Malene Breytenbach
Malene Breytenbach (1948-) is ’n Afrikaanse skrywer. Breytenbach skryf verskeie liefdesverhale, maar lewer ook verskeie ander romans met ernstige temas. Sy skryf ook onder die skuilnaam Marilyn Bennet.[1]
Malene Breytenbach | |
Geboorte | 1 September 1948 Port Shepstone |
---|---|
Nasionaliteit | Suid-Afrika |
Beroep | Skrywer |
Bekend vir | Liefdesverhale en romans |
Huweliksmaat | Willie Breytenbach |
Kind(ers) | Karen |
Lewe en werk
Malene Breytenbach is op 1 September 1948 op Port Shepstone in Natal gebore. Haar pa en ma ontmoet mekaar in die Oos-Kaap. Die gesin emigreer na Rhodesië (tans Zimbabwe) en sy bly tot veertienjarige ouderdom in Gwelo (later Gweru) in Zimbabwe. Hier werk haar pa by die Dairy Marketing Board. Hulle woon op die dorp maar woon ook ’n tyd lank op ’n plaas. Op Gwelo ontvang sy haar skoolopleiding aan die Cecil John Rhodes Primary School en Chaplin High School. Die politieke onrus in Rhodesië neem toe. Die gesin keer in die sestigerjare terug na Suid-Afrika en woon in Pretoria, waar sy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool .
Ná skool studeer sy ’n B.A.-graad behaal met Frans en Engels as hoofvakke en daarna ’n B.A. Honneurs-graad in Engels aan die Universiteit van Pretoria. Hierna werk sy as vertaler by onder meer Krygkor en word ook ’n beëdigde vertaler. Sy trou in 1970 met professor Willie Breytenbach, leraar in Volkekunde. politieke wetenskaplike en Afrika-kenner. Hulle het ’n dogter, Karen, wat in 1981 gebore is. In 1985 verhuis die egpaar na Stellenbosch, waar haar man hoof word van die Departement Afrikastudie aan die Universiteit van Stellenbosch. Sy werk vanaf 1990 tot 2008 by die Universiteit van Stellenbosch, eers in Openbare Betrekkinge en later in Kommunikasie en by die Stellenbosch Stigting. Aan die Universiteit van Stellenbosch behaal sy ’n B.A. Honneurs-graad met lof in die Joernalistiek en later ook die M.A.-graad en D.Phil.-graad in hierdie rigting. Sy behaal ook ’n M.A.-graad in Ou Nabye Oosterse Studie en ’n M.Phil.-graad in Antieke Studies. Nadat sy in 2008 aftree, skryf sy voltyds. Haar kortverhale en boekresensies verskyn in verskeie koerante en tydskrifte en ook op LitNet.
Skryfwerk
Malene Breytenbach
Nadat sy klaar is met jarelange studies begin sy skryf en sy debuteer in 2005 met ’n liefdesroman, Palmyra herleef. Daarna volg ongeveer vyftig kontemporêre, historiese en mediese liefdesromans.
Sy lewer ook meer ernstige werk. Gister is ’n ver land[2] het as tema die onafhanklikwording van Afrikalande, die einde van kolonialisme en die konflik wat dit meebring. Die geleidelike politieke onrus, eers in Kenia en later in Rhodesië, en veral die Rhodesiese oorlog van 1972 tot 1980, laat liggaamlike en diep geestelike letsels op etlike karakters. Die verhaal word ’n indringende studie in die werklikhede van Afrika, waar geweld en konflik en die begeerte om te besit en heers altyd net onder die oppervlak skuil en witmense dit alte dikwels moet ontgeld. In Afrika is alle besit en heerskappy bloot ’n tydelike vergunning. Die skrywer vertaal dié roman in Engels: Yesterday is a Lost Country.
Pluimprinse[3] is ’n roman oor die goue jare van die volstruisveerbedryf in Oudtshoorn.[4] Die interaksie van die Joodse boere met die Afrikaners van die laat negentiende en vroeg twintigste eeu word aangeraak, asook die verhoudings oor rassegrense heen in vandag se tyd, terwyl die verval na die ineenstorting van die volstruisveermark ook sy hedendaagse eweknieë het. So word ’n parallel tussen die verlede en die hede getrek.
Bloedgrond[5] is ’n roman oor grondonteiening en plaasmoorde[6] in Mpumalanga. Dit is ’n mengsel van ’n speurverhaal, spanningsverhaal en liefdesverhaal.
Eenoogkoning is die verhaal van ’n Kaapse vrou, Salome Binnemans, dogter van ’n parlementslid, wat meer as een liefde en die Anglo-Boereoorlog, die oorlog in Duitswes-Afrika, die Eerste en Tweede Wêreldoorlog beleef. Eenoogkoning was een van die tien finaliste in LAPA se 2011-romankompetisie.
Kennis is mag[7] is ’n satiriese roman oor die kleinlike politieke woelinge aan die fiktiewe Universiteit van Utopia, wat duidelike ooreenkomste met Stellenbosch toon.
Anderkant omdraai en The Lions and the Scavengers is twee romans wat in Zimbabwe afspeel en is eboeke op Amazon.
Kortverhale en radiodramas
Sy skryf ook verskeie tydskrifkortverhale en koerantartikels. Haar kortverhaal Polvye word opgeneem in die erotiese versamelbundel Bloots, terwyl Arms opgeneem word in Skarlakenkoors. In Hartlam verskyn haar verhaal Geen groter liefde.
Die radiodramas Die spooklig en Die vlugtelinge word op LitNet gepubliseer.
Marilyn Bennet
Onder die skuilnaam Marilyn Bennett skryf sy ook die populêre romans Vir liefde en vryheid en Waar liefde vonkel
Publikasies
Jaar | Publikasies |
---|---|
Malene Breytenbach | |
2005 | Palmyra herleef |
2006 | Huis van my hart |
Diamante in die stof | |
Die geheim van Aurora | |
Godin van die wingerd | |
2007 | Verskeurde hart |
Liefste vreemdeling | |
’n Ster vir Stella | |
Skat uit die see | |
Eiland van liefde | |
Oase van liefde | |
Safari na liefde | |
Maak my hart gesond | |
Reünie van harte | |
Held uit die verlede | |
Hoe kwesbaar die hart | |
2008 | Liefde in Venesië |
’n Kasteel vir Moira | |
Doolhof van liefde | |
Intrige op Imbovali | |
Hertog van die Pampas | |
Heler van skade | |
In jou hande | |
2009 | Gister is ’n ver land |
Tot die dood ons skei | |
Verbode liefde | |
Roep van die woestynwind | |
2010 | Dokter sonder grense |
Pluimprinse | |
2011 | Bloedgrond |
Dokter van ver | |
Eenoogkoning | |
2012 | Hartstog op see |
Eiland van drome | |
Kennis is mag | |
2013 | Locum vir liefde |
Marilyn Bennett | |
2008 | Vir liefde en vryheid |
Waar liefde vonkel |
2014 | Maya en die operaster, |
2014 | Met die oog op liefde |
2015 | My redder, my beminde |
2016 | Geheime liefde |
2016 | Lorna en die professor |
2016 | Grenslose liefde |
2017 | Van sorg na liefde |
2017 | Geliefde heler |
2017 | Die Professor en die beterweter |
2018 | Vlug na Santorini |
2018 | In my drome |
2018 | Sophia se beskermengel |
2018 | My ster jou ster |
2019 | Huis van geheime |
2019 | Toskane roep my hart |
2019 | Verlore skatte |
2015-2019 | Hartklop Omnibus 1 tot 5 |
2018-2019 | Melodie Omnibus 3 en 4 |
Bronnelys
Internet
- Beeld: http://152.111.1.88/argief/berigte/beeld/2009/08/03/KA/2/malenebreyt.html Geargiveer 26 Junie 2014 op Wayback Machine
- Breytenbach, Malene: http://www.malenebreytenbach.co.za/
- Facebook: https://www.facebook.com/malene.breytenbach
- Green, Phyllis: Sarie: http://www.sarie.com/lewe-liefdes/5-boekminute-met-malene-breytenbach/
- Green, Phyllis: Sarie: http://www.sarie.com/lewe-liefdes/boeke/malene-breytenbach-oor-liefdesverhale-2/
- Liefdesverhale: http://www.liefdesverhale.co.za/Authors/2392 Geargiveer 20 September 2016 op Wayback Machine
- LitNet ATKV-Skrywersalbum 10 Junie 2014: http://www.litnet.co.za/malene-breytenbach-1948/
- Scholtz, Gerard Die Burger: http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/2010/07/05/SK/8/skrywersgesprekMalene%20Breytenbach.html Geargiveer 23 Junie 2014 op Wayback Machine
- NB-Uitgewers: http://www.nb.co.za/authors/2392 Geargiveer 27 Augustus 2016 op Wayback Machine
- Springbokboeke: http://www.springbokboeke.co.za/html/skrywers.html Stellenbosch Writers: http://www.stellenboschwriters.com/breytenbachm.html
Resensies
- HAT Taal-en-feitegids, Pearson, Desember 2013, ISBN 978-1-77578-243-8
- Cilliers, Stoffel “Beeld” 10 Augustus 2009
- Nel, Ronel “Beeld” 19 Julie 2010
- Nieuwoudt, Stephanie “Rapport” 25 Julie 2010
- Haasbroek, P.J. “Beeld” 13 Junie 2011
- Victor, Madri “Rapport” 3 Julie 2011
- Stander, Christell “Rapport” 18 Augustus 2013