Mia Farrow

Maria de Lourdes Villiers Farrow (gebore 9 Februarie 1945) is 'n Amerikaanse aktrise. Sy het die eerste keer aandag getrek met haar rol as Allison MacKenzie in die sepie Peyton Place en haar daaropvolgende kort huwelik met Frank Sinatra. Vir haar vroeë rolprentrol as Rosemary in Roman Polanski se rolprent Rosemary's Baby (1968) is sy benoem vir 'n Bafta en Golden Globe. Sy het in die 1970's in nog verskeie rolprente verskyn, soos Follow Me! (1972), The Great Gatsby (1974) en Death on the Nile (1978).

Mia Farrow
'n Beeld van die betrokke persoonlikheid.
Farrow in 2018

Geboortenaam Maria de Lourdes Villiers Farrow
Geboorte 9 Februarie 1945 (1945-02-09)
Los Angeles, Kalifornië, VSA
Nasionaliteit Amerikaans
Lewensmaat
Kinders 14
Beroep(e) Aktrise, aktivis
Aktiewe jare 1959-tans
Rolprente Rosemary's Baby
Toekennings Golden Globe vir Guns at Batasi
Internet-rolprentdatabasis-profiel

Farrow was van 1980 tot 1992 in 'n verhouding met die akteur-regisseur Woody Allen en het in dié tydperk in 13 van sy rolprente verskyn; die eerste een was A Midsummer Night's Sex Comedy (1982). Sy is verskeie kere groot lof toegeswaai vir haar rolle in Allen-prente, en is vir Golden Globes benoem vir Broadway Danny Rose (1984), The Purple Rose of Cairo (1985) en Alice (1990). Sy het ook gespeel in Hannah and Her Sisters (1986), Crimes and Misdemeanors (1989) en Husbands and Wives (1992). In 1992 het Farrow Allen in die openbaar daarvan beskuldig dat hy hulle aangenome dogter, Dylan Farrow, seksueel misbruik. Allen is nooit aangekla nie en het die aantygings ten sterkste ontken.

Sedert die 2000's het Farrow in 'n paar televisierolle verskyn, onder meer 'n herhalende rol in Third Watch (2001-2003). Sy het ook byrolle gehad in rolrpente soos The Omen (2006), Be Kind Rewind (2008) en Dark Horse (2011), sowel as die Netflix-reeks The Watcher (2022).

Farrow is ook bekend vir haar omvattende werk as Unicef-ambassadeur. Sy is betrokke by humanitêre aktiwiteite in Darfoer, Tsjad en die Sentraal-Afrikaanse Republiek. In 2008 het die tydskrif Time haar aangewys as een van die invloedrykste mense in die wêreld.[1]

Vroeë lewe en familie

Farrow (heel links) en haar gesin, 1950.

Maria de Lourdes Villiers Farrow[2] is op 9 Februarie 1945[3][4] in Los Angeles, Kalifornië, gebore as die derde oudste kind van die Australiese rolprentregisseur John Farrow en sy tweede vrou, die Ierse aktrise Maureen O'Sullivan. Sy was een van sewe kinders. Haar ouer broers was Michael en Patrick,[5] en haar jonger broer John Charles.[6] Haar jonger susters was Prudence, Stephanie en Tisa.[7]

Farrow het in Beverly Hills grootgeword in 'n tipiese Katolieke huis.[8][9] Haar gesin het haar beskryf as eksentriek en verbeeldingryk,[10] en sy sou soms vertonings "met twee dolke en vals bloed" hou vir toerbusse wat verby sterre se huise ry.[11] Op twee jaar oud het sy haar rolprentdebuut gemaak in die kort dokumentêr Unusual Occupations: Film Tot Holiday (1947).[12] Op nege het sy polio gekry.[13] Sy is vir drie weke in afsondering geplaas[14] en het later gesê die ondervinding was "die einde van my kinderjare".[11]

In 1958 het die Farrow-gesin vir 'n kort ruk na Spanje verhuis, waar haar pa die fliek John Paul Jones (1959) geregisseer het. Farrow, toe 13 jaar oud, verskyn kortliks in die prent (sonder 'n krediet).[10]

Op 28 Oktober 1958 is Farrow se oudste broer, Michael, in 'n weermagvliegongeluk dood.[10][15] Farrow se pa het kwaai begin drink en dit het spanning in die huwelik veroorsaak.[16] In haar memoires onthou Farrow woeste argumente tussen haar ouers wanneer sy hulle besoek het.[17]

Toe Farrow 16 was, het sy saam met haar gesin na Amerika teruggekeer.[18][10] In dié tyd het haar ouers finansieel gesukkel en haar ma het na New York verhuis om in Broadwayproduksies op te tree.[19] Farrow se pa het in Kalifornië agtergebly, waar hy die volgende jaar, toe sy 17 was, aan 'n hartaanval gesterf het.[20]

Die gesin het min geld gehad ná haar pa se dood, en sy het begin werk om haar en haar sibbes te onderhou. Sy het aanvanklik as 'n model gewerk.[21] Sy het op die verhoog beland as 'n plaasvervanger in 'n New Yorkse produksie van The Importance of Being Earnest.[22]

Loopbaan

1963-'69: Die begin en 'n deurbraak

Farrow in Guns at Batasi (1964).

Farrow het 'n oudisie afgelê vir die rol van Liesl von Trapp in The Sound of Music (1965), maar het nie die rol gekry nie.[23] Die filmtoets bestaan nog en verskyn op die DVD vir die 40ste herdenking van die fliek.[24] Sy het in die 1960's in verskeie byrolle verskyn, met haar eerste verskyning wat 'n krediet gekry het in Guns at Batasi (1964).

Farrow in Rosemary's Baby (1968).

In dieselfde jaar het sy bekend geraak as die naïewe Allison MacKenzie in die suksesvolle TV-sepie Peyton Place.[25] Farrow het die reeks in 1966 verlaat op aandrang van Frank Sinatra, met wie sy op 19 Julie 1966 getroud is toe sy 21 en hy 50 was.[26][27] Sy het daarna in haar eerste groot Britse prent, A Dandy in Aspic (1968), gespeel.[28]

Farrow se eerste hoofrol was in die sielkundige rillerprent Rosemary's Baby (1968), 'n verwerking van die roman met dieselfde naam deur Ira Levin. Dit was 'n reusesukses en word algemeen beskou as 'n klassieke prent van die rillergenre. The Guardian het dit in 2010 "die tweede beste rillerprent van alle tye" genoem.[29] Sy het verskeie pryse gewen, insluitende 'n Golden Globe vir beste nuwe aktrise van die jaar,[30] en het gevestig geraak as 'n hoofrolaktrise. Die resensent Stephen Farber het haar spel beskryf as 'n "elektrifiserende impak... een van daardie min oomblikke dat 'n akteur en karakter 'n wonderbaarlike, byna mitiese harmonie bereik". Roger Ebert noem die prent "briljant" en sê: "Baie van die krediet hiervoor moet gaan aan Mia Farrow, as Rosemary."[31]

Farrow en Dustin Hoffman in John and Mary (1969).

Hierna het Farrow Secret Ceremony in Engeland geskiet saam met Elizabeth Taylor en Robert Mitchum. Die ontvangs was verdeeld, maar die prent het getroue volgelinge gekry. Farrow se ander prent van die 1960's was John and Mary (1969), teenoor Dustin Hoffman.[32] Sy is vir 'n Golden Globe benoem as beste aktrise – komedie of musiekspel.[30]

1970-'79: Teaterwerk en hoofstroomsukses

Van vroeg in die 1970's af het Farrow in verskeie klassieke toneelstukke op die verhoog in London verskyn, beginnende met die Royal Shakespeare Company se produksie van 1971 Jeanne d'Arc au bûcher in die Royal Albert Hall, met Farrow as Jeanne.[33]

In dieselfde jaar het sy verskyn in die Britse riller See No Evil, waarin sy die rol vertolk van 'n blinde vrou wie se gesin deur 'n moordenaar bekruip word.[34] Sy het ook in die TV-rolprent Goodbye, Raggedy Ann (1971) die rol vertolk van 'n onstabiele, opkomende Hollywood-ster.[35]

In 1972 het Farrow in die Franse swartkomedie Dr. Popaul verskyn as 'n vrou wat met 'n rokjagter trou, teenoor Jean-Paul Belmondo,[36] en in Follow Me! as 'n vrou wie se ryk man glo sy het 'n affair.[37] Op die verhoog het sy in 1972 die hoofrol gespeel in Mary Rose.[38] Dit is gevolg deur die rol van Irina in The Three Sisters,[39] en 'n dubbele rol in The House of Bernarda Alba (albei 1973).[40]

Farrow was in 1974 Daisy Buchanan in die rolprentverwerking van The Great Gatsby.[41] Die prent het "die morele waardes van die mooi mense van die 1920's ondersoek"[41] en was 'n kommersiële sukses.[42]

In 1998 was Farrow saam met Rock Hudson in die rampfliek Avalanche,[43] en daarna in 'n verwerking van Agatha Christie se Death on the Nile.[44] In 1979 het sy teenoor Anthony Perkins in die toneelstuk Romantic Comedy gespeel,[45][46] en in die romantiese prent Hurricane teenoor Jason Robards.[47]

1980-'92: Samewerking met Woody Allen

Farrow in 1980.

Van die begin van die 1980's het Farrow 'n dekade lange verhouding met die regisseur Woody Allen gehad; hulle het aan baie van sy rolprente saamgewerk. Haar eerste prent saam met Allen was die komedie A Midsummer Night's Sex Comedy (1982), in 'n rol wat aanvanklik vir Diane Keaton bedoel was.[48] Sy het daarna verskyn in Allen se Zelig (1983) as 'n sielkundige wie se pasiënt, Leonard Zelig (Allen), eienskappe aanneem van die mense om hom in 'n poging om gelief te wees.[49]

In Broadway Danny Rose (1984) was Farrow die minnares van 'n lounge-musikant wat met die Mafia deurmekaar raak. Farrow het gewig aangesit en was byna onherkenbaar in die rol; sy is vir 'n Golden Globe vir beste aktrise in 'n komedie of musiekspel benoem.[30]Broadway Danny Rose het Farrow 'n byspelersrol gehad in Jeannot Szwarc se superheldfilm Supergirl (1984).[50] Dit was 'n kommersiële mislukking.[51][52]

Die volgende prent van Allen waarin Farrow gespeel het, was The Purple Rose of Cairo (1985). Sy is vir 'n Bafta vir beste aktrise benoem,[53] asook vir 'n Golden Globe vir beste aktrise in 'n komedie of musiekspel.[30] Allen het Farrow volgende gebruik in sy Hannah and Her Sisters (1986).[54] Dit is in Februarie 1986 uitgereik en was 'n sukses by die loket.[55] Roger Ebert het gemeen dit was Allen se beste werk tot op datum.[56] Farrow is vir die derde keer vir 'n Bafta benoem.[57]

In 1987 het Farrow verskyn in twee prente wat deur Allen geregisseer is: die komedie Radio Days[58] en die drama September.[59] Farrow het daarna teenoor Gena Rowlands verskyn in Allen se drama Another Woman (1988).[60] Die resensies het gewissel van goed[61] tot sleg.[62]

Sy is volgende gesien in Allen se fantasieprent Alice (1990). Dit was hulle 11de prent saam.[63] In Alice beeld Farrow die titelkarakter uit, 'n vrou van die hoër stand van Manhattan wat verlief raak op 'n jazzmusikant. Dit lei tot Katolieke skuldgevoelens wat tot uiting kom in fisieke kwale, wat sy met kruiemedisyne dokter.[64] Vincent Canby het haar groot lof toegeswaai[63] en sy is benoem vir 'n Golden Globe vir beste aktrise in 'n komedie of musiekspel.[30] Sy het 'n National Board of Review-prys vir beste aktrise gewen.[65] Die volgende jaar was Farrow 'n sirkusvermaakkunstenaar in Allen se swart-wit komedie Shadows and Fog.[66]

In Allen se drama Husbands and Wives (1992) het Farrow die hoofrol vertolk van die vrou van 'n skrywer en professor (Allen) wat 'n verhouding met een van sy studente het.[67] Dit was hulle laaste prent saam en is uitgereik net voordat die twee onder groot publisiteit uitmekaar is.[67]

1993-'99: Rolprente en TV; terugkeer na verhoog

Farrow in 1998.

In die 1990's het Farrow minder gewerk en gesê sy wil haar toewy aan die grootmaak van haar jong kinders. Sy het wel die hoofrol in verskeie prente gespeel, soos die Ierse fliek Widows' Peak (1994)[68] en die komedie Miami Rhapsody (1995).[69]

In 1995 het Farrow ook die hoofrol vertolk in 'n rolprentverwerking van die toneelstuk Reckless. Dit was 'n donker komedie, waarin sy die rol speel van 'n vrou wie se man 'n kontrakmoord op haar reël.[70] Die resensent Stephen Holden het haar groot lof toegeswaai en gesê sy is so perfek in die rol "dat die karakter lyk soos 'n distillasie van byna elke rol wat sy vertolk het sedert sy 'n tiener in Peyton Place was".[70]

In 1997 het Farrow haar outobiografie, What Falls Away, gepubliseer.[71] Sy het 'n kameerol as haarself gehad in Howard Stern se biografiese komedie Private Parts.[72]

In 1998 het sy op TV verskyn in die segment Miracle at Midnight van The Wonderful World of Disney. Dit is 'n dramatisering van die redding van die Deense Jode in die Holocaust.[73] Farrow se volgende rol was dié van 'n vrou met Alzheimer se siekte in die TV-prent Forget Me Never.[74]

In November 1999 het Farrow na Broadway teruggekeer in die rol van Honey in Who's Afraid of Virginia Woolf?, teenoor Matthew Broderick, Jonathan Pryce en Uta Hagen.[75]

2000-tans

In die 2000's het Farrow op TV verskyn. In die reeks Third Watch het sy tussen 2000 en 2003 in vyf episodes haar verskyning gemaak.[76] Sy het ook in 2001 in 'n TV-prent met 'n LGBT-tema, A Girl Thing, verskyn teenoor Kate Capshaw en Stockard Channing,[77] gevolg deur 'n hoofrol in die TV-prent The Secret Life of Zoey in 2002.[78]

Sy was ook in dié jaar te sien in die toerende verhoogstuk The Exonerated,[79] gevolg deur 'n hoofrol in Fran's Bed in 2003.[80]

Farrow in 2012.

Farrow se eerste rol in jare in 'n rolprent was in 2006 as Mrs Baylock, 'n sataniese kinderoppasser, in die herskepping van The Omen. Hoewel die resensies louwarm was, het Farrow lof ingepalm met haar spel. Die Associated Press het verklaar: "Dankie hemel vir Mia Farrow", en het gesê "haar vertolking is een van die min redes dat die nuwe Omen beter as die oue is".[81]

Farrow het daarna die rol van 'n ma (van Amanda Peet) vertolk in die romantiese komedie The Ex (2007).[82] Die prent het swak resensies gekry en resensente het gesê die akteurs se talent is onderskat.[83]

In 2008 het Farrow verskyn in 'n byspelersrol teenoor Danny Glover in Michel Gondry se komedie Be Kind Rewind (2008).[84] In 2011 was sy weer in 'n byspelersrol, dié keer in die komediedrama Dark Horse,[85] waarin sy weer die rol van 'n ma vertolk.[86]

In September 2014 was Farrow op Broadway in die toneelstuk Love Letters. Dit het goeie resensies gekry.[87] In 2016 was sy saam met Faye Dunaway in 'n episode van die TV-reeks Documentary Now![88]

In 2022 het Farrow verskyn in Ryan Murphy se Netflix-reeks The Watcher.[89]

Humanitêre werk

Farrow op besoek aan die Sentraal-Afrikaanse Republiek.

Farrow het in 2000 'n welwillendheidsambassadeur van Unicef geword en is 'n groot voorstander van menseregte in Afrika, veral van kinderregte. Sy het in konflikgeteisterde gebiede geld ingesamel, bewusmaking van kinders bevorder en aandag gevestig op die stryd om die uitwissing van polio.[3] Sy het verskeie pryse vir haar humanitêre werk ontvang,[90][91] insluitend die Leon Sullivan-prys vir Internasionale Diens,[92] die Lyndon Baines Johnson-prys vir Morele Moed[93] en die Marion Anderson-prys.[94]

In 2006 het Farrow en haar seun Ronan Berlyn besoek vir 'n welsynveilig van United Buddy Bears, wat ontwerpe van kunstenaars van 142 VN-lidstate het.[95] In 2008 het die tydskrif Time haar aangewys as een van die invloedrykste mense in die wêreld.[96][97]

Sy het verskeie kere na Darfoer gereis; die eerste keer was in 2004.[98] Haar derde besoek was in 2007, saam met 'n filmspan vir die maak van die dokumentêr Darfur: On Our Watch.[99]

In 2009 was Farrow die verteller in 'n dokumentêr, As We Forgive, oor die stryd wat baie van die oorlewendes van die volksmoord in Rwanda het om mense te vergewe wat familielede en vriende vermoor het.[100] In Augustus 2010 het sy in sy verhoor getuig teen oudpresident Charles Taylor van Liberië in die Spesiale Hof vir Sierra Leone.[101]

Farrow het gehelp om The Darfur Archives te maak, wat die kulturele tradisies van die stamme van Darfoer dokumenteer.[102] Daarvoor het sy sowat 40 uur van liedere, danse, kinderstories, boerderymetodes en vertellings van die volksmoord in die streek se vlugtelingkampe opgeneem.[103]

Farrow het ook al deelgeneem aan omgewingsaktivisme: In 2014 het sy teen Chevron betoog en die oliemaatskappy daarvan beskuldig dat hy skade in die Suid-Amerikaanse reënwoud aanrig.[104]

Persoonlike lewe

Verhoudings

'n Swanger Farrow in 1969 saam met André Previn.

Frank Sinatra

Op 19 Julie 1966[105] is Farrow in Las Vegas met Frank Sinatra getroud.[106][107] Sy was 21 en hy 50 jaar oud.[25] Sinatra wou hê Farrow moet haar loopbaan prysgee en sy het aanvanklik ingestem.[106] Sy het egter gou moeg geword van niks doen en ingestem om in Roman Polanski se rillerprent Rosemary's Baby te speel.

Die verfilming van Rosemary's Baby het langer geduur as beplan, en Sinatra was ontevrede; hy het haar 'n rol in sy fliek The Detective (1968) gegee. Toe Farrow nie vir die verfilming opdaag nie, het hy die rol vir Jacqueline Bisset gegee.[108]

In November 1967, terwyl Farrow nog met die verfilming van Rosemary's Baby besig was, het Sinatra se prokureur vir haar 'n skeibrief gebring.[109] Hulle skeisaak is in Augustus 1968 afgehandel.[110]

Farrow het die skuld vir die verbrokkeling van die huwelik later op hulle ouderdomsverskil gepak en gesê sy was 'n "onmoontlik onvolwasse tierner" toe sy met hom getrou het.[111][112] Die twee het tot met Sinatra se dood vriende gebly.[109]

André Previn

Op 10 September 1970 het Farrow in Londen met die komponis en dirigent André Previn getrou. Sy was 25 en hy 41.[113] Farrow het 'n verhouding met Previn aangeknoop toe hy nog met sy tweede vrou, die liedjieskrywer Dory Previn, getroud was. Toe Farrow swanger word, het Previn 'n skeisaak teen Dory aanhangig gemaak.

Farrow het in Februarie 1970 die lewe aan tweelingseuns geskenk,[113] en in Julie 1970 is Previn en Dory se egskeiding afgehandel.[114] Previn en Farrow is in 1979 geskei.[23]

Woody Allen

In 1980 het Farrow 'n verhouding met die rolprentregisseur Woody Allen aangeknoop.[115][116] In hulle jare saam het Farrow in 13 van Allen se rolprente gespeel, onder meer A Midsummer Night's Sex Comedy (1982), Zelig (1983), The Purple Rose of Cairo (1985), Hannah and Her Sisters (1986), Another Woman (1988), Crimes and Misdemeanors (1989), Alice (1990) en haar laaste prent saam met hom, Husbands and Wives (1992).

Verskeie van Farrow se familielede het ook in Allen se prente verskyn, soos haar moeder, Maureen O'Sullivan, in Hannah and Her Sisters.[116]

Hulle verhouding het in 1992 geëindig toe Allen se intieme verhouding met Farrow se 21-jarige aangenome dogter, Soon-Yi Previn, bekend word.[117]

Kinders

Farrow se kinders[118]
‡ Matthew Previn (geb. 26 Februarie 1970)
‡ Sascha Previn (geb. 26 Februarie 1970)
Lark Previn (aangeneem 1973; geb. 15 Februarie 1973;
  oorl. 25 Desember 2008)
‡ Fletcher Previn (geb. 14 Maart 1974)
Summer "Daisy" Previn (aangeneem 1976;
  geb. 6 Oktober 1974)
Soon-Yi Previn (aangeneem 1977;
   geb. omstreeks 8 Oktober 1970)
Moses Farrow (aangeneem 1980; geb. omstreeks 1978)
Dylan Farrow (aangeneem 1985; geb. 11 Julie 1985)
‡ Ronan Farrow (geb. 19 Desember 1987)
Tam Farrow (aangeneem 1992; geb. 1979; oorl. 2000)
Isaiah Farrow (aangeneem 1992; geb. 3 Februarie 1992)
Thaddeus Farrow (aangeneem 1994;
  geb. 16 Desember 1988; oorl. 21 September 2016)
Kaeli-Shea "Quincy" Farrow (aangeneem 1994;
  geb. 19 Januarie 1994)
Frankie-Minh Farrow (aangeneem 1995;
  geb. 4 Februarie 1989)
‡ dui biologiese kinders aan

Farrow het 14 kinders: 4 biologies en 10 aangeneem. Sy en haar eksman André Previn het drie biologiese kinders gehad: Matthew, Sascha en Fletcher. Farrow en Previn het drie kinders aangeneem; Lark Song Previn, Summer "Daisy" Song Previn en Soon-Yi Previn.

Ná haar egskeiding van Previn het sy Moses Farrow en Dylan Farrow aangeneem. Dylan was vir 'n ruk bekend as "Eliza" en "Malone". Woody Allen het hulle ook later aangeneem.[119]

Terwyl sy by Allen was, het sy die lewe geskenk aan haar laaste biologiese kind, Ronan Farrow.[2]

Tussen 1992 en 1995 het Farrow nog vyf kinders aangeneem: Tam Farrow, Kaeli-Shea Farrow (later bekend as Quincy Maureen Farrow), Frankie-Minh; Isaiah Justus en Gabriel Wilk Farrow (later bekend as Thaddeus Wilk Farrow).[120]

Tam Farrow is in 2000 op die ouderdom van 21 oorlede. Farrow se woordvoerder, Judy Hofflund, het gesê sy is aan hartverlamming dood.[121] In Mei 2018 het Moses Farrow op sy persoonlike blog beweer Tam is eintlik dood van 'n oordosis van 'n voorskrifmedisyne ná 'n lewenslange stryd teen depressie en ná 'n bakleiery met haar ma.[122] In 2021 het Mia Farrow bevestig dat Tam dood is ná 'n oordosis van 'n voorskrifmedisyne.[123]

Op 25 Desember 2008 is Lark Previn op 35-jarige ouderdom dood van komplikasies van MIV/vigs.[124] Op 21 September 2016 is Thaddeus Farrow op die ouderdom van 27 dood aangetref ná 'n oënskynlike motorongeluk in Connecticut,[125] hoewel daarna bevind is hy het selfmoord gepleeg deur homself in die bolyf te skiet terwyl hy in sy motor gesit het.[126]

Farrow het ses biologiese kleindogters by haar en Previn se seuns. Sy het nege kleinkinders by haar aangenome kinders.[127][128][129]

Bewerings van misbruik en mishandeling

Bewerings teen Allen

Volgens hofgetuienis het Allen Farrow se plaas in Connecticut op 4 Augustus 1992 besoek terwyl sy in die winkels was.[117] Die volgende dag het die kinderoppasser Farrow ingelig sy het Allen vreemd sien optree teenoor die paartjie se toe sewejarige aangenome dogter, Dylan.[117] Toe Farrow Dylan daaroor uitvra, het Dylan gesê Allen het aan "private dele" gevat terwyl hulle alleen in die huis se solderkamer was.[117] Een van die vroue wat gehuur is om vir Farrow se kinders te sorg, het beweer sy het daardie middag 20 minute lank nie geweet waar Dylan was nie, terwyl 'n ander een gesê het sy het opgemerk dat Dylan geen onderklere onder haar rok gedra het nie.[130] Farrow het die kinderdokter van die bewerings vertel, en hy het op sy beurt die owerhede ingelig.[117] Allen het op 6 Augustus van die bewerings gehoor. 'n Week later het Allen aansoek gedoen om volle toesig oor sy en Farrow se biologiese seun, Satchel, en twee van Farrow se aangenome kinders met wie hy 'n ouerrol opgebou het, Dylan en Moses.[131][132]

In Maart 1993 het die hoofdokter van die Yale New Haven-kliniek vir seksueel misbruikte kinders, in 'n beëdigde verklaring gesê volgens sy opinie[133] "het Dylan óf die storie versin weens die stres om in 'n onstabiele en ongesonde huis te bly óf dit is in haar kop geplant deur haar moeder weens die "inkonsekwente" vertelling van die gebeure deur Dylan.[134] Leventhal het Dylan nie ontmoet voor sy getuienis nie en het dit gebaseer op ander se onderhoude met haar.[131] Die getuienis is later gekritiseer deur die regter en ander kenners op die gebied. Die span se gedrag is as vreemd beskou omdat hulle verklarings oor skuld of onskuld gemaak het eerder as om oor gedrag te rapporteer, geweier het om in die hof te getuig toe hulle gevra is en al hulle aantekeninge vernietig het.[135][136]

Regter Elliot Wilk het in Junie 1993 in sy finale besluit gesê hy het geen geloofbare bewyse gevind wat Allen se beskuldiging ondersteun dat Farrow Dylan voorgesê het of dat Farrow wou wraak neem omdat hy Soon-Yi verlei het nie. Allen se uitweg om die stelling oor 'n vrou wat te na gekom is vir sy verdediging te gebruik, is 'n poging om die aandag af te lei van sy mislukking om as 'n verantwoordelike ouer op te tree.[131]

Hy het Allen se aansoek om volle toesig verwerp en hom besoekregte met Dylan geweier. Hy het gesê die getuienis in die hof "dui daarop dat mnr. Allen se gedrag teenoor Dylan uiters onbetaamlik was en dat stappe geneem moet word om haar te beskerm".[132] In September 1993 het die staatsaanklaer gesê hy gaan Allen nie verder vervolg op aanklagte van molestering nie, want hy en Farrow wil Dylan nie verder traumatiseer nie.[137]

In Februarie 2014 het Dylan opnuut haar bewerings oor seksuele misbruik deur Allen gemaak in 'n blog van Nicholas Kristof, 'n vriend van haar ma, in The New York Times.[138] Allen het weer die aanklagte ontken in sy memoires van 2020, Apropos of Nothing.[139]

Bewerings teen Farrow

Soon Yi Previn en Moses Farrow het Allen teen die bewerings van misbruik verdedig.[140] In 2013 het Moses Farrow openlik beweer Mia Farrow het haar kinders voorgesê om stories te glo wat sy oor Allen opgemaak het.[141][142]

In 2018 het Moses 'n lang bloginskrywing gepubliseer waarin hy beweer het Allen is onskuldig. Moses het ook van 'n reeks voorvalle vertel waarin hy en sy sibbes fisiek deur Farrow mishandel is.[140][143][144]

Filmografie

Uitgesoekte werk:

  • Guns at Batasi (1964) (debuut)
  • Rosemary's Baby (1968)
  • Secret Ceremony (1968)
  • A Dandy in Aspic (1968)
  • John and Mary (1969)
  • The Great Gatsby (1974)
  • Peter Pan (1976)
  • Avalanche (1978)
  • A Wedding (1978)
  • Death on the Nile (1978)
  • A Midsummer Night's Sex Comedy (1982)
  • The Last Unicorn (1982)
  • Sarah (1982)
  • Zelig (1983)
  • Supergirl (1984)
  • Broadway Danny Rose (1984)
  • The Purple Rose of Cairo (1985)
  • Hannah and Her Sisters (1986)
  • Radio Days (1987)
  • September (1987)
  • Another Woman (1988)
  • Crimes and Misdemeanors (1989)
  • Alice (1990)
  • Shadows and Fog (1991)
  • Husbands and Wives (1992)
  • The Omen (2006)
  • Be Kind Rewind (2006)
  • Arthur and the Invisibles (2007)
  • Arthur and the Revenge of Maltazard (2009)
  • Arthur 3: The War of the Two Worlds (2010)

Verwysings

  1. Rusesabagina, Paul (12 Mei 2008). "Heroes & Pioneers: Mia Farrow". Time. Besoek op 6 Oktober 2014.
  2. Lax, Eric (24 Februarie 1991). "Woody and Mia: A New York Story". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Julie 2018.
  3. Bartrop 2012, p. 86.
  4. Reuter 1999, p. 39.
  5. "Mia Farrow's brother commits suicide". The Daily Telegraph. 17 Junie 2009. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Augustus 2010.
  6. Marsh, Julia (8 Augustus 2014). "How I was almost the Manson Family's 6th victim". New York Post.
  7. Current Biography Yearbook 1970, p. 132.
  8. Gates, Henry Louis jr. (9 Maart 2016). "Mia Farrow's Interactive Family Tree". Oregon Public Broadcasting (OPB). Finding Your Roots. Portland, Oregon: PBS. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 November 2016.
  9. Parish 2004, pp. 222–223.
  10. Parish 2004, p. 222.
  11. Wood, Gaby (29 Januarie 2006). "'I've always had a sense of the unworthiness of myself'". The Guardian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Februarie 2019.
  12. Holmes & Negra 2011, p. 239.
  13. "Polio Strikes Los Angeles". The West Australian. Perth: National Library of Australia. 14 Augustus 1954. p. 4.
  14. Wadler, Joyce (26 September 2000). "PUBLIC LIVES; Older, Wiser and Still Reaching Out to Help". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 September 2018.
  15. "Maureen O'Sullivan Attends Rites for Son". Los Angeles Times. 5 November 1958. p. 6 via Newspapers.com.
  16. Farrow 1997, pp. 50–51.
  17. Farrow 1997, pp. 50–52.
  18. Siegel, Tatiana (7 Desember 2021). "Why 'Bond' Mogul Barbara Broccoli Has Earned a License to Chill". The Hollywood Reporter. Besoek op 10 Desember 2021.
  19. Farrow 1997, p. 58.
  20. Farrow 1997, p. 59.
  21. Hall, Anni (25 Oktober 2011). "Beauty icon: Mia Farrow". Vogue. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 November 2011.
  22. Farrow 1997, p. 66.
  23. "Profile: Mia Farrow". BBC News. 9 Augustus 2010. Besoek op 7 Augustus 2013.
  24. Staff (11 November 2005). "The Von Trapp Family Reunites!". ABC News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 November 2018.
  25. Orth, Maureen (November 2013). "Momma Mia!". Vanity Fair. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Desember 2015.
  26. Newcomb 2004, p. 1755.
  27. Toth 1981, p. 357.
  28. Thompson 1967, p. 75.
  29. Billson, Anne (22 Oktober 2010). "Rosemary's Baby: No 2 best horror film of all time". The Guardian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 24 Augustus 2013.
  30. "Mia Farrow". Golden Globes. Hollywood Foreign Press Association. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Februarie 2019.
  31. Ebert, Roger (29 Julie 1968). "Rosemary's Baby". Chicago Sun-Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Maart 2013. Besoek op 29 Augustus 2006.
  32. "Happy ending for Mia". The Age. Melbourne, Victoria. 11 Desember 1969. p. 22 via Google News Archive.
  33. McHarg, Sue (8 Februarie 2015). "From the Observer archive, February 7, 1971: Joan at the Stake is the hottest ticket in town". The Guardian. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 April 2015. Besoek op 12 Desember 2016.
  34. Greenspun, Roger (3 September 1971). "Screen: Killer Pursues Mia Farrow in 'See No Evil':Fleischer Directs a Work by Clemens Relatives of a Blind Woman Murdered". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2019.
  35. "Goodbye, Raggedy Ann". British Film Institute. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2019. Besoek op 11 Februarie 2019.
  36. González 1993, p. 79.
  37. González 1993, pp. 132–133.
  38. Cook, Emma (11 Januarie 1998). "HOW WE MET: JOHN TAVENER AND MIA FARROW". The Independent. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 April 2015. Besoek op 4 September 2017.
  39. "GREENWICH THEATRE: A BRIEF HISTORY". Greenwich Theatre. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Augustus 2011.
  40. Robb, J. Cooper. "The Dissonance of Dissidents". Backstage. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 September 2015.
  41. "The Great Gatsby". Variety. 31 Desember 1973. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Januarie 2014.
  42. "The Great Gatsby (1974)". The Numbers. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2019. Besoek op 11 Februarie 2019.
  43. González 1993, p. 90.
  44. González 1993, pp. 90–91.
  45. Chambers, Andrea (17 Desember 1979). "Mia Farrow Has Her First Broadway Hit, Loses Her Second Husband and Adopts Her Seventh Child". People. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 Januarie 2018.
  46. Farrow 1997, p. 170.
  47. González 1993, p. 134.
  48. Bailey 2014, p. 55.
  49. Bailey 2014, p. 57.
  50. González 1993, p. 105.
  51. "Supergirl (1984)". Box Office Mojo. Besoek op 12 Februarie 2019.
  52. Stecklow, Steve (19 April 1985). "Box Office Bombs May Turn Into Skyrockets On Videotape". Chicago Tribune. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Oktober 2017.
  53. "Film in 1986". BAFTA Awards. British Academy of Film and Television Arts. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2013.
  54. Bailey 2014, pp. 66–67.
  55. "Hannah and Her Sisters (1986)". Box Office Mojo. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Junie 2018.
  56. Bailey 2014, p. 69.
  57. "Film in 1987". BAFTA Awards. British Academy of Film and Television Arts. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 2 Mei 2013.
  58. Bailey 2014, p. 70.
  59. Bailey 2014, p. 77.
  60. Bailey 2014, p. 79.
  61. Ebert, Roger (18 November 1988). "Another Woman". Chicago Sun-Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 20 Oktober 2018.
  62. Canby, Vincent (14 Oktober 1988). "Review/Film; Allen Directs Rowlands In 'Another Woman'". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2019.
  63. Canby, Vincent (25 Desember 1990). "Woody Allen's Magical Realism Has an Herb for Every Plaint". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Oktober 2014. Besoek op 11 Februarie 2019.
  64. Bailey 2014, pp. 90–91.
  65. "Best Actress Archives". National Board of Review. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 November 2013.
  66. Bailey 2014, pp. 92–93.
  67. Bailey 2014, pp. 95–96.
  68. Lovece, Frank (20 Augustus 1993). "Mia Farrow in Widow's Peak". Entertainment Weekly. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 November 2015.
  69. Hinson, Hal (3 Februarie 1995). "Miami Rhapsody: An Inspired Marriage". The Washington Post. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2019. Besoek op 11 Februarie 2019.
  70. Holden, Stephen (17 November 1995). "FILM REVIEW; Running From a Hit Man and Her Own Past". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Mei 2015.
  71. Harrison, Kathryn (23 Februarie 1997). "Intimate Strangers". The New York Times.
  72. McCarthy, Todd (8 Maart 1997). "Private Parts". Variety. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 November 2018.
  73. Joyner, Will (16 Mei 1998). "TELEVISION REVIEW; When Denmark Didn't Look the Other Way". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Maart 2018.
  74. Linan, Steven (2 Oktober 1999). "Farrow a Standout in Poignant 'Never'". Los Angeles Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 September 2015.
  75. Canby, Vincent (28 November 1999). "THEATER; A Timeless Moment Grounded in Impermanence". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 14 September 2017.
  76. "Mia Farrow Credits". TV Guide. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 23 Junie 2018.
  77. Johnson, Steve (19 Januarie 2001). ""A Girl Thing": TV's lesbian wave continues..." Chicago Tribune. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2019.
  78. King, Susan (18 Augustus 2002). "Too Busy to Notice". Los Angeles Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2019. Besoek op 11 Februarie 2019.
  79. "The Exonerated". The Culture Project. Geargiveer vanaf die oorspronklike op Maart 29, 2015. Besoek op April 22, 2015.
  80. Hernandez, Ernio (16 Oktober 2003). "Mia Farrow Stars in World Premiere James Lapine Play Fran's Bed at Long Wharf, Oct. 16-Nov. 23". Playbill. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2018.
  81. "At the Movies: 'The Omen'". The Augusta Chronicle. Augusta, Georgia. Associated Press. 6 Junie 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Oktober 2017.
  82. Holden, Stephen (11 Mei 2007). "Chasing an Old Flame, Taking No Prisoners". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Junie 2018.
  83. Rechtshaffen, Michael (11 Mei 2007). "Bottom Line: Jason Bateman's a blast, but this slack comedy's a bust". The Hollywood Reporter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 30 September 2007.
  84. McCarthy, Todd (20 Januarie 2008). "Be Kind Rewind". Variety. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2018.
  85. Kit, Borys (14 Oktober 2010). "Christopher Walken among cast of Todd Solondz drama". The Hollywood Reporter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2018.
  86. Ebert, Roger (20 Junie 2012). "Dark Horse". Chicago Sun-Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Januarie 2018.
  87. Sheward, David (19 September 2014). "Review Roundup: 'Love Letters'". New York. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 16 Februarie 2015.
  88. Gardner, Chris (20 Oktober 2016). "How 'Documentary Now!' Booked Hollywood Recluses Faye Dunaway, Mia Farrow for Robert Evans Spoof". The Hollywood Reporter. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Julie 2017.
  89. Ashabi, Azeez (21 Oktober 2022). "'The Watcher' Star Mia Farrow Hopes The Real-Life Family Doesn't Watch The Netflix Series". MSN.
  90. "McCall-Pierpaoli Humanitarian Award press release". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 September 2011. Besoek op 13 Augustus 2013.
  91. "Mia Farrow Goodwill Ambassador". Unicef. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 November 2018.
  92. "UNICEF Ambassador Mia Farrow to meet war-affected children in Uganda". BNO News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Februarie 2014.
  93. "Lyndon Baines Johnson Moral Courage Award". Holocaust Museum Houston. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 Januarie 2015. Besoek op 7 Januarie 2015.
  94. "2011 Past Honorees Mia Farrow". The Marion Anderson Award. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 28 Desember 2014. Besoek op 7 Januarie 2015.
  95. "US-amerikanische Schauspielerin und UNICEF-Botschafterin Mia Farrow besucht die Ausstellung der United Buddy Bears auf dem Bebelplatz in Berlin". Alamy (in Duits). 19 Junie 2006. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2019. Besoek op 11 Februarie 2019.
  96. Bartrop 2012, pp. 86–87.
  97. Rusesabagina, Paul (12 Mei 2008). "Heroes & Pioneers: Mia Farrow". Time. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Desember 2016.
  98. "Mia Farrow's exclusive dispatch: I am a witness to Darfur's suffering". The Independent. 27 Augustus 2007. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2018. Besoek op 7 November 2018.
  99. "Frontline: On Our Watch (transcript)". PBS. 20 November 2007. Besoek op 6 Oktober 2014.
  100. Bartrop 2012, p. 87.
  101. Davies, Lizzy (in The Hague), and Adam Gabbatt (9 Augustus 2010). "Mia Farrow contradicts Naomi Campbell in Charles Taylor trial". The Guardian.{{cite web}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  102. "The Sudan and Darfur Research Collections". Thomas J. Dodd Research Center, University of Connecticut. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Maart 2016. Besoek op 6 Januarie 2015.
  103. Farrow, Mia; Goldhagen, Daniel Jonah (26 September 2013). "Mass Slaughter and Obama's Mystifying Indifference". The Wall Street Journal. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 November 2017.
  104. "Judge finds foul play behind controversial case against Chevron". The Economist. 8 Maart 2014. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2018.
  105. Smith, Dinitia (8 Mei 1994). "Picking Up The Legos And The Pieces". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2018.
  106. Ringgold 1993, p. 19.
  107. Farrow, Mia (23 Januarie 2013). "Setting the Record (and the Hair) Straight". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Desember 2018.
  108. Ringgold 1993, p. 21.
  109. Santopietro 2009, pp. 397–398.
  110. "Mia Farrow, André Previn Expecting Baby". The Day. London. 14 Oktober 1969. p. 21 via Google News Archive.
  111. Santopietro 2009, p. 398.
  112. Turner 2004, p. 150.
  113. "Actress, conductor wed". The Register-Guard. Eugene, Oregon. 11 September 1970. p. 3A via Google News Archive.
  114. "About Dory Previn". MTV. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Februarie 2014.
  115. "Woody Allen". People. 28 Desember 1992. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Februarie 2014.
  116. Gliatto, Tom (31 Augustus 1992). "A Family Affair". People. Vol. 38, no. 9. ISSN 0093-7673.
  117. Orth, Maureen (November 1992). "Mia's Story". Vanity Fair. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Februarie 2019.
  118. Levine, Justin (16 Mei 2018). "The Woody Allen Controversy Reader: A Quick & Dirty List of All of Mia Farrow's Children, Adoptions, Attempted Adoptions & Name Changes of Her Children". Medium. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2018. Besoek op 7 November 2018.
  119. Stern, Marlow (10 Februarie 2014). "Inside the Shocking Custody Case Court Documents that Shed Light on the Dylan Farrow-Woody Allen Saga". The Daily Beast. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Februarie 2019.
  120. Miller, Hilary (14 Februarie 2014). "Here's Mia Farrow's Family Tree, Because We Know It Gets Confusing". The Huffington Post. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 Oktober 2017.
  121. Baker, K. C.; Hutchinson, Bill (15 Maart 2000). "Mia Farrow Mourns Daughter". New York Daily News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Julie 2018.
  122. Hoyle, Ben (25 Mei 2018). "Mia Farrow abused me, says son Moses". The Times. Londen.
  123. Sharf, Zack (1 April 2021). "Mia Farrow reflects on her children's deaths to combat 'vicious rumors' after 'Allen v. Farrow'". IndieWire. USA: Indiewire.com.
  124. Sharf, Zach (1 April 2021). "Mia Farrow Reflects on Her Children's Deaths to Combat 'Vicious Rumors' After 'Allen v. Farrow'". IndieWire. Besoek op 12 September 2021.
  125. "Mia Farrow's son Thaddeus killed himself, medical examiner's office says". Fox News. 22 September 2016. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2019. Besoek op 22 September 2016.
  126. Bryant, Kenzie (22 September 2016). "Mia Farrow's Son Thaddeus Dead at 27". Vanity Fair. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 27 Julie 2017.
  127. Khoo, Isabel (21 Junie 2016). "Mia Farrow Kids: Actress Welcomes 10th Grandchild". The Huffington Post.
  128. "Dylan Farrow Welcomes Daughter Evangeline". People. 6 September 2016.
  129. Williams, Sally (2 November 2019). "Mia Farrow: 'Men now think twice thanks to my son'". The Daily Telegraph. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Januarie 2022.
  130. Marks, Peter (10 April 1993). "Sitter Questions Allen Actions With Daughter". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 11 Februarie 2019. Besoek op 11 Februarie 2019.
  131. Winter, Jessica (7 Februarie 2014). "Woody Allen and Dylan Farrow: Just the Facts". Slate. The Slate Group. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 29 Desember 2014.
  132. Marks, Peter (8 Junie 1993). "Allen Loses to Farrow in Bitter Custody Battle". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Desember 2018.
  133. Orth, Maureen (7 Februarie 2014). "10 Undeniable Facts About the Woody Allen Sexual-Abuse Allegation". Vanity Fair. Besoek op 9 Februarie 2015.
  134. Perez-Pena R. (4 Mei 1993). "Doctor Cites Inconsistencies In Dylan Farrow's Statement". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Januarie 2018. Besoek op 11 Februarie 2017.
  135. Thibault, Andy (April 1997). "Woody, Mia and Frank Maco". Connecticut Magazine. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 19 Julie 2012 via AndyThibault.com.
  136. Thibault, Andy (1 April 1997). "How Straight-shooting State's Attorney Frank Maco Got Mixed Up in the Woody-Mia Mess". Connecticut Magazine. Besoek op 12 Februarie 2019.
  137. Henneberger, Melinda (25 September 1993). "Connecticut Prosecutor Won't File Charges Against Woody Allen". The New York Times. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 5 Maart 2014. Besoek op 4 September 2017.
  138. Farrow, Dylan (1 Februarie 2014). "An Open Letter From Dylan Farrow". The New York Times. "On the Ground" (Nicholas Kristof blog). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 3 Februarie 2014. Besoek op 9 Februarie 2014.
  139. Allen, Woody (7 Februarie 2014). "Woody Allen Speaks Out". The New York Times. Besoek op 12 Januarie 2018.
  140. "'I felt inherently like I was a bad kid. The abuse at home reinforced that". The Irish Times. Besoek op 6 Mei 2020.
  141. Fleeman, Mike (7 Februarie 2013). "Woody Allen Lashes Back: 'Of Course, I Did Not Molest Dylan'". People. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 9 Februarie 2014. Besoek op 17 Oktober 2013.
  142. Rothman, Michael (17 Oktober 2013). "Dylan Farrow's Brother Moses Says Mia Farrow, Not Woody Allen Was Abusive". ABC News. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 8 Februarie 2014. Besoek op 15 Mei 2014.
  143. Miller, Julie. "Moses Farrow Defends Woody Allen Against Sexual-Assault Allegation in New Essay". Vanity Fair. Besoek op 6 Mei 2021.
  144. Real, Evan (23 Mei 2018). "Woody Allen's Son Moses Farrow Defends Father, Claims Mother Mia Farrow Was Abusive". The Hollywood Reporter. Besoek op 6 Mei 2021.

Bronne

  • Allen, Woody (1993). Woody Allen on Woody Allen: In Conversation with Stig Björkman. New York: Grove Press. ISBN 978-0-802-14203-0.
  • Bailey, Jason (2014). The Ultimate Woody Allen Film Companion. Stillwater, Oklahoma: Quayside Publishing Group. ISBN 978-0-760-34623-5.
  • Bartrop, Paul R. (2012). A Biographical Encyclopedia of Contemporary Genocide. Santa Barbara, California: ABC-CLIO. ISBN 978-0-313-38678-7.
  • Current Biography Yearbook. New York: H. W. Wilson Co. 1970. OCLC 145427789.
  • Farrow, Mia (1997). What Falls Away: A Memoir. New York: Random House. ISBN 978-1-984-80011-4.
  • González, Jonio (1993). Mia Farrow (in Spaans). Barcelona, Spain: Icaria Editorial. ISBN 978-8-474-26210-0.
  • Holmes, Su; Negra, Diane (2011). In the Limelight and Under the Microscope: Forms and Functions of Female Celebrity. London: Continuum. ISBN 978-0-8264-3855-3.
  • Kaiser, Charles (2012). 1968 in America: Music, Politics, Chaos, Counterculture, and the Shaping of a Generation. New York: Grove Press. ISBN 978-0-802-19324-7.
  • Lee, Laura (1999). The Name's Familiar: Mr. Leotard, Barbie, and Chef Boyardee. Gretna, Louisiana: Pelican Publishing. ISBN 1-455-60918-8.
  • Newcomb, Horace, red. (2004). Encyclopedia of Television. Vol. 1. Taylor & Francis. ISBN 1-579-58411-X.
  • Parish, James Robert (2004). The Hollywood Book of Scandals: The Shocking, Often Disgraceful Deeds and Affairs of More Than 100 American Movie and TV Idols. New York: McGraw-Hill Education. ISBN 978-0-071-42189-8.
  • Reuter, Donald F. (1999). Heavenly: A Hundred Years of Unforgettable Women. Universe Pub. ISBN 978-0-789-30377-6.
  • Ringgold, Gene (1993). The Films of Frank Sinatra. New York: Carol Publishing Group. ISBN 0-806-50384-X.
  • Santopietro, Tom (2009). Sinatra in Hollywood. New York: Macmillan. ISBN 978-1-429-96474-6.
  • Thompson, Thomas (5 Mei 1967). "Mia". Life. Vol. 62, no. 18. pp. 75–82. ISSN 0024-3019.
  • Toth, Emily (1981). Inside Peyton Place: The Life of Grace Metalious. New York: Doubleday Publishing. ISBN 0-385-15950-1.
  • Turner, John Frayn (2004). Frank Sinatra. Lanham, Maryland: Taylor Trade Publications. ISBN 1-589-79145-2.
  • Warner, Jay (2004). On this Day in Music History. New York: Hal Leonard Corporation. ISBN 978-0-634-06693-1.

Skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.