Moskee
’n Moskee (Arabies: مسجد, masjid, [masdʒid]; letterlik: "plek van rituele neerlegging"; Persies: مسجد; masjid, meervoud: مساجد; masājid; Turks: cami) dien as ’n aanbiddingsplek vir Moslems, die aanhangers van Islam. Verder dien dit as 'n plek waar politieke, regtelike en lewenspraktiese onderrig binne die Islam plaasvind, asook ’n sosiale ontmoetingsplek. Die huis van Mohammed in Medina word as die eerste moskee beskou. In Afrikaans staan dit bekend as 'n masdjied of masiet, afgelei van Arabies en Persies.
Hoewel daaglikse gebede op enige plek kan plaasvind, word ’n gebed binne 'n moskee as besonder verdienstelik beskou omdat dit die verbintenis met die Islamitiese gemeenskap bevestig. Volgens verskeie Hadit-versamelings is ’n gebed binne die gemeenskap 25 keer meer werd as ’n gebed tuis. Net die Vrydaggebed is definitief aan die moskee gekoppel. Sonder die voltrekking daarvan in die moskee is dit nie geldig nie.
Die Islamitiese aanbidding word deur ’n imam gelei, wat die Koran bestudeer het, terwyl die muezzin deur sy roep die gelowiges aan die vyf daaglikse gebede herinner. Die moskee beskik oor ’n mihrab (gebedsnis) wat in Mekka se rigting wys.
Daar word onderskei tussen eenvoudige moskees, wat deur persone geskenk is, en Vrydagsmoskees, wat deur die staat onderhou word en waar die weeklikse Vrydaggebid plaasvind.
Die gewoonte van die Moslem om hom in 'n knielende houding op die grond te werp, is kenmerkend van die gebedsritueel (salaah). Daar word vyf keer per dag tot Allah (die Allerhoogste) gebid en elke Vrydagmiddag word 'n verpligte gemeenskaplike salaah in die moskee opgesê, 'n geleentheid wat ook 'n preek (choetba) insluit.
Elke stad of stadswyk het ’n spesiale moskee (djamimoskee) vir die byeenkoms, en hoewel die Moslem op ander dae tuis of by sy werk kan bid, is die Vrydaggebed ’n bewys van ware toegewydheid. Die muezzin (aankondiger) kondig vyf maal per dag 'n salaah uit die toring (minaret) bo-op die moskee aan. Diegene wat op sy luide gebedsroep (adhan) ag slaan en na die moskee gaan om te bid, begin met 'n rituele reiniging deur die hande, voete en gesig in 'n syvertrek, wat van ’n groot aantal wasskottels voorsien is, te was.
Elke moskee behoort oor voldoende sanitêre geriewe te beskik. Die aanbiddingsruimte is 'n reghoekige vertrek met matte of tapyte en mag nie met skoene binnegegaan word nie. Benewens enkele lampe en soms ook 'n aantal pilare wat tot teenaan die plafon strek, is die ruimte leeg, met geen beelde of afbeeldings van lewende wesens nie. Die nis (mihrab) waar die gebedsleier (imam) staan, asook die kroonlyste op die binne- en buitemure, is dikwels ryklik versier, laasgenoemde veral met tekste uit die Koran.
Die nis of mihrab is in die middel van een van die mure wat die gebedsrigting (kiebla), naamlik die Kaäba in Mekka, aandui. Dit word hoofsaaklik in groot stedelike moskees aangetref en is meestal met pleisterwerk, houtsneewerk of teëls met geometriese patrone of plantmotiewe versier. Dikwels is daar een of meer pilare aan weerskante van die mihrab. Daar bestaan onsekerheid oor die oorsprong van die mihrab, maar dit is waarskynlik in 712 deur kalief Al Walied I in die moskee van Medina in Saoedi-Arabië ingestel. Die kalief of sy plaasvervanger was sowel prediker as gebedsleier.
Die djami- of Vrydagmoskee het 'n kansel (minbar), wat die eerste keer in 642 in die moskee van Amr in Al Foestat (tans Kaïro) gebruik is. Dit bestaan uit 'n houttrap in die vorm van 'n driehoek en staan dwars teen die muur regs van die mihrab. Die preek word deur die chatib, wat op een van die onderste trappe staan, gelei. 'n Traliehek (maksoera) is later as 'n afskorting tussen die prediker en sy gemeente bygevoeg. Die maksoera kan ook van hout gemaak wees en is soms naby die mihrab geplaas sodat belangrike aanbidders daaragter kan kniel.
Vroue bid in 'n afsonderlike vergaderplek en daar is afsonderlike ruimtes vir godsdiensonderrig en bestudering van die Koran en Islamitiese reg. Tradisioneel het die moskee ’n sosiale, politieke, militêre en opvoedkundige funksie gehad en is Islamitiese leerstellings ten opsigte van tradisie, die reg en die filologie daar onderrig.
Die eerste moskees is as vergaderplekke, geregshowe en bestuursentra gebruik, maar namate die bestuursfunksie daarvan losgemaak is, het die moskee uitsluitlik 'n heilige plek geword. In die Middeleeue is biblioteke en skole dikwels teenaan die moskees gebou, byvoorbeeld die beroemde sentrum van die Islamwetenskap, die Al Azhar-moskee (973) in Kaïro. Die eerste moskee, die in Medina, was niks anders nie as die reghoekige binneplein van die profeet Mohammed se huis, en was die prototipe waaruit die latere moskees ontwikkel het.
Aanvanklik is oop stukke grond vir aanbidding afgebaken en later is die oop binneplein (sahn) met 'n muur rondom en 'n afdak aan die kieblakant gebruik om aanbidders teen reën en die son te beskerm. 'n Suilegang (Iiwanat) wat die binneplein omring, is mettertyd bygevoeg. In omstreeks 700 is 'n minaret tot die moskee toegevoeg, wat aanvanklik bloot ’n hoë struktuur van enige vorm was en later tot verskeie soorte torings ontwikkel het.
Nadat die Arabiere die Christelike kerke oorgeneem het en op grond van die gewoonte om moskees by die grafte van Islamitiese heiliges op te rig (kenmerkend van laasgenoemde was die koepel), het die moskee al hoe meer 'n suiwer geestelike instelling geword. Van die beroemdste moskees is die Kaäba in Mekka (Al-Masdjid al-Haram), wat die pelgrimsentrum van Moslems dwarsoor die wêreld is, die moskee van Medina, waar Mohammed begrawe is, en die Al-Aqsa-moskee in Jerusalem.
Laasgenoemde word beskou as die plek van waar Mohammed na die hemel opgevaar het en staan op die ruïnes van die oudste Joodse tempel. Om aan een salaah in die Al-Aqsa-moskee deel te neem, is na bewering ewe goed as 1000 keer se aanbidding elders. Mohammed het daarenteen beweer dat die hele wêreld 'n moskee is. In Wes-Europese lande, wat betreklik baie gasarbeiders uit Moslemlande huisves, is daar veral in groot stede moskees, meestal sonder die uiterlike kenmerke van koepels en minarette, aangesien hulle hoofsaaklik uit kerke in moskees omgeskep is.
Heilige moskeë
In Islam word drie moskeë as heilig erken, hulle is:
Beeld | Naam | Stad | Land | Aantal minarette | Opmerking |
---|---|---|---|---|---|
Al-Masdjid al-Haram (Die Heilige Moskee) | Mekka | Saoedi-Arabië | 9 | Binne-in die Al-Masdjid al-Haram lê die Kaäba. | |
Al-Masdjid an-Nabawi (Die Moskee van die Profeet) | Medina | Saoedi-Arabië | 10 | Plek van Mohammed se graf. | |
Al-Aqsa-moskee (Die Verste Moskee) | Jerusalem (Ou Stad) | Staat Palestina | 4 | Naby die Al-Aqsa-moskee lê die Rotskoepel. |
Sien ook
- Kerk (gebou), Christelike eweknie
- Sinagoge, Joodse eweknie
- Tempel, eweknie van ander godsdienste
Bronne
- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0-908409-60-5, volume 19, bl. 174
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Moskee.
- (en) "Mosque". Encyclopædia Britannica. Besoek op 24 Mei 2021.