MTN
MTN is 'n multinasionale mobiele telekommunikasiefirma wat in Suid-Afrika gebaseer is en in 21 lande besigheid bedryf, hoofsaaklik in Afrika en die Midde-Ooste.[1] MTN se voorsitter is Mcebisi Jonas en die hoof- uitvoerende beampte is Charles Molapisi.
MTN Groep | |
Tipe | Publieke maatskappy |
---|---|
Gestig | 1994 |
Hoofkantoor | Johannesburg, Gauteng, Suid-Afrika |
Sleutelpersone | Mcebisi Jonas (voorsitter) Charles Molapisi HUB |
Gebied bedien | Afrika en Midde-Ooste |
Industrie | Kommunikasiedienste |
Produkte | Telekommunikasie Draadlose breëbanddienste Internet dienste |
Inkomste | VS$ 12.43 miljard (2014) |
Bedryfsinkomste | VS$ 4.81 miljard (2011) |
Netto inkomste | VS$ 2.92 miljard (2011) |
Bates | VS$ 22.23 miljard (2011) |
Werknemers | 17 509 (2010) |
Slagspreuk | Everywhere you go |
Webwerf | mtn.com |
Finansiële prestasie
MTN het 'n sterk finansiële prestasie vir die finansiële tydperk geëindig 31 Desember 2008 gelewer. Dit word toegeskryf aan die sterk groei in mobiele intekenaars van 48%, hoofsaaklik as gevolg van MTN Iran met 10 miljoen nuwe intekenare en MTN Nigerië met 6,6 miljoen nuwe intekenare, verhoogde kapitaalbeleggings in infrastruktuur en verbeterde diensverspreiding.
Die maatskappy het geweldige beleggings in infrastruktuur gemaak wat hom 'n kompeterende voordeel oor mededingers gegee het, alhoewel dit egter 'n negatiewe impak op die winsgewendheid van bates gehad het. Verskeie faktore het die Groep se uitgawes in verhouding met inkomste opgejaag: netwerk-instandhoudingskoste is hoër, brandstofkoste is hoër, en regulasieheffings is ook hoër.
Opbrengs per aandeel het met 43% toegeneem tot 836,5 c vir die tydperk geëindig 31 Desember 2008. Netto handelsresultate is 'n 15%-hupstoot gegee nadat die Rand teenoor die VS-dollar verswak het en dit moontlik gemaak het vir verhoogde appresiasie van inkomste vanuit Afrika- en Midde-Oosterse lande.
Omset het in 2008 met 40% toegeneem tot R102,5 miljard vanaf R73,1 miljard in 2007 as gevolg van sterk groei in die aantal intekenaars, asook verhoogde appresiasie van handelsgeldeenhede teenoor die Rand. MTN Iran se inkomste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasies (IVRBWA) het vanaf negatief 13,4% in 2007 tot positief 30,2% in 2008 gestyg. Suid-Afrikaanse IVRBWA is twee persentasiepunte op 32,8% laer as die vorige jaar as 'n gevolg van verhoogde belegging in diensverspreiding. Hierdie verlaging word daarbenewens ook toegeskryf aan hoër OPEX-koste en 'n toename in selfoonkoste in vergelyking met wisselkoerse. IVRBWA in Soedan, Ghana en Sirië is laer in vergelyking met 2007.
Waardevermindering vir die jaar het met R3,2 miljard tot R9,9 miljard vir die tydperk geëindig 31 Desember 2008 toegeneem as gevolg van die Groep se toename in waardeverminderbare bates — hoofsaaklik infrastruktuur — om die Groep se groeipotensiaal te verhoog. Opbrengs per intekenaar het in die tydperk geëindig 31 Desember 2008 afgeneem omdat penetrasie in laë-gebruiksareas uitgebrei is. As gevolg van sterk groei in die omset het die Groep se inkomste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasies (skulddelging) (IVRBWA) in 2008 met 36% tot R43,2 miljard gestyg. Finansieringskoste het met 40% tot R1,9 miljard gedaal as gevolg van veranderende wisselkoerse.
Balansstaat
Bates, kontant uitgesluit, het met 44% tot R141,4 miljard toegeneem. Dit is as gevolg van 'n styging in grond en geboue en toerusting van R24,7 miljard asook die impak van R6,7 miljard as gevolg van die verswakking in die Rand. Handelsdebiteure het met R3,4 miljard toegeneem en voorraad met R1,2 miljard, waarvan R700 miljoen in Suid-Afrika was om dienste in die pre- en post-betaalde mark te verbeter.
Kontantvloei
Kontant deur bedrywighede voortgebring het tot R44,8 miljard vanaf R34,3 miljard gestyg. Dit word toegeskryf aan die sterk bedryfsprestering asook die swakker Rand. In April 2008 het die Groep 'n dividend van R2,5 miljard uitbetaal. Netto kontantvloei vir die jaar was egter R7,4 miljard voordat wisselkoersimpak van R2,7 miljard in aanmerking geneem is.
Korporatiewe sosiale belegging
Op MTN se webwerf en in die amptelike finansiële oudit word geen inligting verskaf rakende die Groep se betrokkenheid in die gemeenskap nie en geen verwysing word tot die King-verslag gemaak nie. 'n Swart ekonomiese bemagtiging- (SEB) transaksie sou in die derde kwartaal van die nuwe finansiële tydperk (2009) plaasgevind het, maar die Groep het na oorweging die transaksie deur die mat laat val omdat dit volgens hulle nie in die belang van die Groep of SEB-beleggers sou wees nie.
Eksterne skakels
Verdere leesstof
- Gepubliseerde finansiële resultate vir 2008[dooie skakel]
Verwysings
- http://www.mtn.com/mtn.group.web/explore/CEO/CEO.asp Geargiveer 23 Mei 2008 op Wayback Machine MTN webblad