Medinet Haboe
Medinet Haboe (Arabies: مدينة هابو; Antieke Egipties: ḏꜣmwt; Sahidies: (ⲧ)ϫⲏⲙⲉ, ϫⲏⲙⲏ, ϫⲉⲙⲉ, ϫⲉⲙⲏ, ϫⲏⲙⲓ; Boharies: ϭⲏⲙⲓ[1] is 'n argeologiese terrein naby die voet van die Thebaanse heuwels aan die westeroewer van die Nylrivier, oorkant die moderne stad Luxor in Egipte. Hoewel ander strukture in die gebied voorkom en belangrike vondste hier gedoen is, word die terrein vandag feitlik uitsluitlik verbind met die grootste en bes bewaarde struktuur, die Dodetempel van Ramses III.
Medinet Haboe Arabies:مدينة هابو | ||
Land | Egipte | |
Soort | Nedersetting | |
Streek | Bo-Egipte | |
Geskiedenis | ||
Kulture | Antieke Egipties |
Die terrein van die tempels is sedert die tyd van die farao's bewoon, tot met die 9de eeu, toe dit 'n Koptiese sentrum was. Die laaste oorblyfsels van die voormalige dorp is verwyder in die uitgrawings aan die einde van die 19de eeu.[2]
Etimologie
Die oorsprong van die naam Medinet Haboe is onbekend. Die vroegste aantekening daarvan is deur Europese kartograwe van die 17de tot 18de eeu, wat dit "Haboe", "Medineh el Habou" en "Medinet Haboe" genoem het, en soms "Medinet Aboe" en "Medinet Taboe".
In Grieks was die gebied bekend as Memnonia (Μεμνονία) of Kastron Memnonionos (Κάστρον Μεμνονίωνος, "kasteel van Memnon"). Dit is met Memnon verbind, soos steeds duidelik uit die naam Kolosse van Memnon.[2]
Tempel van Amoen
Net links van die ingang na die Dodetempel van Ramses III is die Tempel van Amoen (Antieke Egipties: Djeser Set), wat uit die 18de Dinastie dateer. Dit is deur farao Hatsjepsoet en Toetmoses III laat bou en het deur die jare baie veranderings en modifikasies ondergaan, veral in die 20ste, 25ste, 26ste, 29ste en 30ste Dinastie en in die Grieks-Romeinse tydperk.
Dodetempel van Ramses III
- Die hoofartikel vir hierdie afdeling is: Dodetempel van Ramses III.
Die tempel van 150 m lank het 'n ortodokse ontwerp en lyk baie soos die Ramesseum. Dit is taamlik goed bewaar en omring deur 'n enorme moddersteenmuur, wat dalk versterk is. Die oorspronklike ingang was deur 'n versterkte poorthuis, wat as 'n migdol bekend is en soos 'n Asiatiese fort lyk.
Net binne die muur, aan die suidekant, is kapelle vir die hoëpriesteresse Amenirdis I, Sjepenoepet II en Nitiqret, wat almal die titel "goddelike aanbidster van Amoen" gehad het.
Die eerste mastoring lei na 'n oop binnehof, met reusagtige standbeelde van Ramses III as Osiris aan die een kant, en onversierde pilare aan die ander kant. Die tweede mastoring lei na 'n suilesaal, ook met pilare van Ramses III. Dit lei na 'n skuinste wat op sy beurt deur 'n voorhof met pilare lei na die derde mastoring en dan na 'n groot suilesaal (waarvan die dak nou weg is).
Koptiese nedersetting
Die Koptiese nedersetting by Medinet Haboe is gevestig as die finale stadium van 'n aaneenlopende proses van besetting van die tempelkompleks van Ramses III. Dit het in die tye van die farao's begin en tot die Romeinse en laat antieke tydperk geduur. Dit was 'n digbevolkte dorp met 'n inwonertal van sowat 18 860. Daar was verskeie binnesektors, ook met 'n tempel. Die vestigingspatroon stem ooreen met dié van die tempels van Karnak en Luxor, met groot blokke huise wat deur nou straatjies geskei is en godsdiensgeboue as belangrike fokuspunte.
Verskeie kerke is in verskillende sektors van die dodetempel gebou, insluitende die groot basilika bekend as die Heilige Kerk van Djeme in die tweede binnehof. Voordat die tempel aan die einde van die 19de eeu vernietig is, was 'n groot deel van die Koptiese nedersetting nog te sien net soos dit in die 9de eeu verlate gelos is. Die nedersetting se godsdiensgeboue, insluitende die Heilige Kerk van Djeme, is deur die jare beskadig. Min is daarvan oor nadat die kerk in moderne tye verwyder is.[2]
Tempel van Ai en Horemheb
Net noord van die Dodetempel van Ramses III, tot teen die moddermuur wat dit omring, staan die swak bewaarde Tempel van Ai en Horemheb.
Galery
- Die terrein van Medinet Haboe.
- Die ingang na Ramses se tempel.
- Die Dodetempel van Ramses III.
- Die migdol-ingang na Medinat Haboe.
- Die eerste mastoring van Ramses se tempel.
- 'n Plafonversiering in die suilesaal.
Verwysings
- Gauthier, Henri (1929). Dictionnaire des Noms Géographiques Contenus dans les Textes Hiéroglyphiques Vol. 6. pp. 105–106.
- "Medinet Habu". An Archaeological Atlas of Coptic Literature.[dooie skakel]
Nog leesstof
- James Henry Breasted. The Excavation of Medinet Habu. Volume 1 General Plans and Views. University of Chicago Press, Chicago 1934.
- Uvo Hölscher. The Excavation of Medinet Habu. University of Chicago Press, Chicago 1934–1954.
Skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Medinet Haboe.
- Hierdie artikel is in sy geheel of gedeeltelik uit die Engelse Wikipedia vertaal.