Nova Friburgo
Nova Friburgo is 'n stad in die Brasiliaanse deelstaat Rio de Janeiro met 'n oppervlak van 932,635 vierkante kilometer en 182 016 inwoners (2010). Die stad lê sowat 846 meter bo seevlak in die bergreeks Serra Fluminense, 130 kilometer noord-oos van die stad Rio de Janeiro. Die argitektuur, kultuur en leefstyl van Nova Friburgo is baie sterk deur Switserse, Duitse en ander Middel-Europese setlaars beïnvloed.
Nova Friburgo | |
---|---|
Kaart | Wapen |
Vlag | |
Land | Brasilië |
Deelstaat | Rio de Janeiro |
Koördinate | 22°16′S 42°31′W |
Stigting | 16 Mei 1818 |
Oppervlakte: | |
- Totaal | 932,635 vk km |
Hoogte bo seevlak | 846 m |
Bevolking: | |
- Totaal (November 2010) | 182 016 |
- Bevolkingsdigtheid | 195,16/vk km |
Tydsone | UTC -3 |
- Somertyd | UTC -2 |
Burgemeester | Maria da Saudade Medeiros Braga |
Amptelike Webwerf | novafriburgo.rj.gov.br |
Geskiedenis
Nova Friburgo is in 1820 deur Switserse immigrante uit Fribourg (Wes-Switserland) gestig, wat hulle met die toestemming van koning Johan VI van Portugal in die jaar 1818 in Brasilië gevestig het. Die oorspronklike, volledige naam van die stad was São João Batista de Nova Friburgo. Nova Friburgo het danksy 'n groot aantal latere immigrante, onder meer uit Duitsland, vinnig gegroei. Sy gematigde klimaat het die ontwikkeling van 'n welvarende landbousektor bevorder.
Geografie
'n Aantal belangrike riviere ontspring in die omgewing van Nova Friburgo, waaronder Rio Grande, Rio Bengalas, Rio Macaé, Rio Cônego en Rio Santo Antôno.
Ekonomie
Nova Friburgo se ekonomie steun nog sterk op die landbousektor (wat veral groentes en kalkoene oplewer), maar het ook tot 'n belangrike toeristebestemming ontwikkel. Die nywerheidsektor het hom op tekstiele (veral onderklere) toegespits.
Eksterne skakels
Wikimedia Commons bevat media in verband met Nova Friburgo. |