NG gemeente Worcester-Oos

Die NG gemeente Worcester-Oos is ’n gemeente in die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Sinode Wes-en-Suid-Kaapland met sy middelpunt op die dorp Worcester.

Ds. Andreas Stefanus Cronjé is in 1950 as die gemeente se eerste leraar bevestig. Hy het hier gebly tot sy aanstelling in 1956 as sekretaris vir evangelisasie in die Kaapse Kerk.
Ds. Gerrit Conradie le Roux, leraar van 1957 tot 1960.

Die gemeente is op 12 Februarie 1950 van die moedergemeente, Worcester, afgestig. 'n Besonderse verskeidenheid dele het met afstigting die geheel uitgemaak. Die bekende buitewyke De Wet, Nonna, Nuy, Overhex en Aan-de-Doorns het aan die begin binne sy grense geval. Op die dorp het dit gestrek van Riebeekstraat af ooswaarts in die rigting van die ou paglande wat toe reeds 'n pragtig beboude gedeelte van die dorp was. Daarby het dit ook die snel-ontwikkelende nywerheidsgebied ingesluit waar duisende en duisende mense daeliks in verskillende fabrieke werksaam is. Ook die Tegniese Kollege hoort hierby, asook die pragtige tehuis Erica, wat deur die ACVV vir laagbesoldigde vroue opgerig is. In die saal van hierdie tehuis is van die begin af die eredienste gehou.

Op Sondag 12 Maart 1950 het die voorstelling van die eerste kerkraadslede plaasgevind. Die eerste gekom-bineerde kerkraadsvergadering om 'n leraar te beroep is op 20 Maart 1950 gehou. Ds. A.S. Cronjé, wat toe presies vyf jaar lank die gemeente Worcester bedien het, is beroep en hy het dit aangeneem. Sy bevestiging het op 22 Julie plaasgevind. By daardie geleentheid is die rede deur ds. W.A. Landman van Malmesbury uitgespreek. Terwyl hy nog konsulent was, het hy op Sondagaand 14 Mei die eerste 14 lidmate aan die gemeente voorgestel. Hoewel die gemeente toe nog herderloos was, het sy eerste dankfees op 4 Mei 1950 reeds die som van £3 230 byeengebring.

In Julie van dieselfde jaar nog het die kerkraad besluit om 'n eie kerkgebou op te rig. Die firma van argitekte Meiring en Naude is gevra om planne op te trek en dadelik is begin met die insameling van geld. Nog voor die einde van die jaar is ongeveer £20 000 aan bydraes en beloftes verseker. Die susters van die gemeente het hulle begeerte te kenne gegee om 'n nuwe orrel te voorsien; die kinders het die koste aan die kansel onderneem, en die jong mense die aanbring van die ligte in die kerkgebou.

As eerste vereniging van die gemeente is 'n VSB-tak op Donderdag 19 Oktober 1950 met 32 lede gestig. Hierdie getal het meteens aangegroei binne ’n jaar of wat die honderdtal-merk oorskry. In 1952 kon Ons gemeentelike feesalbum berig: “En so het hierdie nuwe gemeente sedert sy stigting sonder versuim, met heelhartige toewyding, besielende ywer, sterke eensgesindheid en vaste geloof die hand aan die ploeg geslaan op die akker van talryke geleenthede en moontlikhede en uitdaginge – alles vir die eer van sy Naam en die uitbreiding van sy Koninkryk.”

Enkele leraars

  • Andreas Stefanus Cronjé, 1950 – 1956
  • Gerrit Conradie le Roux, 1957 – 1960

Worcester se NG gemeentes

Die syfers onder elke jaartal dui op die getal belydende lidmate wat in daardie jaar in die NG Kerk se Jaarboek weergegee word; dié syfer word gewoonlik 'n jaar of twee voor die tyd ingestuur na die samestellers van die Jaarboek. In sommige gevalle is dit reeds enkele jare oud wanneer dit verskyn.

Gemeente19601973197919851990199520002005201020152016
Worcester2 5952 7912 7582 0872 0411 9521 5141 4611 484945919
Worcester-Audenberg6009771 0641 0451 1941 0951 1821 0551 055
Worcester-Brandwag571670688815829839755755
Worcester-De la Bat101114115134198252252
Worcester-Noord1 5591 2241 4871 5501 6881 6481 5701 5351 5351 4291 429
Worcester-Oos1 080903797895888860807869860742712
Worcester-Vallei8802 0971 2851 2181 2811 1471 2361 0741 2141 1411 141
Totaal6 1147 0156 9277 2677 7337 4547 2516 9977 3126 3196 263

Bron

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.