MiG-31
Die MiG-31 is 'n Russiese vegvliegtuig wat ontwikkel is vanaf die MiG-25 en het die Toepolef Tu-28 vervang as die hoof-langstrekonderskepper.
MiG-31 "Foxhound" | |
---|---|
Tipe | Onderskepper/vegter |
Vervaardiger | Mikojan |
Ontwerp deur | Mikojan |
Nooiensvlug | 16 September 1975 |
Bekendstelling | 6 Mei 1981 |
Status | In gebruik |
Hoofgebruikers | Russiese Lugmag Kasakstanse Lugmag |
Vervaardig | 1975 tot 1994 |
Aantal gebou | 519 |
Ontwikkel van | MiG-25 |
In verslae van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO) word na die MiG-31 as Foxhound verwys.
Ontwikkeling van die vliegtuig het in 1970 begin en die prototipe, Ye-155MO, het sy nooiensvlug in 1975 voltooi. Die eerste van 300 eenhede is vanaf 1979 aan die Russiese Lugmag gelewer. Alhoewel die MiG-31 deur die MiG-25 geïnspireer is, was dit 'n nuwe alleweerstoestand-, allehoogte-vliegtuig waarvan die raamwerk gebou is van nikkelstaal, ligte allooie en titanium. Dit was nodig om te verseker die vliegtuig voldoen aan die hoë werkverrigtingomgewing waaraan dit moes vlieg.
Dit was toegerus met gesofistikeerde Flash Dance-radar. Dit is in daardie stadium beskou as die kragtigste radar in 'n vegvliegtuig, dit kon 200 km vorentoe sien, asook agter en onder die vliegtuig. Dit is beheer deur die tweede bemanningslid en kon tien teikens volg en vier tegelykertyd aanval nadat dit bepaal het watter teikens die grootste bedreiging is.
Latere modelle is van 'n invlughervullingsgerief voorsien wat hulle togafstand verbeter het. Ook kon die vliegtuie se databanke met mekaar kommunikeer sodat vliegtuie inligting oor teikens en taktiese situasies kon uitruil.
Tegniese besonderhede
Item | Statistiek |
---|---|
Aantal motors | 2 |
Tipe motor | Straalmotor |
Vervaardiger | Aviadvigatel D-30F6-turbowaaier met nabrander |
Kraglewering per motor | 15 520 kg stukrag |
Vlerkspan | 13,464 m |
Lengte | 22,7 m |
Hoogte | 6,15 m |
Vlerkoppervlakte | 61,6 m2 |
Maks. opstygmassa | 46 200 kg |
Maks. snelheid | 3 000km/h |
Operasionele hoogte | 20 618 m |
Togafstand | 720 km teen Mach-3 met vol vrag |
Klimvermoë | 10 000 m in sewe minute, 54 sekondes |
Bewapening | Een 23 mm-kanon vier AA-9 Amos-langstrek-lug-tot-lug-missiele onder romp, twee AA-6 Acrid-lug-tot-lug-missiele en vier AA-8 Aphid-lug-tot-lug-missiele onder vlerke |
Sien ook
Bron
- Crosby, Francis: THE WORLD ENCYCLOPEDIA OF FIGHTERS & BOMBERS. 2015. ISBN 978-1-84476-917-9