NG gemeente Bethlehem
Die NG gemeente Bethlehem was die moedergemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk op die Oos-Vrystaatse dorp Bethlehem, maar dis in Oktober 2012 ingelyf by die gemeente Bethlehem-Wes.[1] Dit was die 12de oudste gemeente in die Vrystaatse Sinode. Sedert die inlywing word Bethlehem se kerkgebou wel nog gebruik vir eredienste en spesiale geleenthede.
Stigting
In 1869, 10 jaar ná die aanleg van die dorp Bethlehem, is die gemeente gestig. Die destydse kerkgebou, op die hoek van Kerk- en Lindleystraat, is gedurende die Basoeto-oorlog van 1855 tot 1868 vir beskerming van vroue en kinders gebruik, terwyl 'n sooi-ringmuur daaromheen, met skietgate, snags as fort van die mans gedien het. Op die Kerkplein staan 'n monument met die opskrif "Slag van Bethlehem, 22 Jan. 1866", ter gedagtenis aan twee blankes en een Hottentot wat met een van die invalle gesneuwel het.
Die kerk is deur drie stigters van die dorp, Paul Naudé, Jan Muller en Dail Malan, uit die opbrengs van die verkoping van erwe gebou. Ds. McMillan van Harrismith was die eerste konsulent en ds. C.P. Theron is in 1872 as die eerste leraar bevestig. Die grense van die gemeente het gestrek van Zuringkrans tot by Kestell, wes na oos, en van Petrus Steyn tot aan die Caledonrivier, noord na suid.
Aangesien Bethlehem oorspronklik 'n kerkdorp was, is dit later jare aan 'n dorpsbestuur oorgemaak, met die gevolg dat die gemeente selfs nog in die vyftigerjare van die 20ste eeu 'n jaarlikse bedrag van £100 ontvang het wat uit daardie ooreenkoms voortgevloei het. Die eerste kerkgebou, waarvan die hoeksteen op 25 Januarie 1880 deur pres. Jan Brand gelê is, is in November 1882 ingewy. Dit het £14 000 gekos. Hierdie gebou moes egter weens ernstige bouvalligheid gesloop word, en op 12 April 1910 is die huidige kerk se hoeksteen deur president M.T. Steyn gelê. Ook hierdie gebou het sowat £14 000 gekos.
Afstigtings
Aan die oorspronklike gemeente het Lindley, Senekal, Reitz, Fouriesburg, Kestell, Rosendal, Paul Roux en Clarens behoort, en in 1927 is die gemeente Bethlehem-Wes afgestig. Ds. C.P. Theron het in 1912, ná 'n bediening van 40 jaar, sy emeritaat aanvaar en is agtereenvolgens opgevolg deur di. A. van der Merwe (1913-'27), D.P. Ackerman (1927–50) en P. de Vos Grobbelaar, wat op 10 Maart 1951 as herder en leraar bevestig is.
Enkele leraars
- Charles Petrus Theron, 1872–1912 (aanvaar sy emeritaat; oorlede 2 Junie 1924)
- Daniel Petrus Ackerman, 26 November 1927 – 25 Februarie 1950 (aanvaar sy emeritaat)
- Carel Aron van der Merwe, 1913–1927
- Petrus Abraham van der Merwe, 1955–1960 (oorlede in die amp; hy was 54)
- Jacobus Ignatius Bornman, 1966–1969
- Hendrik Johannes Muntingh Haugh, 1978 – 29 April 1984 (aanvaar sy emeritaat)
Bronne
- (nl) Maeder, ds. G.A. en Zinn, Christian. 1917. Ons Kerk Album. Kaapstad: Ons Kerk Album Maatschappij Bpkt.
- (af) Olivier, ds. P.L., 1952. Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers.
Verwysings
- (af) Amptelike nuus op die Kerkbode se webtuiste[dooie skakel]. URL besoek op 26 November 2014.
Sien ook
Eksterne skakels
- (en) Foto's en inligting oor die kerkgebou op Artefacts.co.za. URL besoek op 27 November 2014.
- (af) Ouddominee was 'n baken in Bethlehem se geskiedenis. Veral Afrikaans is deur hom in die dorp bevorder[dooie skakel], Volksblad, 4 November 1999. URL besoek op 4 November 2015.