Mongolië

Mongolië, amptelik die Mongoolse Staat (Mongools: Монгол улс in Mongoolse Cyrillies; ᠮᠣᠩᠭᠣᠯ ᠤᠯᠤᠰ [mɔŋˈɢɔɮ ʊɮs] in Mongoolse skrif; Latynse alfabet: Mongol uls), is 'n landingeslote land in Sentraal-Asië en lê tussen Rusland in die noorde en die Volksrepubliek China in die suide. Die hoofstad en grootste stad is Ulaanbaatar (ook bekend as Oelan Bator, Russies: Улан-Батор), waar sowat 45% van dié land se bevolking woon.

Nasa-Satellietbeeld van Mongolië
Монгол улс (Mongools)
ᠮᠣᠩᠭᠣᠯ ᠤᠯᠤᠰ

Mongoolse Staat
Vlag van Mongolië Embleem van Mongolië
Vlag Embleem
Volkslied: Монгол улсын төрийн дуулал
(tr.: Mongol ulsyn töriin duulal)
(Mongools vir: "Volkslied van Mongolië")
Ligging van Mongolië
Hoofstad Ulaanbaatar (Oelan Bator)

47°55′N 106°53′O

Grootste stad Ulaanbaatar (Oelan Bator)
Amptelike tale Mongools
Regering Unitêre semi-
presidensiële republiek[1][2][3]
Ukhnaagiin Khürelsükh
Luvsannamsrain Oyun-Erdene
Onafhanklikheid
Vorming
• Xiongnu-ryk
Mongoolse Ryk
• Onafhanklikheid verklaar
van die Mantsjoe-Qing-ryk
• Mongoolse Volksrepubliek
• Huidige grondwet


209 v.C.
1206

29 Desember 1911
26 November 1924
13 Februarie 1992
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
1 566 000 km2  (18de)
605 000 myl2
0,67
Bevolking
 - 2020-skatting
 - 2015-sensus
 - Digtheid
 
3 353 470[4] (134ste)
3 057 778[5]
2,07 / km2 (194ste)
5,4 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2021-skatting

$42,412 miljard[6] (115de)
$12 431[6] (93ste)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2021-skatting

$14,233 miljard[6] (133ste)
$4 172[6] (116de)

MOI (2019) 0,737[7] (99ste)    hoog
Gini (2018) 32,7[8]   medium
Geldeenheid Tögrög (MNT)
Tydsone
 - Somertyd
(UTC+7/+8[9])
nie toegepas nie (UTC+8/+9[10])
Internet-TLD .mn, .мон
Skakelkode +976

Mongolië het in 2020 'n bevolking van 3 353 677 gehad en beslaan 'n oppervlakte van 1 566 000 km². Volgens oppervlakte is Mongolië naas Kasakstan die grootste land wat deur land omring word. Albei lande lê net sowat 37 km uitmekaar. Daarbenewens is Mongolië die ylbevolkste land ter wêreld.

Mongolië se gebied is ongeveer gelyk aan dié van die historiese gebied Buite-Mongolië en die term word soms gebruik om die onafhanklike land van die aangrensende Chinese outonome gewes Binne-Mongolië te onderskei. Die land se noorde word oorwegend gekenmerk deur steppe, terwyl die suide deur die Gobiwoestyn oorheers word.

Mongolië se geskiedenis is veral bekend vir die Mongoolse Ryk wat in 1206 deur Djengis Khan gestig is nadat hy die Mongoolse en Turkse volke in die gebied van die huidige Mongolië verenig het. Daarna het hy en sy opvolgers groot dele van Sentraal- en Wes-Asië, China, Korea en Oos-Europa verower.

Ligging en klimaat

Klimaatsones in Mongolië volgens die Köppen-klimaatklassifikasie
Kaart van Mongolië
Topografiese kaart van Mongolië

Die gebied van Mongolië beslaan 'n oppervlakte van 1 556 000 km² en die gemiddelde hoogte bo seespieël is 1 580 m. Die land is in die oostelike deel van Sentraal-Asië geleë, en grens in die noorde aan Siberië en in die suide aan die Volksrepubliek China.

'n Groot gedeelte van die westelike en noordelike bergagtige gebiede is altyd met sneeu bedek. Die oostelike deel van Mongolië bestaan uit heuwelagtige vlaktes, terwyl die suide – wat ongeveer ’n derde van die land se oppervlakte beslaan – uit die Gobiwoestyn bestaan.

Die grootste gedeelte van hierdie woestyn is eintlik halfwoestyngebied, met heelwat grasvelde (steppes) en oases. Die Gobi verdeel die streek in twee gebiede: die noordelike deel (vroeër bekend as Buite-Mongolië) en nou 'n onafhanklike staat, die Mongoolse Staat (1 556 000 km²); en die suidelike deel, Binne-Mongolië (1 778 000 km²), 'n outonome gebied binne die Volksrepubliek China.

Mongolië het 'n kontinentale klimaat met koue winters en warm somers. Die gemiddelde temperatuur is 4 °C, met temperature van tot -34 °C in Januarie in die noorde, en somertemperature van tot 23 °C in die suide. Die weer is dikwels onvoorspelbaar, sodat temperature binne een dag met 30 °C kan wissel.

Sand- en haelstorms kan onverwags voorkom, en in die somermaande kan skielike reënbuie oorstromings veroorsaak. Hoewel die swaar sneeuneerslae slegs in die bergagtige gebiede voorkom, word die steppes ook soms deur hewige sneeustorms getref.

Bevolking

Die meeste inwoners woon in die akkerbougebied in die weste, terwyl die Gobiwoestyn baie yl bewoon is. Ongeveer 25% van die bevolking woon in die hoofstad, Ulaanbaatar, en 25% in ander stedelike nedersettings. As gevolg van 'n dalende sterftesyfer en 'n stygende geboortesyfer is die bevolkingsaanwas hoog. Die bevolking is taamlik homogeen, met 'n meerderheid Mongole.

Die belangrikste subgroep is die Khalkha-Mongole (75% van die bevolking). Ander Mongoolse subgroepe is onder andere die Boerjate en die Dariganga. Die grootste nie-Mongoolse groep is die Kasakke (ongeveer 4% van die bevolking), 'n groep wat verwant is aan die Mongole maar 'n Turkse taal praat. Daar woon ook Mongole in Binne-Mongolië en Rusland.

Ulaanbaatar is die hoofstad en grootste stad van Mongolië

Alle Mongole toon geneties dieselfde fisieke eienskappe. Hulle is kort (selde langer as 1,68 m), stewig gebou, met 'n ivoorkleurige tot bruin vel en swart hare. Kenmerkend is die kort skedels en ovaal of ronde gesigte, waardeur die hoë wangbene, skuins oë en neusstruktuur die indruk van platheid wek. Khalkha-Mongools, 'n subfamilie van die Altaïese tale, is die spreektaal van Mongolië, terwyl die geskrewe taal 'n Cyrilliese alfabet is waarvan die lettertekens aan Russies, Bulgaars en Serwies ontleen is.

Tradisioneel het die oorgrote meerderheid van die bevolking Lamaïsme as godsdiens aangehang. Dit is 'n vorm van Tibettaanse Boeddhisme. Godsdiens speel in Mongolië 'n baie geringe rol en die land het dan ook geen staatsgodsdiens nie. Formeel bestaan daar nog godsdiensvryheid, maar die geestelike en wêreldlike mag van die lamas (priesters) is beperk en godsdiensbeoefening word nie aangemoedig nie. In die hoofstad Ulaanbaatar bestaan daar wel nog 'n Lamaïstiese klooster wat funksioneer.

Sosiale maatreëls

Hoewel die sterftesyfer in Mongolië in die laaste paar dekades baie gedaal het, veroorsaak swak higiëniese toestande en wanvoeding, onder meer vitamiengebreke, nog heelwat probleme.

Siektes soos tuberkulose, geslagsiektes, geelsug en tifus kom algemeen voer, want ten spyte van 'n groot toename in die getal medici, is mediese toerusting skaars en word hospitale nog slegs in die stedelike sentra aangetref. Behandeling is egter byna altyd gratis. Op die gebied van die onderwys het Mongolië groot vordering gemaak.

Die Mongoolse leiers beskou die onderwys, wat vroeër in die hande van die lamas was, as ’n geskikte instrument vir die opbouing van 'n nuwe gemeenskap. Voor die Tweede Wêreldoorlog was feitlik die hele bevolking analfabete en is daar klem gelê op die bevordering van die elementêre lees- en skryfkuns. Na die Tweede Wêreldoorlog is meer aandag aan middelbare en hoër onderwys gegee.

Onderwys is gratis en verpligtend vir alle 8- tot 14-jariges, en as gevolg daarvan behoort analfabetisme nou tot die verlede en is die skolingsgraad in Mongolië hoog. Die regering skep ook geriewe om die kinders van nomadiese veetelers van leermateriaal, klere en huisvesting te voorsien. In die praktyk beteken dit dat baie kinders van hulle ouers geskei word. Kleuterskole word ook opgerig om vroue die geleentheid te gee om tot die arbeidsmark toe te tree.

In Ulaanbaatar is die Staatsuniversiteit van Mongolië, asook party hoërskole en inrigtings vir die opleiding van mediese personeel, landboukundiges en onderwysers. Baie studente studeer in Rusland of in een van die Oos-Europese lande. Daar was in die laaste paar dekades 'n groot verbetering in behuising. Saam met die industrialisasie en die gevolglike verstedeliking, verruil 'n steeds groter aantal Mongole die tradisionele joert (of gher), 'n tentagtige, semipermanente nomadewoning, vir ’n woonstel in baksteenwoonstelkomplekse wat deur die regering opgerig word. Op die platteland is die joert egter steeds belangrik, veral in vaste nedersettings.

Ekonomie

Oyu Tolgoi het sowat 18 000 werkers in diens
Ulaanbaatar-uitsig met die Blue Sky Tower aan die linkerkant

Op ekonomiese gebied was Mongolië eeue lank van nomadiese veetelers afhanklik. Tot met die Tweede Wêreldoorlog het die Mongole hulle op veeteelt toegespits en was hulle vir voedsel, klere en behuising volkome daarvan afhanklik. Ongeveer die helfte van die bevolking is steeds van veeteelt afhanklik, maar die omstandighede waaronder dit bedryf word, het baie verander. In die begin van die twintigerjare (met die ontstaan van die Volksrepubliek Mongolië) is daar begin met ’n sosialiseringsproses wat veral na die Tweede Wêreldoorlog op dreef gekom het.

Die Mongole het begin wegbeweeg van 'n suiwer agrariese veeteeltekonomie na 'n agraries-industriële ekonomie. Die groot veekuddes behoort nie meer aan die lamas of wêreldlike vorste, tot wie die arat of veewagter vroeër in ’n feodale verhouding gestaan het nie. Die kuddes is nou in die gemeenskaplike besit van 'n agrariese koöperasie. Slegs 'n klein aantal veewagters trek deesdae met die vee rond, sodat mannekrag bespaar en op ander plekke (soos in die nywerhede) benut kan word.

Mongolië se belangrikste uitvoerprodukte is lewende hawe, vleis, wol, klere en leer, en daar word hoofsaaklik na Rusland, die Volksrepubliek China en die Verenigde Koninkryk uitgevoer. Sowat 33% van die land se invoere kom uit die Volksrepubliek China, Rusland, Japan, Verenigde State en Suid-Korea, en sluit landboumasjinerie, voertuie, petroleum en petroleumprodukte, suiker en suikerprodukte, asook koring in. In 1921 was kameelkaravane Mongolië se hoofvervoermiddel.

Geskiedenis

Die uitbreiding van die Mongoolse Ryk van 1206 tot 1297

Die Mongole se voorouers was die Hunne (of Hsiungnu), wat van ongeveer die 4de tot die 1ste eeu v.C. in Asië gewoon het. Na ’n paar eeue van oorlog met die Han-Chinese, wat deur onderlinge burgeroorloë vererger is, het die Hsiung-nu-konfederasie ontbind. Party stamme het hulle in China gevestig, terwyl ander weswaarts tot in Europa getrek het.

In 1206 het nomadiese stamme onder leiding van Djengis Khan 'n enkele Mongoolse feodale staat gevorm. Djengis Khan en sy opvolgers het ’n groot gedeelte van Eurasië geplunder en verower. In 1691 is Mongolië, wat verswak is deur twiste tussen die khans (vorste) en invalle van buite, deur die invallers uit Mantsjoerye verower. Eers in 1911 het Mongolië 'n onafhanklike feodale monargie geword.

Aangevuur deur die Oktoberrewolusie van 1917 in Rusland het Damdini Sühbaatar ('n nasionale held) militante ondergrondse groepe georganiseer en die Russe en Chinese uit Mongolië begin verdryf. Sühbaatar se magte het op 11 Junie 1921 die oorhand gekry, en op 26 November 1924 is die Volksrepubliek Mongolië amptelik uitgeroep met Ulaanbaatar as hoofstad. (Ulaanbaatar beteken "rooi held".) Naas die Sowjetunie het die Volksrepubliek Mongolië die tweede kommunistiese staat in die wêreld geword en die Sowjetunie het van die begin af meegehelp dat die bewind gehandhaaf word.

Verwysings

  1. (en) Shugart, Matthew Søberg (September 2005). "Semi-Presidential Systems: Dual Executive and Mixed Authority Patterns" (PDF). Graduate School of International Relations and Pacific Studies. Verenigde State: University of California, San Diego. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 19 Augustus 2008. Besoek op 21 Februarie 2016.
  2. (en) Shugart, Matthew Søberg (Desember 2005). "Semi-Presidential Systems: Dual Executive And Mixed Authority Patterns" (PDF). French Politics. Palgrave Macmillan Journals. 3 (3): 323–351. doi:10.1057/palgrave.fp.8200087. Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 4 Maart 2016. Besoek op 21 Februarie 2016.
  3. (en) Odonkhuu, Munkhsaikhan (12 Februarie 2016). "Mongolia: A Vain Constitutional Attempt to Consolidate Parliamentary Democracy". ConstitutionNet. International Institute for Democracy and Electoral Assistance. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2020. Besoek op 10 April 2019.
  4. (en) "Renewed 2015–2045 population projection". www.1212.mn. Mongoolse Diens vir Statistiese Inligting. 1 Januarie 2017. Besoek op 28 Mei 2020.
  5. (en) "2015 population and housing by census of mongolia". www.1212.mn. Mongoolse Diens vir Statistiese Inligting. 1 Januarie 2016. Besoek op 28 Mei 2020.
  6. (en) "Mongolia". Internasionale Monetêre Fonds. April 2021. Besoek op 30 Junie 2021.
  7. (en) "Human Development Report 2020" (PDF). United Nations Development Programme. 2020. Besoek op 30 Junie 2021.
  8. (en) "Mongolia". Wêreldbank. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Januarie 2020. Besoek op 30 Junie 2021.
  9. (en) "Mongolia Standard Time is GMT (UTC) +8, some areas of Mongolia use GMT (UTC) +7". Time Temperature.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2020. Besoek op 4 Oktober 2017.
  10. (en) "Clock changes in Ulaanbaatar, Mongolia". timeanddate.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Mei 2020. Besoek op 10 April 2019.

Bronne

Algemeen

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.