Milnerisme
Lord Alfred Milner het 'n belangrike rol gespeel in die voorspel tot die Anglo-Boereoorlog. Na die oorlog is hy aangestel as die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika en goewerneur van Transvaal en die Oranjerivierkolonie.
Die woord Milnerisme is deur Afrikaners geskep en het betrekking gehad op die aspekte van sy beleid wat vir hulle onaanvaarbaar was, naamlik verengelsing deur middel van immigrasie en onderwys, en die stigting van 'n verenigde Britse Suid-Afrika, waarin daar vir Afrikaner sosialisme geen plek sou wees nie. In die opsig het Milnerisme vir die Afrikaner dieselfde betekenis as die begrip imperialisme gehad. Lord Alfred Milner (1854- 1825), wat 'n leidende rol gespeel het in die voorspel tot die Anglo-Boereoorlog, is na die Vrede van Vereeniging as goewerneur van Transvaal en die Oranjerivierkolonie aangestel.
Hy was ook die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, maar het sy amp as goewerneur van die Kaapkolonie in 1901 neergelê. Terwyl die oorlog nog in Februarie 1901 aan die gang was, is Milner reeds deur die Britse regering versoek om die administrasie van die twee republieke, wat in 1900 amptelik geannekseer is, oor te neem. Hy was sterk gekant teen Kitchener se beleid van die verwoesting van plase en die internering van die burgerlike bevolking in konsentrasiekampe omdat hy besef het dat dit die taak van heropbouing sou bemoeilik.
Brittanje het die oorlog teen die Boererepublieke gevoer sodat hy sy oppergesag in Suid-Afrika kon vestig. Die doel is met die Vrede van Vereeniging bereik: die 2 republieke is in Britse kroonkolonies omgeskep en al die gebiede in Suid-Afrika was dus onder die Britse vlag. Milner het die oorlog egter net as ʼn voorspel tot 'n groter taak beskou.
Hy wou naamlik die Britse gesag konsolideer deur 'n verenigde Suid-Afrika as deel van die Britse Ryk tot stand te bring. Die vernaamste aspekte van die beleid wat hy met die doel voor oë gevoer het, was die heropbou en ekonomiese rehabilitasie van Transvaal en die Vrystaat, verengelsing (deur middel van die onderwys en die vestiging van Britse immigrante) en kroonkoloniebestuur totdat die verengelsing volkome geslaag was.
Heropbou
Die proses van heropbou het vinnig plaasgevind en was in groot mate suksesvol. Hoe groot die omvang van Milner se taak was, blyk duidelik uit die getal persone wat direk na die oorlog hervestig of gerepatrieer moes word: meer as 30 000 Boere-krygsgevangenes, van wie ongeveer 24 000 in oorsese kampe was, meer as 110 000 burgerlikes en 100 000 Swartes in konsentrasiekampe oor Suid-Afrika versprei, en 50 000 Uitlanders. 'n Jaar na die oorlog was die hervestigingstaak grootliks afgehandel.
Die Vrede van Vereeniging het voorsiening gemaak vir 'n bedrag van 3 miljoen pond om mense wat vanweë die oorlog nie 'n bestaan kon voer nie, op die been te help. In werklikheid is meer as die bedrag bestee en was die totale koste van Milner se rehabilitasieprogram meer as 16 miljoen pond. Die boere is van die noodsaaklikste lewensmiddele voorsien om 'n bestaan te kan voer en hul boerderye weer aan die gang te kry, terwyl die Britse onderdane en ander nie-strydendes vergoeding ontvang het vir die verliese wat hulle tydens die oorlog gely het.
Lord Joseph Chamberlain, die Britse minister van kolonies, het Suid-Afrika in Januarie 1903 besoek en 'n lening van 35 miljoen pond aan Transvaal en die Vrystaat toegestaan. Omtrent twee derdes van die bedrag is deur Milner gebruik om die spoorweë in die twee kolonies te nasionaliseer en nuwe spoorweë te bou. In die eerste vyf jaar na die oorlog het die spoornet verdubbel. ʼn Interkoloniale raad wat deur Milner gestig is om hom oor die gemeenskaplike belange van die kolonie te adviseer, het aanbeveel dat die spoornet van die Vrystaat en Transvaal geamalgameer word om die Sentraal-Suid-Afrikaanse Spoorweë te vorm.
‘n Eenvormige stelsel van spoorwegtariewe vir al die Britse gebiede suid van die Zambezirivier is in Maart 1903 op 'n konferensie in Bloemfontein ingevoer. Die onderlinge mededinging tussen die spoorweë oor die vervoer van produkte het egter voortgeduur en in die daaropvolgende jare in intensiteit toegeneem. As deel van Milner se heropbouprogram is nuwe paaie gebou, talle openbare geboue volgens die styl van sir Herbert Baker opgerig, ʼn bosboudepartement gestig, wetenskaplike landboumetodes bevorder, die Randse Waterraad in die lewe geroep en plaaslike besture ingestel.
Kindergarten
Milner se suksesvolle administrasie van Transvaal en die Vrystaat was in groot mate aan die bekwaamheid van sy personeel te danke. Hulle is almal op sy aandrang uit Oxford, waar Milner gestudeer het, na Suid-Afrika gebring om hom in sy taak by te staan. Weens hul jeugdigheid (almal was jonger as 30) is hulle "Milner's Kindergarten" of die "Oxford Kindergarten" genoem.
Die bekendstes onder hulle was Patrick Duncan, Philip Kerr, Geoffrey Robinson, Lionel Curtis, Robert Brand, Richard Feetham en John Buchan. Lionel Curtis, die eerste stadsklerk van Johannesburg, het die voortou geneem in die stigting van plaaslike besture, en bekendheid verwerf as die skrywer van Civitas Dei. Patrick Duncan (later sir) het Transvaal se finansies gereorganiseer. Hy het hom in Suid-Afrika gevestig en was die eerste Suid-Afrikaanse burger wat in die amp van goewerneur-generaal aangestel is.
Geoffrey Robinson, wat sy naam na Dawson verander het, was later vir 25 jaar redakteur van The Times in Londen. Richard Feetham, wat hom ook in Suid-Afrika gevestig het, het 'n regter van die Appèlhof geword. Robert Brand (later lord Brand) was sekretaris van die Transvaalse afvaardiging na die Nasionale Konvensie in 1908/09. John Buchan, wat bekendheid verwerf het as skrywer van fiksie, biografieë en geskiedenis, was met sy dood in 1940 goewerneurgeneraal van Kanada. Philip Kerr was die private sekretaris van Lloyd George en die Britse ambassadeur in Washington, waar hy in 1940 gesterf het. Die bekende argitek sir Herbert Baker is ook met die Kindergarten geassosieer.
Goudmynbedryf
Ondanks Milner se groot administratiewe welslae, het die ekonomie nie so vinnig herstel as wat hy gehoop het nie. Dit was deels te wyte aan die kwaai droogtes van 1902/03, maar merendeels aan die arbeidstekort, wat die produksie van die goudmyne gekortwiek het.
Reeds in Desember 1901 het Milner ʼn ooreenkoms met Mosambiek aangegaan ingevolge waarvan arbeiders vir die goudmyne in Mosambiek gewerf kon word in ruil vir gunstige tariewe op die Delagoabaaise spoorlyn. Die arbeidstekort het egter voortgeduur. Pogings om ongeskoolde Blanke arbeid te gebruik en arbeiders in Indië en Afrika te werf, het almal misluk.
In Februarie 1904 het die Britse ministerie van kolonies aan Milner toestemming verleen om arbeiders op kontraktuele voorwaardes uit China in te voer. Die gebruik van Chinese arbeiders het die goudproduksie tussen 1903 en 1907 laat verdubbel, maar hewige kritiek uit alle oorde ontlok. Uit die Liberale opposisiekringe in Brittanje het die kreet van “slawerny” opgegaan (Milner het ligte lyfstraf toegelaat) en in Suid-Afrika het die aangeleentheid die Engelssprekende bevolking verdeel.
Dit het ook deels daartoe bygedra dat die Afrikaners begin het om hulle weer polities te organiseer. Nadat Transvaal verantwoordelike bestuur gekry het (1906), is die Chinese arbeiders geleidelik gerepatrieer. Die laaste groep het Transvaal in 1910 verlaat.
Verengelsing
In Milner se toekomsplanne vir Suid-Afrika was daar geen plek vir Afrikanernasionalisme, of selfs die voortbestaan van die Afrikaners as ʼn invloedryke politieke groep nie. Sy beleid was dus daarop gemik om Suid-Afrika - meer spesifiek Transvaal en die Vrystaat- te verengels.
Die ideaal van ʼn verenigde Suid-Afrika kon nie verwesenlik word voordat die gevaar van politieke oorheersing deur die Afrikaners uit die weg geruim was nie. Reeds gedurende die oorlog het E.B. Sargant, wat in Januarie 1901 aangestel is as direkteur van onderwys in Transvaal en die Vrystaat, begin om skole in dorpe en konsentrasiekampe te stig waar In teenstelling met die suksesvolle materiële heropbou van die land, het die verengelsingsbeleid misluk.
Die oorlog het Afrikanernasionalisme nie uitgewis soos Milner gehoop het nie, maar dit eerder versterk. Ondanks die verdeeldheid in Afrikaner-geledere (bittereinders teen hensoppers en twiste tussen die Transvalers, die Vrystaters en die Kaapse rebelle) het hulle soos een man saamgestaan teen wat hulle as "Milnerisme" bestempel het. In die kroonkolonies was die Afrikaners op politieke gebied magteloos, maar hulle reaksie het die vorm van 'n kulturele herlewing aangeneem. Met die herstigting van J.H. Hofmeyr se Taalbond in die Kaapkolonie in 1903 het die Tweede Afrikaanse Taalbeweging 'n aanvang geneem, nie net in die Kaapkolonie nie, maar deur die hele Suid-Afrika.
Digters soos C. Louis Leipoldt, Eugene Marais, Totius en Jan Celliers het op die voorgrond getree en hul inspirasie juis uit die Anglo-Boereoorlog geput. Die oorlog was 'n gemeenskaplike ervaring wat die samehorigheidsgevoel onder die Afrikaners versterk het. In reaksie op die Onderwysordonnansie van 1903 het die Afrikaners met finansiële steun uit Nederland, en onder leiding van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, talle CNO-skole (Christelik-Nasionale Onderwysskole) gestig, waar onderrig in die moedertaal gegee is.
Die droogte van 1902/03 het grootliks bygedra tot die mislukking van Milner se immigrasieskema. Die Britse immigrante wat met die finansiële steun van die owerheid op die platteland - waar die Afrikaners verreweg in die meerderheid wasgevestig is, het dit moeilik gevind om hulle by die Suid-Afrikaanse boerderyomstandighede aan te pas. Die meeste van hulle het hulle na die stede gewend en die wat op die platteland agtergebly het. Moes finansieel deur die owerheid ondersteun word.
Die setlaars wat op die platteland agtergebly het, was so ver in die minderheid dat hulle self verafrikaans het. Die volkome verengelsing van die stede was ook nie suksesvol nie omdat die ekonomiese depressie na die oorlog meer Afrikaners na die dorpe en stede gelok het. Boonop het die hoë geboortesyfers onder die Afrikaners, wat in die 19e eeu al begin het, na die oorlog voortgeduur. Die Blanke arbeidsmark in Transvaal en die Vrystaat was teen die einde van 1903 al versadig, sodat verdere emigrasie uit Brittanje onwenslik geword het.
In Februarie 1903 het Milner die Transvaalse Wetgewende Vergadering (wat net uit amptenare bestaan het) uitgebrei om ook benoemde plaaslike inwoners in te sluit. Sy uitnodiging aan generaals Louis Botha, Jan Smuts en Koos de la Rey om in die raad sitting te hê is deur hulle van die hand gewys. Hulle het verkies om nie met “Milnerisme " geassosieer te word nie en het voortgegaan om die Afrikaners polities onder die dekmantel van landbouverenigings te organiseer.
Voordat Milner Suid-Afrika in April 1905 verlaat het, het die Afrikaners in Transvaal reeds hul eerste politieke party sedert die oorlog, Het Volk, onder leiding van Louis Botha gestig (Januarie 1905). In die daaropvolgende jaar is die Orangia-Unie, onder leiding van Abraham Fischer en J.B.M. Hertzog, In die Vrystaat gestig. 'n Konsepgrondwet waarvolgens beperkte selfbestuur aan Transvaal en die Oranjerivierkolonie toegestaan sou word, is deur Milner opgestel en met wysigings deur die minister van kolonies, Alfred Lyttelton, aanvaar.
Die Lyttelton-grondwet is nooit in werking gestel nie, omdat 'n nuwe Liberale regering in Desember 1905 in Brittanje aan die bewind gekom het. Die nuwe regering, onder leiding van sir Henry Campbell-Bannerman, het verantwoordelike bestuur aan die twee kroonkolonies toegestaan en hulle daardeur op gelyke voet met Natal en die Kaapkolonie geplaas (1906/07).
In Transvaal het Het Volk die algemene verkiesing gewen en in die Oranjerivierkolonie die Orangia-Unie. In minder as 5 jaar na die Vrede van Vereeniging was Milner se ideale reeds verydel: die politieke mag wat die Afrikaners verkry het, het die voortbestaan van hul kultuur en nasionale gevoelens verseker en daartoe gelei dat hulle 'n leidende rol in die stigting van die Unie van Suid-Afrika gespeel het.
Bronnelys
- Wêreldspektrum, 1982, ISBN 0908409605, volume 19, bl. 79