Mtunzini
Mtunzini is 'n kusdorpie aan die N2-nasionale pad ongeveer 140 km noord van Durban in KwaZulu-Natal. Dit lê een uur per motor van Hluhluwe-Imfolozipark en iSimangaliso-vleilandpark. Dit is gewild by binnelanders oor die skoolvakansies, veral as gevolg van matige temperature tydens die wintermaande. Die naam is afgelei van ’n Zoeloe-woord wat “in die skadu” beteken.
Mtunzini | |
---|---|
Mtunzini Mtunzini se ligging in KwaZulu-Natal | |
Koördinate: 28°57′S 31°45′O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | KwaZulu-Natal |
Distrik | King Cetshwayo |
Munisipaliteit | uMlalazi |
Oppervlak | |
• Totaal | 10,43 km2 (4,03 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 2 199 |
• Digtheid | 211/km2 (550/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 72.0% |
• Indiërs/Asiërs | 1.3% |
• Bruin mense | 1.2% |
• Swart mense | 25.1% |
• Ander | 0.4% |
Taal (2011) | |
• Engels | 48.9% |
• Afrikaans | 33.5% |
• Zoeloe | 14.6% |
• Ander | 2.9% |
Poskode (strate) | 3867 |
Poskode (posbusse) | 3867 |
Skakelkode | 035 |
Permanente inwoners: ongeveer 2 200 (ongeveer 34% is Afrikaanssprekend).
Ekonomie
Die dorp het geen groot nywerhede nie, maar wel enkele kleiner ondernemings. Die meeste inwoners werk in omliggende dorpe. In die verlede het akademici en afgetrede suikerboere hulle hier gevestig. Die toerisme- en vakansiebedryf lewer ’n aansienlike inkomste. Gereelde kragonderbrekings en sporadiese waterskaarste kom voor. Daar is ook 'n aanbod van werk uit die naasliggende stamgebiede.
Ligging
Die naaste dorpe is: Ezikhawini (22 km by Universiteit van Zoeloeland); Empangeni (37 km); Richardsbaai (47 km) en Eshowe (44 km). Die reis van Johannesburg na Mtunzini duur ongeveer 6 uur per motor via Standerton, Volksrust en Vryheid. Soos die kraai vlieg, is Mtunzini die naaste kusdorp aan Johannesburg. Dit is een van die redes waarom Telkom se SAFE optiese veselkabel van die Ooste (Singapoer) en SEACOM se optiese veselkabel vanaf Oos-Afrika hier aanland.
Mtunzini beslaan Wyk 9 van die uMlalazi Plaaslike Munisipaliteit, met hoofkantoor in Eshowe.
Besienswaardighede en vermaak
Die Raphiapalm opelug-monument is die tuiste van die bedreigde Witaasvoël (Gypohierax angolensis). Oor die 860 voëlsoorte is al in die inheemse kusbos opgemerk. Daar is ook die Umlalazi-natuurreservaat met 'n besienswaardige wortelboommoeras en -ekostelsel. Gewilde aktiwiteite is perdry, visvang, waterski, diepseehengel, die gebruik van die wandelpaaie in die kusbos en die benutting van die swemstrand (20 km skoon strande). Die dorp het ook 'n buiteklub met muurbal- en gholfbane.
Distrik
Die distrik is 1 100 km2 groot. Die belangrikste ekonomiese aktiwiteit is suikerriet en denneplantasies. Exxaro, 'n Suid-Afrikaanse mynmaatskappy, het gedurende 2012 bekend gemaak dat hy 'n lisensie bekom het om die Fairbreeze-myn, suid van Mtunzini, tot stand te bring. Die plaaslike gemeenskap staan dit teen.
Leesstof
Sien boek The history of Mtunzini, volume 1 en 2, deur F.A. van Jaarsveld.
Sien ook
Eksterne Skakels
Verwysings
- "Hoofplek Mtunzini". Sensus 2011.