Mitsubishi J2M
Die Mitsubishi J2M was 'n onderskeppingsvliegtuig wat deur die Japannese Keiserlike Vloot gebruik is tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die vliegtuig is ontwerp deur dieselfde span wat die A6M Zero ontwerp het. Dit was landgebaseer vanwaar dit die vyand se bomwerpers aangeval het. Die vliegtuig het weggebreek van Japannese tradisie van beweegbaarheid ten alle koste na spoed en klimvermoë. Die neus was vaartbelyn, die stertwiel kon terugvou en die vlerkontwerp was die laminêre ontwerp met aksieflappe vir meer beweegbaarheid. Die kleiner, meer vaartbelynde neus is verkry deur die enjin verder terug te skuif en die enjin en skroef met 'n verlengingskag te verbind.
Mitsubishi J2M Raiden | |
---|---|
Tipe | Onderskeppingsvliegtuig |
Vervaardiger | Mitsubishi |
Nooiensvlug | 20 Maart 1942 |
Bekendstelling | Desember 1942 |
Onttrek | 1945 |
Hoofgebruiker | Japannese Keiserlike Vloot |
Aantal gebou | 671 |
Die eerste J2M1 modelle het in Maart 1942 gevlieg maar het tegniese probleme ondervind en is afgekeur deur die vloot. 'n Nuwe Kasei 23a-enjin is geïnstalleer en model J2M2 was in produksie vanaf Oktober 1942. Maar weens verdere tegniese probleme is die vliegtuig eers in Desember 1943 in diens gestel as die J2M3 en toegerus met vier 20 mm kanonne in die vlerke. Die Japannese het die vliegtuig die Raiden (weerligstraal) genoem en die Geallieerdes het dit die Jack genoem.
Tegniese besonderhede
Item | Statistiek |
---|---|
Aantal motore | 1 |
Tipe motor | Skroef |
Vervaardiger | Mitsubishi MK4R-A Kasei 23a 14-silinder stermotor |
Kraglewering per motor | 1 820 perdekrag |
Vlerkspan | 10,82 m |
Lengte | 9,95 m |
Hoogte | 3,95 m |
Vlerkoppervlakte | 20,05 m2 |
Maks. opstygmassa | 3 945 kg |
Maks. snelheid | 595 km/h |
Operasionele hoogte | 11 700 m |
Togafstand | 1 055 km |
Klimvermoë | 1 170 m per minuut |
Bewapening | Vier 20 mm kanonne in vlerke en twee 60kg bomme |
Sien ook
Bron
- Crosby, Francis: THE WORLD ENCYCLOPEDIA OF FIGHTERS & BOMBERS. 2015. ISBN 978-1-84476-917-9