Monotipiese takson
In biologie is 'n monotipiese takson 'n taksonomiese groep met slegs een biologiese tipe. Die term se gebruik verskil effens tussen botanie en dierkunde. Die term monotipies het 'n afsonderlike aanwending in bewaringsbiologie, monotipiese habitat, rakende omskakeling van spesiehabitat waardeur biodiversiteit gekniehalter word, en restourasie-ekologie betreffende 'n dominante indringer biologiese tipe.
Botanie
In botanie, is 'n monotipiese takson 'n takson wat oor slegs een spesie beskik: Ginkgo is 'n monotipiese genus, terwyl Ginkgoaceae 'n monotipiese familie is. Die frase is onakkuraat in gevalle waar 'n spesie meer as 'n enkele tipe bevat; sekere spesies mag verskeie subspesies bevat (of ander infraspesifieke taksa) waarvan elk oor 'n tipe sal beskik. 'n Meer akkurate term in daardie gevalle is unispesifiek.
- 'n Voorbeeld is die familie Cephalotaceae, met slegs een spesie: Cephalotus follicularis, oftewel die dwergkruik.
Dierkunde
In dierkunde, is 'n monotipiese takson 'n takson wat slegs een onmiddellik subordinate takson bevat.[1] Byvoorbeeld bevat 'n monotipiese genus slegs een spesie. Omgekeerd kan mens sê dat die takson wat omvat word, monotipies is binne die groter takson; die genus is dan monotipies binne sy familie.
- 'n Voorbeeld is die genus Tarsius wat monotipies is binne die familie Tarsiidae, wat opsigself monotipies in die Tarsiiformes is. 'n Voorbeeld van 'n monotipiese spesie is die hiasintara (Anodorhynchus hyacinthinus), waarin geen subspesie onderskeibaar is nie. Die baardmees (Panurus biarmicus) beskik oor velerlei subspesies oor die verspreidingsgebied, maar behoort tot die genus Panurus (monotipies wat die spesie betref), wat in die lig van huidige kennis as monotipies binne die familie Panuridae gereken word.
In die opsig van ewolusiebiologie, is taksonomie 'n middel tot die uitleg van filogenetiese kennis. Gevolglik word die totstandbrenging van monotipiese taksa meestal vermy, tensy dit geoorloof blyk te wees, bv. by filogenetiese getuienis soos fossiele of afleidings uit kladistiese analises.[2]
Bewaringsbiologie en habitatte
Monotipiese habitatte word in botaniese en dierkundige kontekste gevind, 'n afdeling van bewaringsbiologie. In restourasie-ekologie van inheemse plantgemeenskappe of habitatte vestig indringerspesies monotipiese stande wat ander spesies vervang en/of veral inheemse soorte, weerhou van vestiging. 'n Dominante kolonisering kan voorkom weens die afskeiding van afwerende chemiese stowwe, nutriënt-monopolisering, of weens die gebrek aan natuurlike kontrole soos herbivore of klimaat wat hulle in hul natuurlike habitat in toom sou hou. Die goue sterdissel-spesie (Centaurea solstitialis) bied 'n voorbeeld van 'n botanies monotipiese habitat deurdat dit tans 'n landgebied van meer as 15 miljoen akker (61 000 km2) in Kalifornië alleen domineer.[3][4] Die sebramossel (Dreissena polymorpha) is 'n uitheemse varswaterspesie wat areas van die Groot Mere en die Mississippirivier-waterskeiding sonder 'n plaaslike predatorkontrole koloniseer, en is 'n voorbeeld van 'n soölogies monotipiese habitat.
Verwysings
- Mayr & Ashlock (1991)
- E.g. Parham & Feldman (2002)
- Mount Diablo Review, herfs 2007PDF (286 KiB), Mount Diablo Interpretive Association. Besoek op 2008-10-15.
- 1970 verspreiding van goue sterdissel in die V.S.A. Geargiveer 31 Desember 2006 op Wayback Machine, 'n kaart van UCD se goue sterdissel-inligtingsblad
Bronne
- Mayr, E. & Ashlock, P.D. (1991): Principles of Systematic Zoology (2de uitgawe). McGraw-Hill. ISBN 0-07-041144-1
- Parham, J.F. & Feldman, C.R. (2002): Generic revisions of emydine turtles. Turtle and Tortoise Newsletter 6: 28–30. PDF fulltext[dooie skakel]