Maleis
Maleis (Bahasa Melayu, بهاس ملايو) is 'n Maleis-Polinesiese taal wat deur sowat 60,5 miljoen mense as moedertaal gepraat word. Gestandaardiseerde variante van Maleis geniet amptelike status in Maleisië (Maleisies of Standaard Maleis), Indonesië (Indonesies) en Broenei. Dit is saam met Chinees, Engels en Tamil een van die vier amptelike tale van Singapoer. Indonesies word in Indonesië deur sowat 140 miljoen mense as 'n tweede taal gepraat.
- Hierdie artikel handel oor die taal. Vir die etniese groep, sien Maleiers.
Maleis Bahasa Melayu, بهاس ملايو | ||
---|---|---|
Gepraat in: | Indonesië Maleisië Broenei Singapoer Thailand Oos-Timor Kerseiland Kokoseilande | |
Gebied: | Suidoos-Asië | |
Totale sprekers: | 60,5 miljoen (moedertaal) 200–250 miljoen (tweede taal)[1] | |
Taalfamilie: | Austronesies Maleis-Polinesies Kern-Maleis-Polinesies Maleis-Soembawa Maleis Malay Maleis | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet (algemeen) Arabiese alfabet (Jawi) Thai-skrif (Thailand) Pallava, Kawi, Rencong (histories) | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | ASEAN Broenei (as Brunei Malay) Indonesië (as Indonesies) Maleisië (as Maleisies) Singapoer | |
Gereguleer deur: | Badan Pengembangan dan Pembinaan Bahasa ( Indonesië) Dewan Bahasa dan Pustaka ( Maleisië) Majlis Bahasa Brunei-Indonesia-Malaysia (Broenei, Indonesië, Maleisië) | |
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | ms | |
ISO 639-2: | may | |
ISO 639-3: | msa | |
In Maleisië staan die standaardtaal as Bahasa Malaysia ("Maleisiese taal" of "taal van Maleisië") bekend. In Singapoer, Broenei, en die suide van Thailand word die term Bahasa Melayu ("Maleise taal") gebruik, en in Indonesië word dit algemeen Bahasa Indonesia ("Indonesiese taal" of "taal van Indonesië") genoem, maar Bahasa Nasional ("Nasionale taal") en Bahasa Persatuan/Pemersatu ("Verenigende taal") is ook gebruiklike terme. In die streke van Sumatra en Riau, waar die taal inheems is, verwys die Indonesiërs ook na die taal as Bahasa Melayu.
Indonesies/Maleis is verwant aan Balinees, Bandjarees, Chamorro, Javaans, Madoerees, Minangkabau, Palauaans en Soendanees. Dit is ietwat minder verwant aan Filippynse tale soos Cebuano en Tagalog (Filippyns) en het daarnaas nog 'n los verbintenis met Malgassies in Madagaskar.
As gevolg van die lang historiese bande tussen Indonesië en Nederland (Nederlands-Indië) is baie Maleise woorde in Nederlands en later in Afrikaans opgeneem. Na die vestiging van die Nederlandse Kaapkolonie in die hedendaagse Suid-Afrika is Maleiers deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie as slawe na die Kaap gebring en het die Kaapse Maleiers geword. Hul oorspronklike moedertaal Maleis is eers deur Nederlands vervang en het later tot Afrikaans ontwikkel.
Maleise leenwoorde in Nederlands en Afrikaans:
Maleis | Nederlands | Afrikaans |
---|---|---|
amuk | amok | amok |
keras | kras | kras |
sarung | sarong | sarong |
banyak | veel | baie |
bekkelahi | bakkeleien | baklei |
pisang | pisang | piesang |
pikir | piekeren | pieker |
kapuk | kapok | kapok |
atjar | atjar | blatjang |
Sien ook
Verwysings
- (en) "Ethnologue: Languages of the World, Seventeenth edition, Malay". Ethnologue. Besoek op 7 Maart 2022.
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Maleis.
- Wikiwoordeboek het 'n inskrywing vir Maleis.
- (en) "Malay language". Encyclopædia Britannica. Besoek op 31 Augustus 2018.
- (en) Malay Translation
- (en) Malay Dictionary Geargiveer 29 Mei 2010 op Wayback Machine
- (en) Malay Text-to-Speech Geargiveer 20 Februarie 2009 op Wayback Machine