Nelson Algren
Nelson Algren (Detroit, 28 Maart 1909 – Sag Harbor, New York, 9 Mei 1981) was 'n Amerikaanse skrywer.
Nelson Algren | |
---|---|
Nelson Algren in 1956 | |
Gebore | Nelson Ahlgren Abraham 28 Maart 1909 |
Sterf | 9 Mei 1981 (op 72) Sag Harbor, New York |
Nasionaliteit | Verenigde State |
Beroep | skrywer |
Eggenoot | Amanda Kontowicz (huwelik in 1937; geskei) Betty Ann Jones (1965-1967; geskei) |
Ouer(s) | Goldie (née Kalisher) Gerson Abraham |
Vroeë jare
Hy is gebore as Nelson Ahlgren Abraham in Detroit, Michigan, Verenigde State. Algren trek na Chicago, Illinois saam met sy ouers toe hy drie jaar oud was. Hulle woon in 'n werkerklas-, immigrantebuurt in die suide van die stad. Sy ma het 'n lekkergoedwinkel besit. Sy pa was die seun van 'n Sweedse bekeerling na Judaïsme en het as 'n motorwerktuigkundige gewerk. Algren was 'n skolier aan die Roosevelt High School.
Na skool studeer Algren joernalistiek aan die Universiteit van Illinois. Hy behaal sy graad in 1931, gedurende die Groot Depressie. Hy skryf sy eerste storie, "So Help Me" in 1933, terwyl hy in Texas as 'n patrolieman werk. Voordat hy terugkeer huis toe word hy gevang waar hy 'n tikmasjien uit 'n leë klaskamer steel. Hy word hiervoor tronk toe gestuur met die moontlikheid van drie jaar tronkstraf. Hy word egter na 'n maand vrygelaat. Die gebeure het 'n blywende indruk op hom gemaak. Dit het sy meelewendheid met buitestaanders, sukkelaars, en diesulkes verdiep. Sulke karakters sou later gereeld in sy skryfwerk voorkom. Terug in Chicago was hy en die skrywer Jack Conroy die redakteurs van die New Anvil, 'n tydskrif wat ten doel gehad het om eksperimentele en linkse skryfwerk te publiseer.
Romans en latere lewe
Sy eerste roman, Somebody in Boots, is in 1935 gepubliseer en vertel van die rondswerwinge van 'n arm jong man afkomstig van Texas gedurende die Groot Depressie wat uiteindelik in Chicago beland. Never Come Morning, gepubliseer in 1942, het die doodloopstraatlewe van 'n jong krimineel as tema.
Hy dien in die Amerikaanse mediese korps in Europa gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Ten spyte daarvan dat hy 'n gegradueerde is, word hy toelating tot offisiersopleiding geweier. Daar word gespekuleer dat die rede hiervoor kommer oor Algren se politieke sienswyses was.
Hy artikuleer in sy werke die wêreld van "dronkaards, koppelaars, prostitute, eksentrieke mense, dwelmverslaafdes, prysvegters, korrupte politici, en straatboewe". Hy is veral bekend vir sy boek The Man with the Golden Arm gepubliseer in 1949. Die boek het die National Book Award in 1950 gewen en is in 1956 verfilm met Frank Sinatra in die hoofrol.
Sy volgende boek Chicago, City on the Make (1951) was 'n snydende essay wat die stad se ondersteuners woedend gemaak het maar tog die stad se agterstegies, sy ontneemdes, sy korrupte politici en swendelaars realisies uitgebeeld het. In Nonconformity, postuum gepubliseer in 1994, bied Algren sy siening van die debakel in verband met die 1956-verfilmde uitbeelding van sy boek "Golden Arm." Nonconformity het ook die geloofsisteem onderliggend aan Algren se skryfwerk uitgespel en 'n oproep op skrywers oral gedoen om die donker kant van die lewe te ondersoek en stories te skryf oor diegene wat in die samelewing geïgnoreer word.
Algren het 'n verhouding gehad met die Franse skryfster Simone de Beauvoir. Hulle het saam na Latyns Amerika in 1949 getoer. De Beauvoir skryf as volg oor Algren:
Aan die begin het ek dit amusant gevind om in lewende lywe daardie klassieke Amerikaanse spesie te ontmoet; die selfgemaakte linkse skrywer. Nou het ek 'n belangstelling in Borgan begin ontwikkel. Deur sy stories kry jy die indruk dat hy homself geen reg tot die lewe toeëien nie en ten spyte hiervan, behou hy altyd 'n passievolle begeerte om te lewe. Ek het van die mengsel van beskeidenheid en gretigheid gehou. |
(Simone de Beauvoir in Les Mandarins, Die Mandaryne, gepubliseer in 1954. Die boek is opgedra aan Algren terwyl die karakter Lewis Brogan in dié boek op hom gebaseer is.)
Volgens Herbert Mitgang het die Amerikaanse Federal Bureau of Investigation (FBI) Algren gemonitor as gevolg van sy politieke sieninge en het oor die loop van jare 'n dossier van meer as 500 bladsye oor hom opgebou. Die FBI het egter nooit enige bevestigde inligting ingesamel wat dui op enige ondermynende aksies nie. (Mitgang, Dangerous Dossiers: Exposing the Secret War Against America's Greatest Authors, NY: Donald I. Fine, Inc. 1988.)
Daar word algemeen aanvaar dat Algren sy beste werke oor Chicago geskryf het. Sy laaste blyplek in Chicago was 'n woonstel aan die noordekant van Evergreenstraat, in 'n woonbuurt wat eens een van Chicago se digsbevolkte Poolse krotbuurte was.
In die 2001-dokumentêr Classic Albums: Lou Reed: Transformer, het musikant Lou Reed gesê dat Algren se 1956-roman, A Walk on the Wild Side, die inspirasie vir sy liedjie "Walk on the Wild Side" was.
Bibliografie
- Somebody in Boots (1935)
- Never Come Morning (1942)
- The Neon Wilderness (1947)
- The Man with the Golden Arm (1949)
- Chicago, City on the Make (1951)
- A Walk on the Wild Side (1956)
- Nelson Algren's Own Book of Lonesome Monsters (1962)
- Who Lost an American? (1963)
- Conversations with Nelson Algren (1964)
- The Last Carousel (1973)
- The Devil's Stocking (1983)
- America Eats (1992)
- He Swung and He Missed (1993)
- Nonconformity (1994)
- The Texas Stories of Nelson Algren (1994)
Eksterne skakels
- (en) Prophet of the Neon Wilderness Daily Telegraph. 29 Januarie 2006. Geargiveer 11 Januarie 2006 op Wayback Machine
- (en) Inligting oor die Nelson Algren-toekenning by die Chicago Tribune Geargiveer 27 Februarie 2006 op Wayback Machine