-okroeg |
• Burgemeester | Marina Bespalowa |
Oppervlak | |
• Totaal | 316 km2 (122 vk. myl) |
Bevolking | |
• Totaal | 616 672 |
Tydsone | UTC+04:00 |
Webwerf | http://www.ulmeria.ru/ |
Die stad, wat as Simbirsk (Симби́рск) gestig is, is die geboortestad van Wladimir Lenin (gebore Wladimir Oeljanof). Dit is ná Lenin se dood in 1924 na hom hernoem.
Dit is bekend vir sy skrywers soos Iwan Gontsjarof, Nikolai Jazikof en Nikolai Karamzin en skilders soos Arkadi Plastof en Nikas Safronof. Oeljanofsk is sedert 2015 ’n Unesco-stad van Letterkunde.[2]
Geskiedenis
Simbirsk is in 1648 deur die bojaar Bogdan Chitrowo gestig.[3] Die fort "Simbirsk" (alternatiewelik "Sinbirsk") was strategies geleë op ’n heuwel aan die westeroewer van die Wolgarivier. Dit het die oosgrens van die Russiese Ryk teen nomadiese stamme beskerm en ’n permanente keiserlike teenwoordigheid in die gebied geskep.
In 1668 het Simbirsk ’n maand lange beleg deur ’n leër van 20 000 soldate onder aanvoering van die Kosak en rebelleleier Stenka Razin deurstaan. ’n Ander rebel, Jemeljan Poegatsjof, is hier gevange gehou voordat hy tereggestel is. In dié tyd het Simbirsk ’n houtkremlin gehad, maar dit is in die 18de eeu deur ’n brand verwoes.
Namate die oosgrens van die Russiese Ryk al hoe dieper in Siberië ingeskuif het, het Simbirsk sy strategiese belangrikheid verloor. Tog het dit tot ’n belangrike streeksentrum ontwikkel. In 1796 het Simbirsk stadstatus gekry.
Simbirsk was toe gewild onder die aristokrasie, en benewens sy kerke het dit ’n raadsaal van edelmanne met ’n manjifieke biblioteek gehad.[4] Die Katedraal van die Heilige Drie-eenheid is tussen 1827 en 1841 in ’n neoklassieke styl gebou. In die somer van 1864 is die grootste deel van Simbirsk in ’n brand verwoes ná vermeende brandstigting. Dit is egter vinnig herbou en het aanhou groei. In 1856 was sy bevolking 26 000 en in 1897 altesaam 43 000.
In 1924 is die stad tot Oeljanofsk hernoem ter ere van Wladimir Oeljanof, beter bekend as Lenin, wat in 1870 in Simbirsk gebore is.
Met die bou van ’n hidroëlektriese aanleg 200 km van Oeljanofsk wat in 1957 voltooi is, is aansienlike dele grond beide noord en suid van die stad oorstroom en het die breedte van die Wolga op plekke met tot 35 km toegeneem. Tot vandag lê sommige woongebiede van Oeljanofsk ver onder die vlak van die reservoir en word dit deur ’n dam teen vloedwater beskerm.
Daar word geraam dat sowat 5% van die bevolking met water van tot 10 m oorspoel kan word as die dam breek.
In die Sowjettyd was Oeljanofsk ’n belangrike toerismesentrum en het dit besoekers van oor die land gelok danksy sy rewolusionêre belangrikheid. Ná die verbrokkeling van die Sowjetunie het die belangrikheid van die stad aansienlik afgeneem.
In die 1990's het dit deur ’n moeilike tyd gegaan – met ’n afname in alle sektore en groot werkloosheid. In die eerste dekade van die 2000's het die ekonomie weer begin groei.
Demografie
In 2008 was daar altesaam 6 774 geregistreerde geboortes en 8 054 sterftes in Oeljanofsk.[5]
Sowat 78% van die inwoners is Russe, 10% Tatare, 6% Tsjoewasjiërs, 2% Mordwiene en 1% Duitsers.
Klimaat
Oeljanofsk het ’n vogtige kontinentale klimaat (Köppen-klimaatklassifikasie Dfb). Die gemiddelde temperatuur is -9,8 °C in Februarie en 20 °C in Julie. In die herfs is dit gewoonlik warm, met sneeu wat middel November begin val. Die winters is soms koud. Die somer begin in middel Mei. Die reënval is gemiddeld sowat 480 mm per jaar. Die stad ervaar dikwels matige droogtes.
Op 2 Augustus 2010 is ’n maksimum temperatuur van 39,3 °C aangeteken, wat ’n rekordhittegolf was.
Toerisme
Toerisme is ’n groeiende bedryf in die stad en omliggende gebiede danksy die Wolga-mikroklimaat en die historiese belangrikheid van Simbirsk.[6] Verskeie hotelle kom in die middestad voor.
Die streek Oendori, wat binne ryafstand van Oeljanofsk is, is bekend vir sy spa's en mineraalwater. Die waterbronne van Oendori is al langer as 200 jaar bekend. Die stad het ook baie geleenthede vir sportgeesdriftiges. Die streke om die stad is ideaal vir buitelug- en watersport.
Verwysings
- Russian Federal State Statistics Service (2014). "Таблица 1.3. Численность населения Крымского федерального округа, городских округов, муниципальных районов, городских и сельских поселений" [Table 1.3. Population of Crimean Federal District, Its Urban Okrugs, Municipal Districts, Urban and Rural Settlements]. Федеральное статистическое наблюдение «Перепись населения в Крымском федеральном округе». ("Population Census in Crimean Federal District" Federal Statistical Examination) (in Russian). Federal State Statistics Service. Besoek op 4 Januarie 2016.
- "UNESCO City of Literature". ulyanovskcreativecity.ru. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Junie 2019. Besoek op 17 Mei 2019.
- http://ulpressa.ru/2013/12/18/ot-bogdana-hitrovo-do-bogdana-hitrovo-2/
- A Russian Conflagration, Mount Alexander Mail, 16 November 1864, p3.
- http://www.regnum.ru/news/1112275.html
- http://www.lonelyplanet.com/russia/volga-region/ulyanovsk
Eksterne skakels
- Inligting (en)
- Oeljanofsk-portaal (ru)
- Geskiedenis (ru)
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Oeljanofsk.
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.