NG gemeente Brandfort
Die NG gemeente Brandfort is die moedergemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die Vrystaatse dorp Brandfort. Die gemeente is in 1875 gestig as die 20ste gemeente in die Vrystaatse NG Kerk.
Agtergrond
Jacobus van Zyl van Prins Albert in die Karoo het by die Voortrekkers aangesluit en ná die moord op Piet Retief in 1838 het hy en ander Trekkers weer oor die Drakensberge getrek. Hy het gekom tot op die plaas wat later Keerom genoem is. Reeds voor 1866 het hy probeer om op sy plaas 'n dorp aangelê te kry; aanvanklik het hy nie geslaag nie, maar op 30 Oktober 1866 is die eerste 47 erwe op Brandfort verkoop. In 1874 is Brandfort eers tot dorp verklaar. Die gemeente Brandfort is in 1875 gestig. In die notule van 5 Junie 1875 van die NG gemeente Bloemfontein staan geskryf: "De eerw. Voorz. deelt mede dat de Ringscommissie op 17 Junie aanstaande te Brandfort zal vergaderen om de grenslijnen dezer nieuwe Parochie te bepalen, en wenscht, dat daarby deze gemeente zal worden vertegenwoordigd." Die stigtingsdatum van die gemeente is dan 17 Junie 1875. Op 17 Junie 1950 kon die gemeente toe ook sy 75-jarige bestaan feestelik herdenk.
Eerste leraar
Die Ringskommissie het op 17 Junie 1875 die volgende kerkraadslede aangestel: J. van Zyl, H.J. van der Merwe en J.P. Maree (ouderlinge); H.O. Wilsenach, A.H. le Roux, W.J. Badenhorst, S.C. Vermaak en J.J. Marais (diakens). Ds. P.M. van Heyningen van Winburg is as konsulent benoem en die eerste kerkraadsvergadering op 31 Julie 1875 gehou. Die eerste leraar van die gemeente was ds. E.A.J. du Toit. Hy was predikant van Jacobsdal en op 3 April 1879, toe hy beroep is, was hy konsulent van Brandfort. Hy het tot 1894 hier gestaan.
Latere leraars
Ná ds. Du Toit het in die eerste driekwarteeu gemeente se bestaan die volgende leraars hier gedien: Di. J.G. de Bruyn (1894 - 1904), C.H. Stulting (1905 - '13, wie se seun Jan Daniël Stulting hier gebore is en ook later predikant geword het), D.P. Cillié (1913 - '20), P.K. Albertyn (1921 - '26) en E.A. Pienaar (1926 - '30). Ds. Pienaar het in November 1926 die beroep na Brandfort aangeneem, waar hy net drie jaar kon werk toe hy deur die dood weggeneem is in die Nasionale Hospitaal in Bloemfontein op 27 Februarie 1930. Dit was sowat drie weke voor sy 47ste verjaardag. Sy laaste kanselboodskap aan sy gemeente was: "Of ons dan lewe en of ons dan sterwe, ons behoort aan die Here" (Rom. 14:8), maar omdat dit in 1930 was, sou hy nog gebruik gemaak het van die Statebybel: "Want hetzij dat wij leven, wij leven den Heere; hetzij dat wij sterven, wij sterven den Heere. Hetzij dan dat wij leven, hetzij dat wij sterven, wij zijn des Heeren." Ná hom het gekom di. A.J. Olivier (1931 - '44) en P.N.V. de Lange (1944 - 51).
Afstigtings
In 1925 is 'n deel van die gemeente by die nuwe gemeente Verkeerdevlei gevoeg en in 1927 het weer 'n deel aan die gemeente Soutpan geval. Op 25 Mei 1951 is die gemeente Brandfort in twee gedeel en die nuwe gemeente is Brandfort-Oos genoem. Met die stigting van die gemeente op 17 Junie 1875 was daar reeds 'n kerkgeboutjie met 'n plat dak, vervaardig uit "riet en kleilaag en brak" met "luggaten onder het plafond". 'n Nuwe kerk is in 1885 gebou; hierdie kerk is in 1907 vergroot en dit is nog die kerk wat vandag gebruik word. Dit is ontwerp deur Richard Wocke, die Vrystaat se eerste argitek.
Derde tot agtste leraars
- Ds. Christiaan Hendrik Stulting, van 1905 tot 1913 Brandfort se derde NG leraar.
- Ds. D.P. Cillié, van 1913 tot 1920 Brandfort se vierde NG leraar.
- Ds. P.K. Albertyn was van April 1921 tot April 1926 Brandfort se vyfde NG leraar.
- Ds. Ezra Pienaar, van 1926 tot sy dood in 1930 Brandfort se sesde NG leraar.
- Ds. A.J. Olivier, van 1931 tot 1944 Brandfort se sewende NG leraar.
- Ds. P.N.V. de Lange, van 1944 tot 1951 Brandfort se agtste NG leraar. Hy was van 1941 tot 1944 en weer van 1951 tot sy dood op 5 Junie 1958 in 'n motorongeluk waarin sy vrou ook gesterf het, leraar van die NG gemeente Burgersdorp.
Kerkterrein
- Die Vrouemonument voor die kerk.
- Die kerkgebou en Vrouemonument met die omheining van die Ossewatrek-gedenksteen op die voorgrond sigbaar.
- Die kerkperseel met die kerkgebou op die agtergrond, die Vrouemonument en Ossewatrek-gedenksteen (1938) en die kerksaal regs.
- Die Vrouemonument se beeld van nader gesien.
Enkele leraars
- Barend Jacobus Cronjé, 1963 - 1966
Bronne
- (nl) Maeder, ds. G.A. en Zinn, Christian. 1917. Ons Kerk Album. Kaapstad: Ons Kerk Album Maatschappij Bpkt.
- (af) Oberholster, prof. dr. J.J. 1964. Die Nederduitse Gerformeerde Kerk in die Oranje-Vrystaat. Bloemfontein: Die N.G. Kerk in die O.V.S.
- (af) Olivier, ds. P.L., 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.