NAVO

Die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO; Engels: North Atlantic Treaty Organization, NATO; Frans: Organisation du traité de l'Atlantique nord, OTAN) is 'n militêre bondgenootskap wat tot stand gekom het met die ondertekening van die Noord-Atlantiese Verdrag op 4 April 1949. Die organisasie se hoofkantoor is in Brussel in België geleë. Die organisasie het 'n stelsel van gemeenskaplike verdediging daargestel waar die lidlande instem om mekaar te verdediging in geval van 'n aanval deur 'n eksterne party. Hierdie verdrag het 'n militêre bondgenootskap gesluit wat later die Westerse Europese Unie sou word. Die NAVO het tans 32 lidlande en die amptelike tale is Engels en Frans.[2]

Kenteken van die NAVO
Ligging van die NAVO
Die toetreding van die Bondsrepubliek Duitsland in 1955
Die NAVO en die Warskouverdragslande tydens die Koue Oorlog
Lidlande volgens jare
Kandidaatlande van die NAVO in Europa:

 Lidlande

 Kandidaatlande (MAP)

 Belowe uitnodiging

 Geen lidmaatskap beplan

 Houding oor toetreding onbekend

Geskiedenis

Begin van die organisasie

Die Verdrag van Brussel wat op 17 Maart 1948 tussen België, Nederland, Luxemburg, Frankryk en die Verenigde Koninkryk onderteken is, word allerweë as die voorloper van die NAVO verdrag beskou. Die deelname van die Verenigde State is egter as nodig geag om as teenvoeter te dien vir die militêre mag van die Sowjetunie en daarom is samesprekings feitlik onmiddellik na die ondertekening van bogenoemde verdrag begin. Hierdie samesprekinge het gelei tot die stigting van die Noord-Atlantiese Verdrag wat op 4 April 1949 onderteken is. Dit het die lande van die Brusselse verdrag ingesluit asook die Verenigde State, Kanada, Portugal, Italië, Noorweë, Denemarke en Ysland. Drie jaar later op 18 Februarie 1952 het Griekeland en Turkye ook aangesluit. Die insluiting van Wes-Duitsland op 9 Mei 1955 is as 'n beduidende keerpunt in die geskiedenis van die Europese kontinent beskryf deur die destydse Minister van Buitelandse sake van Noorweë, Halvard Lange. Die stap het inderdaad gelei tot die sluiting van die Warskouverdrag, wat op 14 Mei 1955 deur die Sowjetunie en sy satellietstate onderteken is. Sodoende is die twee kante van die Koue Oorlog afgebaken.

Tydens die Koue Oorlog

NAVO-eenheid is vroeg in sy bestaan bedreig tydens Charles de Gaulle se presidentskap van Frankryk vanaf 1958 en later. De Gaulle het beswaar aangeteken teen die Verenigde State se oorheersende rol in die organisasie en wat hy beskou het as 'n spesiale verhouding tussen die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk. In 'n memorandum wat de Gaulle aan President Dwight D. Eisenhower en Eerste Minister Harold Macmillan gestuur het op 17 September 1958, het hy vertoë gerig vir die skepping van 'n drieledige direktoraat wat Frankryk op 'n gelyke grondslag as die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk sou plaas en ook dat die geografiese gebiede van belang uitgebrei moes word na wêrelddele wat vir Frankryk van belang was, soos onder andere Algerië, waar Frankryk in 'n teeninsurgensieveldtog betrokke was en waarvoor hulle NAVO ondersteuning wou hê.

De Gaulle het die antwoord onbevredigend gevind en begin om 'n onafhanklike verdedigingsmag vir sy land te bou. Op 11 Maart 1959 het Frankryk sy Middellandse vloot vanuit NAVO-bevel onttrek; drie maande later het de Gaulle die plasing van buitelandse kernwapens op Franse grondgebied verban. Dit het daartoe gelei dat die Verenigde State in 1967 tweehonderd militêre vliegtuie onttrek het en die beheer van tien lugmagbasisse, wat hulle sedert 1950 beheer het, weer aan die Franse te oorhandig.

Frankryk het ook intussen begin werk aan 'n onafhanklike kernprogram. Frankryk het hulle eerste kernwapen op 13 Februarie 1960 getoets. Ten spyte van Frankryk se solidariteit met die res van NAVO tydens die Kubaanse missielkrisis in 1962 het de Gaulle voortgegaan met sy strewe na 'n onafhanklike verdedigingsmag en Frankryk se Atlantiese- en Engelse Kanaalvloot vanuit NAVO-bevelstrukture verwyder. In 1966 is alle Franse gewapende magte vanuit NAVO-bevel verwyder en is alle nie-Franse NAVO-troepe gevra om Frankryk te verlaat. Frankryk het egter 'n lid van NAVO gebly en het in 1995 weer by NAVO se Militêre Komitee aangesluit en werksverhoudinge met NAVO se militêre strukture versterk.

Die skepping van NAVO het dit noodsaaklik gemaak dat militêre tegnologie gestandaardiseer moes word en dat daar 'n eenvormige strategie, deur Bevel-, Beheer- en Kommunikasiesentrums ontwikkel moes word. Daar is gevolglik 'n standaardisasie ooreenkoms gesluit. Die 7.62x51 NAVO rondte is toe onder andere in die 1950's as 'n standaard rondte vir gewere van NAVO-lande in gebruik geneem. Fabrique Nationale se FAL het toe die mees gewilde 7.62 NAVO geweer in Europa geword en diens gedoen tot in die vroeë 1980's. Vliegtuie se bevelseine is ook gestandaardiseer sodat NAVO-vliegtuie op enige NAVO-basis sou kon land. Ná die dood van die fascistiese diktator Francisco Franco en die oorgang na 'n grondwetlike monargie in 1975 kon Spanje op 30 Mei 1982 by NAVO aansluit.

Sedert die val van die Ystergordyn

Ná die val van die Ystergordyn en die oorgang na demokrasie kon die Oos-Europese lande, wat voorheen Warskouverdraglande was, nie net by die Europese Unie aansluit nie, maar ook NAVO-lede word. Reeds op 3 Oktober 1990 het met die Duitse hereniging die gebied van die voormalige Duitse Demokratiese Republiek NAVO-gebied geword. Op 12 Maart 1999 het met Hongarye, Pole en Tsjeggië die eerste Oos-Europese lande NAVO toegetree. Op 29 Maart 2004 het die grootste uitbreiding sedert 1949 gevolg, toe Bulgarye, Estland, Letland, Litaue, Roemenië, Slowakye en Slowenië lede van die verdedigingsalliansie geword het. In die jare daarna het 'n aantal Balkanlande gevolg, met Albanië en Kroasië op 1 April 2009, Montenegro op 5 Junie 2017 en Noord-Masedonië op 27 Maart 2020.

Die Russiese inval in Oekraïne sedert 2022 het in beide Swede en Finland tot 'n spoedige herbesinning oor albei lande se tradisionele militêre neutraliteit gelei.[3] Nadat herhaaldelike meningspeilings 'n toename vir 'n NAVO-lidmaatskap getoon het, het op 17 Mei 2022 Finland en Swede 'n gesamentlike aansoek vir lidmaatskap ingedien,[4] wat op 18 Mei by die NAVO-hoofkantoor in Brussel aan die sekretaris-generaal Jens Stoltenberg oorhandig is.[5] Op 4 April 2023 het Finland NAVO toegetree[6] en op 7 Maart 2024 het Swede gevolg.[7] Daarmee is al die Skandinawiese lande vir die eerste keer sedert die ontbinding van die Kalmarunie in 1523 weer lede van een (en dieselfde) militêre alliansie.[8][9]

Lidlande

Europese NAVO-lidlande volgens jaar
Datum Geskiedenis van die lidmaatskap van die NAVO No.
4 April 1949 Vlag van België België, Vlag van Denemarke Denemarke, Vlag van Frankryk Frankryk, Vlag van Italië Italië, Vlag van Kanada Kanada, Vlag van Luxemburg Luxemburg, Vlag van Nederland Nederland, Vlag van Noorweë Noorweë, Vlag van Portugal Portugal, Vlag van Verenigde Koninkryk Verenigde Koninkryk, Vlag van Verenigde State van Amerika Verenigde State, Vlag van Ysland Ysland 12
18 Februarie 1952 Vlag van Griekeland Griekeland en Vlag van Turkye Turkye 14
6 Mei 1955 Vlag van Wes-Duitsland Wes-Duitslanda 15
30 Mei 1982 Vlag van Spanje Spanje 16
12 Maart 1999 Vlag van Hongarye Hongarye, Vlag van Pole Pole en Flag of the Czech Republic Tsjeggië 19
29 Maart 2004 Vlag van Bulgarye Bulgarye, Vlag van Estland Estland, Vlag van Letland Letland, Vlag van Litaue Litaue, Vlag van Roemenië Roemenië, Vlag van Slowakye Slowakye en Vlag van Slowenië Slowenië 26
1 April 2009 Vlag van Albanië Albanië en Vlag van Kroasië Kroasië 28
5 Junie 2017 Vlag van Montenegro Montenegro 29
27 Maart 2020 Flag of the Republic of Macedonia Noord-Masedonië 30
4 April 2023 Vlag van Finland Finland 31
7 Maart 2024 Vlag van Swede Swede 32

a Op 3 Oktober 1990 het die deelstate of Länder van die voormalige Duitse Demokratiese Republiek tot die voormalige Bondsrepubliek Duitsland toegetree en outomaties deel van die NAVO geword.

Kandidaatlande

'n Huidige kandidaatland is Bosnië en Herzegowina, moontlike kandidaatlande is Georgië en Oekraïne.

Sekretaris-generaals

Jens Stoltenberg, die NAVO se Sekretaris-generaal sedert 1 Oktober 2014[10]

Spitsberade

Die NAVO se Spitsberaad van 1999 in Washington, D.C. – 50 jaar NAVO
Die NAVO se Spitsberaad van 2002 in Praag
NAVO-vennootskappe wêreldwyd:

 NAVO-lidlande

 Kandidaatlande

 Individuele vennootskapsaksieplan

 Vennootskap vir Vrede

 Mediterrane dialoog

 Istanboelse samewerkingsinisiatief

 Wêreldwye vennote

Europese lande volgens lidmaatskap:

 Lidland van slegs die Europese Unie

 Lidland van slegs die NAVO

 Lidland van albei organisasies

  • 17 September 1949: Stigting in Washington, D.C. (Verenigde State)
  • 16 – 19 Desember 1957: Parys (Frankryk)
  • 26 Junie 1974: Brussel (België)
  • 29 – 30 Mei 1975: Brussel (België)
  • 10 – 11 Mei 1977: Londen (Verenigde Koninkryk)
  • 30 – 31 Mei 1978: Washington, D.C. (Verenigde State)
  • 9 – 10 Junie 1982: Bonn (Duitsland)
  • 21 November 1985: Brussel (België)
  • 2 – 3 Maart 1988: Brussel (België)
  • 29 – 30 Mei 1989: Brussel (België)
  • 4 Desember 1989: Brussel (België)
  • 5 – 6 Julie 1990: Londen (Verenigde Koninkryk)
  • 7 – 8 November 1991: Rome (Italië)
  • 10 – 11 Januarie 1994: Brussel (België)
  • 27 Mei 1997: Parys (Frankryk)
  • 8 – 9 Julie 1997: Madrid (Spanje)
  • 22 – 25 April 1999: Washington, D.C. (Verenigde State)
  • 13 Junie 2001: Brussel (België)
  • 28 Mei 2002: Rome (Italië)
  • 21 – 22 November 2002: Praag (Tsjeggië)
  • 28 – 29 Junie 2004: Istanboel (Turkye)
  • 22 Februarie 2005: Brussel (België)
  • 28 – 29 November 2006: Riga (Letland)
  • 2 – 4 April 2008: Boekarest (Roemenië)
  • 3 – 4 April 2009: Baden-Baden (Duitsland), Kehl am Rhein (Duitsland) en Straatsburg (Frankryk)
  • 19 – 20 November 2010: Lissabon (Portugal)
  • 21 – 22 Mei 2012: Chicago (Verenigde State)
  • 4 – 5 September 2014: Newport (Verenigde Koninkryk)
  • 8 – 9 Julie 2016: Warskou (Pole)
  • 25 Mei 2017: Brussel (België)
  • 11–12 Julie 2018: Brussel (België)
  • 3–4 Desember 2019: Watford (Verenigde Koninkryk)
  • 14 Junie 2021: Brussel (België)
  • 24 Maart 2022: Brussel (België)
  • 29–30 Junie 2022: Madrid (Spanje)
  • 11–12 Julie 2023: Vilnius (Litaue)
  • 9–11 Julie 2024: Washington, D.C. (Verenigde State)

Verwysings

  1. (en) "A Star is Born". NAVO. Besoek op 11 Maart 2024.
  2. (en) "What is NATO?". NAVO. Besoek op 11 Maart 2024.
  3. (de) "NATO-Beitritt als Schutzschild in Reichweite". Österreichischer Rundfunk. 9 April 2022. Besoek op 11 Maart 2024.
  4. (de) "Beitrittserklärung unterzeichnet: Schweden beantragt Aufnahme in NATO". Tagesschau. 17 Mei 2022. Besoek op 11 Maart 2024.
  5. (de) Helena Gries, Lukas Zigo, Sonja Thomaser, Nadja Austel, Vincent Büssow, Christian Stör (18 Mei 2022). "NATO-Beitritt: Schweden und Finnland bekommen Unterstützung". Frankfurter Rundschau. Besoek op 11 Maart 2024.{{cite web}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  6. (en) "Finland joins NATO as 31st Ally". NAVO. 4 April 2023. Besoek op 11 Maart 2024.
  7. (en) "Sweden officially joins NATO". NAVO. 7 Maart 2024. Besoek op 11 Maart 2024.
  8. (de) Ronald D. Gerste (30 Mei 2023). "Unabhängigkeit von Schweden – Alter Schwede". Die Zeit. Besoek op 11 Maart 2024.
  9. (de) Linda Koponen (28 Februarie 2024). "Gewinnt die Nato nach Schwedens Beitritt die alleinige Kontrolle über die Ostsee? Es ist kompliziert – eine Analyse in Karten". Neue Zürcher Zeitung. Besoek op 11 Maart 2024.
  10. (en) "NATO Secretary General". NAVO. Besoek op 11 Maart 2024.

Bronnelys

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.