Novi Beograd

Novi Beograd of Nieu-Belgrado (Serwies-Cyrillies: Нови Београд, [nôʋiː beǒɡrad]) is die mees bevolkte munisipaliteit van Belgrado, die hoofstad van Serwië, met 'n bevolking van nagenoeg 400 000 en 'n oppervlakte van 40,74 km².

Genex-toring, die bekendste landmerk van Novi Beograd
Ada-brug

Novi Beograd
Нови Београд

Kaart Wapen
Vlag
 Land Vlag van Serwië Serwië
 Koördinate 44°48′N 20°25′O
 Stigting 1947/1948
 Oppervlakte:  
 - Totaal 40,96 vk km
 Hoogte bo seevlak 117 m
 Bevolking:  
 - Totaal (2011) 212 104
 - Bevolkingsdigtheid 5 200/vk km
 Tydsone UTC +1 (MET)
 - Somertyd UTC +2 (MEST)
 Munisipaliteitspresident Aleksandar Šapić (SPAS)
 Amptelike Webwerf novibeograd.rs

Dit is 'n beplande stad wat vanaf 1947 op die linkeroewer van die Savarivier ontstaan het – 'n gebied net teenoor die historiese middestad van Belgrado wat voorheen onbewoon was. Novi Beograd het intussen tot die nuwe finansiële sentrum van Belgrado en sy snelste groeiende stadsdeel ontwikkel. Vanweë sy moderne infrastruktuur en die beskikbare oop ruimtes het talle ondernemings hulle hier gevestig.

Geografie

Novi Beograd is op die linkeroewer van die Sava en in die oostelikste deel van die gewes Srem geleë. In administratiewe opsig strek die munisipaliteit in die noordooste tot by die regteroewer van die Donau, net voor die samevloeiing van die Sava met dié Europese stroom.

Die nuwe stadsdeel is wes van die ou stadsgebied geleë en word deur vyf brûe – die Gazela-, Branko-, Ou en Nuwe Beograd-spoorwegbrug ('n sesde brug is in aanbou) met die historiese Belgrado verbind. Die Europese roete E75 loop deur die sentrum van Novi Beograd.

Novi Beograd se fisiese hoofkenmerk is sy heeltemal plat terrein wat met die heuwelagtige stadsgebied van Ou Belgrado met altesaam 32 heuwels kontrasteer. Behalwe vir sy westelike deel, Bežanija, het Novi Beograd vanaf 1947/1948 op 'n vroeëre moerasland ontstaan. Jare lank is sand van die Donau-eiland Malo Ratno Ostrvo op 'n lang vervoerband na die bouterrein geneem. Die riviereiland het in die proses byna heeltemal verdwyn – tans is daar nog net 'n smal beboste strokie land.

Ander geografiese bakens is die skiereiland Mala Ciganlija en die eiland Ada Medica, wat albei in die Savarivier geleë is, en die Zimovnik-baai (letterlik "winterbeskerming") wat deur Mala Ciganlija omring word. Hier het die Beograd-skeepswerf ontstaan. Die loess-sandhelling Bežanijska Kosa is in die westelike deel van die munisipaliteit geleë, terwyl die Galovica-rivierkanaal in die suide in die Sava vloei.

Alhoewel daar geen egte bosse in Novi Beograd aangetref word nie, het die stadsdeel die mees uitgestrekte groen ruimtes van Belgrado se munisipaliteite. Hulle beslaan 3,47 km² (of 8,5 persent van die totale oppervlakte). Die grootste oop ruimte is die Novi Beograd-Ušće-park. Ook Belgrado se jongste park, Park Republika Srpska, is in 2008 in Novi Beograd aangelê.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.