Lisburn
Lisburn (Iers-Gaelies: Lios na gCearrbhach) is 'n stad in Noord-Ierland wat suid-wes van Belfast aan die Laganrivier geleë is. Lisburn maak deel uit van die metropolitaanse gebied van Belfast, met 'n bevolking van 71 465 volgens die sensus van 2011. Lisburn se groter council area, die tweede grootste in Noord-Ierland na Belfast, het 'n groeiende bevolking van sowat 114 000.
Lisburn Lios na gCearrbhach (Iers-Gaelies) | |
---|---|
Stad | |
Die Irish Linen Centre-museum in die middestad van Lisburn behandel die geskiedenis van die Noord-Ierse linnebedryf | |
Lisburn | |
Koördinate: 54°31′00″N 6°02′00″W | |
Land | Verenigde Koninkryk |
Land (VK) | Noord-Ierland |
County | Antrim Down |
Bevolking | |
• Totaal | 71 465 |
Tydsone | UTC+00:00 (MGT) |
• Somertyd | UTC+01:00 (BST) |
Poskode | BT27, BT28 |
Skakelkodes | 02892 |
Webwerf | lisburn.gov.uk |
Lisburn is in die Laganvallei geleë, en alhoewel dit lankal tot 'n besige voorstad van Belfast gegroei het, het die stad sy 18de eeuse argitektoniese erfenis van historiese geboue en strate in die middestad bewaar. Die nabygeleë M1-snelweg en die A1-grootpad verbind die stad met Belfast en Dublin.
Lisburn was oorspronklik 'n borough, maar het in 2002 as deel van koningin Elizabeth II se Goue Jubileumfeesvierings stadstatus ontvang. Dit is die derde grootste stad in Noord-Ierland en die sesde grootste op die eiland Ierland.
Lisburn is in die vroeë 17de eeu gestig. Sy Ierse naam, Lios na gCearbhach of Lisnagarvey, beteken "fort van die dobbelaars". Die eerste verwysing na die naam Lisburn verskyn in 'n doopboekinskrywing gedateer 11 Januarie 1662. Die dorpsnaam is moontlik van Lisnagarvey na Lisburn gewysig nadat die nedersetting tydens die opstand van 1641 aan die brand gesteek is. Tans dra baie plaaslike sportklubs nog die stad se oorspronklike naam. Vanaf die eerste helfte van die 18de eeu het Lisburn tot 'n belangrike sentrum van die Ierse linnebedryf gegroei.[1]