NG gemeente Griekwastad

Die NG gemeente Griekwastad is 'n gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in die Ring van Griekwastad en Sinode van Noord-Kaapland. Die gemeente se middelpunt is die Noord-Kaapse dorp Griekwastad, die eerste Suid-Afrikaanse dorp wat noord van die Gariep gestig is.[1] Die gemeente was tot en met die verdeling in twee en later drie van die Kaapse Kerk die 92ste oudste gemeente in daardie sinode.

Ds. P. du Toit, NG gemeente Philipstown se tweede predikant (tot 1893), was die gemeente Griekwastad se eerste konsulent.
Griekwastad se vorige kerkgebou is in 1895 in gebruik geneem en in die jare sewentig deur die huidige vervang. Die ou kerk het laat in die jare veertig 'n verandering ondergaan toe 'n kloktoring met 'n groot klok en horlosie aangebou is, asook 'n galery in die toringvlerk, terwyl neon-ligte binne-in aangebring is.
Ds. Pieter Truter Stroebel het in 1904 die beroep aanvaar na Griekwastad en het hier gebly tot 1911. Hy is in 1900 gelegitimeer en het in die amp gesterf op Herbertsdale op 5 Januarie 1938. Intussen was hy van 1911 tot 1927 leraar van die destydse NG gemeente Komga in die Oos-Kaapse Grensgebied.
Ds. Jurie Johannes Wessels het in 1912 hierheen gekom van die gemeente Melsetter in die destydse Suid-Rhodesië, maar op 18 Desember 1918 het die griep-epidemie sy lewe geëis.
Ds. J.R. Lückhoff was van 1938 tot 1943 leraar van Griekwastad, sy eerste gemeente.
Griekwastad was ds. J.P.N. Prinsloo se eerste gemeente, van 1946 tot 1949.

Omdat Griekwastad die oudste gemeente in die omgewing is, verleen hy sy naam aan die Ring van Griekwastad, wat ook bestaan uit die gemeentes Barkly-Wes, Modderrivier-Ritchie, Daniëlskuil, Delportshoop, Douglas, Lime Acres en Plooysburg.

Agtergrond

Die dorp Griekwastad, 154 km wes van die Noord-Kaapse hoofstad, Kimberley, is een van die uitsonderings onder oorwegend Afrikaanse plattelandse dorpe in Suid-Afrika in dié opsig dat die dorp ruim 80 jaar ouer as die plaaslike gemeente van die NG Kerk is; in enkele gevalle is die plaaslike Gereformeerde kerk wel jare en selfs dekades, soos op Reddersburg, voor die NG gemeente gestig. Griekwastad het naamlik reeds is 1802 die vergaderplek van 'n aantal Griekwas (vroeër jare ook baster-Hottentotte genoem) geword wat hulle hier gevestig het en onder wie die Londense Sendinggenootskap met evangelisasie begin het. Die plek het destyds Leeuwenkuil geheet, waarskynlik omdat leeus hier in die omgewing van 'n pragtige waterkuil geboer het. Die reisiger Liechtenstein vertel hoe, tydens die eerste nag ná sy aankoms, "er een leeuw in ons lager brak, het bijeenvergaderde vee uit elkander jaagde en onze best melkgewende geit (ooi) van digt bij de wagens weghaalde".[2] Hier op Leeuwenkuil was die sendeling William Anderson werksaam.

Anderson het later sy stasie 'n bietjie hoër op verplaas in die vallei wat aan die Leeuwenkuil grens en dit Klaarwater genoem omdat die water daar so helder (klaar) was. Toe die reisiger Burchell in 1812 hier op besoek was, was die nuwe naam reeds in gebruik. Dit was die Engelse sendeling-inspekteur eerw. John Campbell van Londen wat die naam Klaarwater op 7 Augustus 1813 in Griekwastad verander het, en dit is ook aan hom dat die benaming Griekwas vir die plaaslike inwoners te danke is, wat veronderstel was om die "Basterd-Hottentotten" te help ontslae raak van die smet wat aan die benaming "baster" kleef.

Die Griekwas was 'n klein stam wat die Hollanders aan die Kaap in die omgewing van Piketberg teëgekom het. Destyds het die stam as die Xurikwa bekendgestaan.[3] Onder leiding van die vrygemaakte slaaf Adam Kok (Adam die kok, want hy was volgens oorlewering 'n Kaapse goewerneur se kok) het dié mense, wat toe al gemengde bloed gehad het, vandaar die latere benaming Baster-Hottentotte, weggedwaal van hul oorspronklike woonplek. Ná talryke avonture het hulle hul hier in die omgewing van die teenswoordige Griekwastad kom vestig waar die Londense Sendinggenootskap dan ook ter wille van dié mense se sieleheil in 1904 'n sendingstasie opgerig het. Die twee faksies van die Griekwas is onderskeidelik gelei deur Adam Kok I en Andries Waterboer.

Griekwastad is nie net die eerste dorp in Suider-Afrika noord van die Gariep nie; sover bekend is dit ook die eerste plek noord van die Grootrivier waar 'n wit vrou gesterf het toe die eggenote van die sendeling Cornelius Kramer in 1812 hier aan haar einde kom. Mary Moffat, die vrou van die ontdekkingsreisiger David Livingstone, is in 1821 hier gebore. Die ou sendinghuis, opgerig in 1826, staan gevolglik bekend as die Mary Moffat Museum.[4]

In 1819 het Adam Kok II, die seun van Adam Kok I, na die dorpie Campbell, genoem na eerw. Campbell, verhuis, daarna na Philippolis in die Suid-Vrystaat en eindelik, in 1862, bo-oor die Drakensberge tot binne-in wat later sou bekendstaan as Griekwaland-Oos, waarvan die setel die dorp Kokstad sou word.

Met Adam Kok II se verhuising het Andries Waterboer en sy volgelinge agterbly, en sou hy en leiers van splintergroepies nog lank bly regeer oor 'n groot grondgebied, bekend as Griekwaland-Wes. In dié tyd het Griekwastad betreklik belangrik geraak as basis vir jagters en handelaars wat dit in die binneland wou waag, maar ook as 'n toevlugsoord vir voortvlugtiges en uitgewekenes uit die Kaapkolonie. In 1870 het die Britte egter die Griekwas se heerskappy oor dié gebied beëindig toe diamante ontdek is en Groot-Brittanje die streek by die Britse Ryk ingelyf het.

Die tweede en laaste plaaslike Griekwastamhoof was Niklaas Waterboer wat in 1896 hier oorlede is. Sy seun, Andries, het nooit sy vader opgevolg nie.

Stigting van NG gemeente

Die vroegste beweging in die rigting van die stigting van 'n NG gemeente was waarskynlik toe Cecil John Rhodes daarin slaag om 'n blok erwe op die dorp te verkry wat hy aan die NG Kerk en die Anglikaanse Kerk geskenk het. Die kerk wat laasgenoemde kerkverband hier opgerig het, is later as die dorpsbiblioteek ingerig.[5] Die datum van dié skenking is nie bekend nie, maar dit is wel bekend dat ál meer NG lidmate hulle in die tweede helfte van die 19de eeu hier kom vestig het.

So is die NG gemeente Griekwastad dan op 17 Desember 1881 gestig op versoek van die lidmate wat hier kom woon het. Aanvanklik het die gemeente geressorteer onder die Ring van Colesberg. Die eerste konsulent was ds. P.J. du Toit van die NG gemeente Philipstown en die eerste kerkraad is saamgestel uit ouderlinge Jan Valentyn van der Merwe, Johannes L. van der Merwe en Petrus J.J. Engelbrecht asook diakens Pieter J.C. van Zyl, E.H. Kruger, Jan de Villiers en Theodorus H. Sherman. Destyds was die gemeente besonder uitgestrek en het dit ingesluit die hele latere gemeente Niekerkshoop (afgestig in 1904, maar op 1 Maart 2001 ingelyf by Prieska), die helfte van Douglas (1897) en die helfte van Daniëlskuil (1913), asook Campbell (1946, intussen ontbind of ingelyf, maar nadere besonderhede onbekend), Postmasburg (1929), Kuruman (1916) en Olifantshoek (1916).

Eerste leraar

Ná die stigting word sewe beroepe uitgebring, maar nietemin duur die vakature van 17 Desember 1881 tot November 1884. Destyds was predikante skaars en die sewe het dit waarskynlik ontsien om so ver in die wêreld 'n nuwe gemeente uit niks op te bou. Tot 1882 is die dienste deur die konsulent in die ou Griekwakerkie gehou, toe 'n sinkkerk vir die bedrag van £577 opgerig is. Die pastorie is in Julie 1886 voltooi teen 'n koste van £789 (130 skape).

In 1884 is die eerste predikant van die gemeente, ds. J.W. Meyer, bevestig. Sy pastorie was die platdakhuisie langs die latere pastorie. In 1895 is die tweede kerkgebou ingewy, wat op sy beurt in die jare sewentig deur 'n nuwe vervang is. Ds. Meyer, wat in 1899 'n beroep aanvaar het, is eers ná die Tweede Vryheidsoorlog in 1904 opgevolg deur ds. P.T. Stroebel, in wie se tyd die kerksaal deur die toedoen van die jongmense van die gemeente gebou is, asook 'n kerkgebou op Postmasburg, die dogtergemeente wat in 1929 sou afstig.

Niekerkshoop

Die dorp Niekerkshoop, 75 km noordoos van hier, is deur die broers J.P. en J.D. van Niekerk in 1899 aangelê op ’n vrugbare plaas met die naam Modderfontein. Die dorp het ’n standhoudende fontein gehad. Met sy honderde groen bome het die dorp "enigsins het aansien heeft van een bôlands dorp". Dorpstigting het die drang na die stigting van ’n gemeente laat toeneem. Daarvoor moes vooraf verlof gekry word vanaf Griekwastad en Prieska, omdat ’n aansienlike deel uit hierdie twee gemeentes by die te stigte gemeente gevoeg sou word. Prieska is teen die stigting van die gemeente gekant.

Die NG gemeente Niekerkshoop is deur die ringskommissie van Dutoitspan op 29 Maart 1904 gestig. Voor die stigting is die Woord en die sakramente om die beurt deur predikante van Prieska en Griekwastad bedien. Van die gemeente Griekwastad is ’n aansienlike deel afgesny om die gemeente Niekerkshoop te vorm. Ná afstigting het die konsulent, ds. P.T. Stroebel van Griekwastad die eredienste waargeneem. Omdat daar nog geen kerkgebou was nie, moes die pakhuis van die broers Van Niekerk vir eredienste gebruik word.

Latere leraars

Ds. J.N. Geldenhuys, 'n baanbreker van die NG Kerk in die huidige Zimbabwe, was predikant van Griekwastad van 1919 tot 1922.

Ds. Stroebel is in 1912 deur ds. J.J. Wessels opgevolg, wat in 1918 aan die griep oorlede is. Ds. J.N. Geldenhuys het die gemeente van 1919 tot 1922 bearbei en is deur ds. G.J. Barnard opgevolg, in wie se tyd ook die eerste N.G. Kerk-sendeling bevestig is, t.w. eerw. Alheit van der Merwe. In 1928 het ds. Barnard na Barkly-Oos vertrek en is deur ds. C.J. Grobler opgevolg. In sy tyd is die traliewerk om die kerk opgerig. Toe die gemeente sy eerste halfeeu vier in 1932, hoewel Ons gemeentelike feesalbum[6] die stigtingsdatum aangee as 1880 en Ons Kerk Album[7] sowel as die NG Kerk se Jaarboek as 1881, het daar uit die pen van die NG Kerk eerste argivaris, eerw. Andries Dreyer, 'n gedenkboek, Jubelfees-gedenkboek van die Gemeente Griekwastad, 1882–1932, verskyn. Dié boek het 60 bladsye beslaan,[8] maar dis onbekend of daar in 1981, met die gemeente se honderdjarige bestaan, weer 'n gedenkboek verskyn het.

Sy opvolger in 1938 was ds. J.R. Lückhoff, deur wie se ywer die pragtige kerkorrel aangekoop is. Ná hom het ds. A.M. Botha in 1943 gekom, ds. J.P.N. Prinsloo in 1946, en toe ds. C.M. Oosthuizen in 1949. In sy tyd het die ou kerk weer 'n verandering ondergaan toe 'n kloktoring met 'n groot klok en horlosie aangebou is, asook 'n galery in die toringvlerk, terwyl neon-ligte in die kerk aangebring is.

Talle buurgemeentes is met verloop van tyd afgestig en so bestaan die gemeente wat met 335 lede begin het, in 1952 uit 850 lidmate, met 'n eie sendinggemeente van 160 lidmate. Volgens die syfers in die NG Kerk se Jaarboek van 2014 het die getal belydende lidmate toe 290 getel en die dooplidmate 69.

Enkele leraars

  • Justus Wilhelm Meyer, 1884 tot 1889
  • Pieter Truter Stroebel, 1904 tot 1911
  • Jurie Johannes Wessels, 1912 tot 23 Desember 1923 (oorlede in die amp)
  • Gert Johannes Barnard, 1922 tot 1928
  • Cornelius Johannes Grobler, 1929 tot 1937 (emeriteer)
  • Johann Rudolph Lückhoff, 1938 tot 1943
  • Antonie Michiel Botha, 1943 tot 1946
  • Joachim Petrus Nicolaas Prinsloo, 1946 tot 1949
  • Jan Michael Ackerman, 1970 tot 1973
  • Willem Jacob Botha Cloete, 1973–1977
  • Pieter Gabriël (Piet) Otto, 2009 tot hede

Bronne

  • (af) Albertyn, W. (red.). 1978. Amptelike Suid-Afrikaanse munisipale jaarboek. Pretoria: S.A. Vereniging van Munisipale Werknemers (nie-Politiek).
  • (af) Brown, dr. E. 1973. Gemeentelike geskiedskrywing van die Afrikaanse kerke van gereformeerde belydenis – 'n kompilasie en kerk-historiese oorsig. Durban: Drakensbergpers.
  • (en) Bulpin, T.V. (2001). Discovering Southern Africa. Cape Town: Discovering Southern Africa Publications cc.
  • (nl) Maeder, ds. G.A. en Zinn, Christian. 1917. Ons Kerk Album. Kaapstad: Ons Kerk Album Maatschappij Bpkt.
  • (af) Nienaber, P.J. 1963. Suid-Afrikaanse pleknaamwoordeboek, deel 1. Kaapstad, Johannesburg: Suid-Afrikaanse Boeksentrum.
  • (af) Olivier, ds. P.L., 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.
  • (af) Potgieter, D.J. (ed.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou).
  • (af) Small, Mario (samesteller). 2014. Jaarboek van die Nederduitse Gereformeerde Kerke 2014. Wellington: Tydskriftemaatskappy van die NG Kerk MSW – 'n divisie van Bybel-Media.

Verwysings

  1. (en) Bulpin, T.V. (2001). Discovering Southern Africa. Cape Town: Discovering Southern Africa Publications cc.
  2. (af) Nienaber, P.J. 1963. Suid-Afrikaanse pleknaamwoordeboek, deel 1. Kaapstad, Johannesburg: Suid-Afrikaanse Boeksentrum.
  3. (en) Bulpin, T.V. (2001). Discovering Southern Africa. Cape Town: Discovering Southern Africa Publications cc.
  4. (en) Encounter.co.za Geargiveer 2 Maart 2013 op Wayback Machine
  5. (en) Potgieter, D.J. (ed.) 1972. Standard Encyclopaedia of Southern Africa. Cape Town: Nasionale Opvoedkundige Uitgewery (Nasou).
  6. (af) Olivier, ds. P.L., 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.
  7. (nl) Maeder, ds. G.A. en Zinn, Christian. 1917. Ons Kerk Album. Kaapstad: Ons Kerk Album Maatschappij Bpkt.
  8. (af) Brown, dr. E. 1973. Gemeentelike geskiedskrywing van die Afrikaanse kerke van gereformeerde belydenis – 'n kompilasie en kerk-historiese oorsig. Durban: Drakensbergpers.

Sien ook

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.