Nieu-Guinee

Nieu-Guinee of Papoea-eiland (Engels: New Guinea; Tok Pisin: Niugini; Nederlands: Nieuw-Guinea; Indonesies: Papua of, histories, Irian; Duits: Neuguinea), die wêreld se tweede grootste eiland na Groenland, beslaan 'n oppervlakte van 786 000 km² en is in die westelike Stille Oseaan net suid van die ewenaar geleë. Geografies is dit oos van die Maleise argipel, waarby dit soms ingesluit word as deel van 'n groter Indo-Australiese argipel.[1] Geologies maak dit, aaneenlopend met Australië, deel uit van die Sahoel-kontinent,[2][3] ook bekend as die Groter-Australië.[4] Die twee landmassas is van mekaar geskei toe die area, bekend as die Torres-straat oorvloei is na die laaste Ystydperk. Antropologies word dit as 'n deel van Melanesië beskou. Polities omvat die westelike helfte van die eiland twee Indonesiese provinsies: Papoea en Wes-Papoea. Die oostelike helfte vorm die vasteland van die eilandnasie Papoea-Nieu-Guinee. Nieu-Guinee het 'n bevolking van sowat 7,5 miljoen, wat 'n baie lae bevolkingsdigtheid meebring van 8 inwoners/km².

Nasa-Satellietbeeld van Nieu-Guinee, oftewel Papoea-eiland
Historiese politiese situasie op Nieu-Guinee tussen 1884 en 1919
Huidige politiese situasie op Nieu-Guinee
Nieu-Guinee of Papoea-eiland
Inheemse naam: Papua / Niugini
Kaart van Nieu-Guinee
Kaart van Nieu-Guinee
Geografie
LiggingMelanesië, Stille Oseaan
Koördinate5°30′S 141°00′O
ArgipelMaleise argipel

Oppervlakte786 000 vk km
Hoogste puntPoensjak Djaia 4 884 m
Administrasie
Vlag van Indonesië Indonesië
ProvinsiesPapoea, Wes-Papoea

HoofstadDjajapoera
Grootste stadDjajapoera (200 000)
Vlag van Papoea-Nieu-Guinee Papoea-Nieu-Guinee
ProvinsiesSentraal, Simbu, Oostelike Hooglande, Oos-Sepik, Enga, Gulf, Madang, Morobe, Oro, Suidelike Hooglande, Westelike Provinsie, Westelike Hooglande, Wes-Sepik, Milne Bay, National Capital District
HoofstadPort Moresby
Grootste stadPort Moresby (307 643)

Demografie
Bevolking11 306 940
BevolkingsgroepePapoea en Austronesiese
Die wêreld se tweede grootste eiland

Nieu-Guinee word onderskei van sy droër, meer gelyke,[5] en minder vrugbare[6][7] suidelike eweknie, Australië, deur die aktiewe vulkaniese geologie, met die hoogste punt, Poensjak Djaia (of Carstenszpiramide), wat reik tot 'n hoogte van 4 884 m (16 023 vt). Tog deel die twee landmassas 'n soortgelyke fauna, met buideldiere, insluitend wallabies en possums, en die eierlêende monotreem, die mierystervark, of echidna. Buiten vlermuise en sowat twee dosyn inheemse knaagdiergenera,[8] is daar, buiten die mens, geen inheemse plasentale soogdiere nie. Varke, verskeie bykomende rotsoorte, en die voorouer van die Nieu-Guinese singende hond het weens menslike kolonisering die eiland binnegekom.

Menslike teenwoordigheid op die eiland dateer minstens 40 000 jaar terug na die oudste mensemigrasies uit Afrika. Navorsing dui dat 'n vroeë en onafhanklike landboukultuur in die hooglande gevestig is, met getuienis van waterleidings wat minstens 10 000 jaar terugdateer.[9] Weens die ruime tydsbestek van die eiland se bewoning, en die hoogsgefragmenteerde landskap, word 'n groot getal tale hier gebesig, met om en by 1 000 ('n groter getal as dié van meeste kontinente) wat gekatalogiseer is uit 'n geraamde wêreldwye pre-Colombiaanse totaal van 6 000 mensdialekte. Meeste word geklassifiseer as Papoeastale, 'n algemeen aanvaarde geografiese term wat 'n minderheid outeurs voorhou as 'n generiese term. 'n Aantal Austronesiese tale word aan die kuslyn en aanliggende eilande gepraat.

In die 16de eeu is die eiland Nueva Guinea genoem deur die Spaanse ontdekkers daarvan. In die onlangse geskiedenis was westelike Nieu-Guinee ingesluit in die Nederlands-Oos-Indiese kolonie. Die Duitsers het die noordkus van die eiland se oostelike helfte geannekseer as Duits-Nieu-Guinee in hul voor–Eerste-Wêreldoorlogse koloniale uitbreiding. Volgend op die Verdrag van Versailles is die Duitse afdeling aan Australië toegeken (wat reeds aanspraak op die suidooste gemaak het, as die sg. Territorium van Papoea) as 'n Volkebond-mandaat. Die oostelike helfte van die eiland het in 1975 onafhanklikheid van Australië verkry as Papoea-Nieu-Guinee. Die westelike helfte het in 1961 onafhanklikheid van Nederland verkry, maar het kort hierop gestem om by Indonesië ingesluit te word.

Die belangrikste stede op Nieu-Guinee is Djajapoera in Indonesië en Port Moresby, die hoofstad van Papoea-Nieu-Guinee. Nieu-Guinee word begrens deur die Arafurasee in die suidweste, die Seramsee in die weste, die oop Stille Oseaan in die noorde, die Bismarcksee in die noordooste, die Salomonssee in die ooste, die Koraalsee in die suidooste en die Torres-straat in die suide.[10] Nieu-Guinee huisves die grootste tropiese reënwoud van Australasië, die rykste koraalriwwe in die wêreld en die rykste biodiversiteit buite die Amasonebekken.

Sien ook

Verwysings

  1. (en) Wallace, Alfred Russell (1863). "On the Physical Geography of the Malay Archipelago". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Januarie 2010. Besoek op 30 November 2009.; Wallace, Alfred Russel (1869). The Malay Archipelago. Londen: Macmillan and Co. p. 2.
  2. (en) Ballard, Chris (1993). "Stimulating minds to fantasy? A critical etymology for Sahul". Sahul in review: Pleistocene archaeology in Australia, New Guinea and island Melanesia: 19–20, Canberra: Australian National University. ISBN 0-7315-1540-4.
  3. (en) Allen, J. (1977). J. Golson en R. Jones (red.). Sunda and Sahul: Prehistorical studies in Southeast Asia, Melanesia and Australia. Londen: Academic Press. ISBN 0-12-051250-5.
  4. (en) Allen, Jim; Gosden, Chris; Jones, Rhys; White, J. Peter (1988). "Pleistocene dates for the human occupation of New Ireland, northern Melanesia". Nature. 331 (6158): 707–709. doi:10.1038/331707a0.
  5. Macey, Richard (21 Januarie 2005). "Map from above shows Australia is a very flat place" (in Engels). The Sydney Morning Herald. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Oktober 2017. Besoek op 5 April 2010.
  6. (en) Kelly, Karina (13 September 1995). "A Chat with Tim Flannery on Population Control". Australian Broadcasting Corporation. Besoek op 23 April 2010. "Wel, Australië het by verre die wêreld se mins vrugbare grond".
  7. (en) Grant, Cameron (Augustus 2007). "Damaged Dirt" (PDF). The Advertiser. Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 16 Mei 2011. Besoek op 23 April 2010. "Australië het die oudste, mees verweerde gronde op die planeet."
  8. (en) Lidicker, W. Z., Jr. (1968). "A Phylogeny of New Guinea Rodent Genera Based on Phallic Morphology". Journal of Mammalogy. 49 (4): 609–643. doi:10.2307/1378724.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  9. (en) "Die span het ook hooftrekke gedateer wat ooreenkom met die plant, grawe, en vasbind van plante, en gelokaliseerde waterleidingstelsels tot 10 000 jaar gelede. Saamgehoopte holms vir water-intolerante plante soos piesangs, suikerriet en jamme word gedateer na sowat 6 500 jaar gelede." "Was Papua New Guinea an Early Agriculture Pioneer?", deur John Roach, vir National Geographic News, 23 Junie 2003
  10. "New Guinea" (in Engels). Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Mei 2020. Besoek op 18 April 2020.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.