Lionel Phillips
Sir Lionel Phillips, 1ste baronet van Tylney Hall (* 6 Augustus 1855; † 2 Julie 1936) was 'n Suid-Afrikaanse mynmagnaat ("Randheer"), politikus en filantroop.
Lionel Phillips | |
---|---|
Lionel Phillips. Portretskildery deur Giovanni Boldini (1845-1931), olie op doek, 1903. Johannesburgse Kunsmuseum. | |
Gebore | 6 Augustus 1855 |
Sterf | 2 Julie 1936 Vergelegen, Somerset-Wes, Suid-Afrika |
Nasionaliteit | Verenigde Koninkryk |
Beroep | Mynmagnaat en politikus |
Eggenoot | Florence Ortlepp |
Kinders | Twee seuns, een dogter |
Lewe
Vroeë lewe
Lionel Phillips is op 6 Augustus 1855 (volgens sy die inskripsie op sy graf: 22 Augustus 1856) in 'n Joodse laermiddelklasgesin gebore. Die Phillipse het hulle as handelaars bekwaam en deel uitgemaak van 'n groeiende groep van Jode wat 'n belangrike rol in die handels- en politieke lewe van 19de eeuse Groot-Brittanje gespeel het. Sy vroeë formele opleiding was beperk, maar hy is nogtans met 'n goeie kennis van Frans en skeikunde toegerus.
Phillips het sy loopbaan in die ouderdom van 14 begin en as boekhouer vir sy pa gewerk, maar het daarnaas privaat studeer om lid van die Instituut van Meganiese Ingenieurs te word.
In 1875 het hy op die diamantveld in Kimberley aangekom, soos talle Jode destyds, nadat hy per voet van Kaapstad na die Noord-Kaap gereis het. In Kimberley is hy deur Joseph Benjamin Robinson as sorteerklerk aangestel, hy het 'n kort tydperk lank 'n nuusblad, The Independent, bestuur en het later 'n mynbestuurder geword. Hy het sy eerste fortuin in Kimberley deur beleggings in die diamantbedryf gemaak en in 1884 verloor toe die diamantmark ineenstort terwyl hy met vakansie in Engeland was.
Mynbou en politieke loopbaan
Phillips het Cecil John Rhodes en Alfred Beit onder sy vriende getel. In 1889 is hy as mynboukonsultant by Eckstein & Co. aangestel, 'n onderneming wat sy hoofkwartier in Corner House gehad het en waarin Beit die meerderheid aandele gehou het. Phillips is as "gehard" en "daadkragtig" beskryf en was "vasbeslote om in sy doelwitte te slaag". Hy het die hoop gekoester om eendag die bestuurder van De Beers te wees, maar Beit het hom 'n jaarlikse salaris van £2 500, vergoeding van alle koste en tien persent van alle winste wat uit die bestuur van die onderneming se belange in die Nellmapius-sindikaat voortgespruit het, aangebied.
Toe Phillips in Johannesburg aankom, het die stad se sakewêreld in 'n chaotiese toestand verkeer. Jules Porgès (1839-1921), 'n Parys-gebaseerde finansier en sakevennoot van Beit wat 'n belangrike rol by die opkoms van die Johannesburgse Randhere gespeel het, was van voorneme om af te tree, terwyl die Johannesburgse effektebeurs totaal deurmekaar geraak het nadat 'n opname, wat in die stad se myne gedoen is, die potensiële gevaar van 'n mynramp getoon het.
Phillips het binnekort 'n leidende rol in die mynbedryf gespeel en was aktief betrokke by die Uitlander-beweging wat die regering van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) die stryd aangesê het. In 1885 het Phillips met Florence Ortlepp getrou, die dogter van 'n Colesbergse landopmeter en natuurkundige. Uit die huwelik is twee seuns en 'n dogter gebore. In 1892 het Philips Hermann Eckstein as president van die Kamer van Mynwese opgevolg.
Die Phillipse se huis Hohenheim op die perseel van die huidige Charlotte Maxeke-hospitaal (vroeër die Johannesburgse Algemene Hospitaal) is in die destyds nuwe voorstad Parktown opgerig. Florence Phillips het die ontwikkeling van dié nuwe woonbuurt voorgestel weens die lugbesoedeling in suidelike stadsdele waar mynbedrywighede 'n stofprobleem veroorsaak het. Hohenheim, wat in 1892 deur Frank Emley ontwerp en twee jaar later voltooi is, was die eerste herewoning in Parktown. Dit is later deur die skrywer en mynfinansier sir Percy Fitzpatrick bewoon. Die Phillipse het in 1909 die Villa Arcadia in Parktown betrek.
Phillips het sy politieke oortuigings in 'n toespraak geopenbaar wat hy ter geleentheid van die inwyding van die Kamer van Mynwese se nuwe kantoor in November 1895 gelewer het. Ná die mislukte Jameson-inval van 1896 het die omvang van Phillips se persoonlike betrokkenheid by die Hervormingsbeweging duidelik geword. Die Hervormingskomitee was 'n komitee van 56 lede wat die besware van Johannesburgers aan die regering van president Paul Kruger voorgedra het.
Phillips het die uitkoms van die inval afgewag en was gereed om aan die verwagte opstand deel te neem. Toe die nuus oor die mislukte inval hom bereik het, het Phillips homself op 10 Januarie 1896 aan die owerheid oorhandig en skuldig gepleit. Hy is aanvanklik saam met ander samesweerders, onder wie kol. Frank Rhodes (die broer van Cecil John Rhodes) en John Hays Hammond, deur regter Reinhold Gregorowski die doodstraf opgelê, maar nadat hulle ses maande in die gevangenis deurgebring het, is die meeste samesweerders se straf deur pres. Kruger uitgestel en elkeen 'n boete van £25 000 opgelê. Phillips is gewaarsku om nie verder by politieke sake in die ZAR in te meng nie, anders sou hy in ballingskap moet gaan.
Phillips het dié waarskuwing geïgnoreer en 'n opruiende artikel in die Nineteenth Century gepubliseer. Hy is vervolgens deur die staatsaanklaer Jan Smuts uit die ZAR verban, terwyl Jameson en sy mede-invallers deur pres. Kruger Londen toe gestuur is om daar voor 'n Kroonhof te verskyn - 'n besluit wat alle betrokke partye in die verleentheid gestel het. Rhodes is gedwing om as eerste minister van die Kaapkolonie en as voorsitter van die British South Africa Company te bedank.
Phillips het hom in Engeland gevestig waar hy die herewoning Tylney Hall in Hampshire vir £77 000 gekoop en byna volledig laat ombou het. So het hy onder meer 'n 16de-eeuse plafon uit 'n paleis in Florence, Italië, ingevoer. Hy het tot die einde van die Anglo-Boereoorlog in Engeland gebly en is toe deur Alfred Beit en Julius Wernher oorreed om tot voordeel van die onderneming se belange na Johannesburg terug te keer.
Phillips is herverkies as voorsitter van die Kamer van Mynwese en het as afgevaardigde van die Unionisteparty in 1910 'n setel in die eerste parlement van die nuutgestigte Unie van Suid-Afrika gewen. Hy is as een van die mees vooraanstaande deskundiges van goudmynbou in Suid-Afrika beskou en het as die onbestrede leier en mondstuk van die mynbedryf opgetree.
In 1912 se Nuwejaarserelys is hy tot baronet geadel. Toe hy op 11 Desember 1913 op pad van die Corner House na die Randklub was, is hy vyf keer deur ene Misnun geskiet, 'n vakbondlid en winkeleienaar. Dit was Phillips se herhaalde weiering om handelsake te bespreek wat Misnun na die wapen laat gryp het. Phillips het die moordpoging oorleef, en Misnun is tot vyftien jaar tronkstraf gevonnis. Hy het kort ná sy vrylating selfmoord gepleeg. Dit was nie Phillips se enigste gelukkige ontsnapping nie. Toe hy in Kimberley gebly het, het hy sy staanplek verloor en sowat 100 meter diep teen die steil helling van 'n diamanteboorgat geval. Hy het oorleef en net ligte skrapies opgedoen.
In 1914 het hy na Londen verhuis om die pos van besturende direkteur van die Central Mining Company te beklee. Gedurende die Eerste Wêreldoorlog is hy as die Britse regering se raadgewer oor die metaalbedryf aangestel. Hy het in 1924 na Suid-Afrika teruggekeer en hom op die plaas Vergelegen naby Somerset-Wes gevestig wat hy reeds in 1917 as geskenk vir Florence gekoop het. Hy is daar op 2 Julie 1936 oorlede. In sy baronetskap is hy deur sy kleinseun, sir Lionel Francis Phillips, 2de baronet, opgevolg.
Kuns en filantropie
Lionel en Florence Phillips het met hul kunsversamelings 'n blywende nalatenskap in Suid-Afrika gelaat. Florence het 'n veldtog vir die stigting van die Johannesburgse Kunsmuseum gevoer en sy eerste versamelings saamgestel, waaronder haar kantversameling, terwyl Lionel sewe olieskilderye en 'n Rodin-beeldhouwerk geskenk het.
'n Ander blywende bydrae tot die Johannesburgse gemeenskap was die Rand Regimente-monument in die Johannesburgse Dieretuin wat deur Herbert Baker ontwerp is. Lionel het in die komitee gedien wat die gedenkteken beplan het en ook vir die Vredesengel-beeldhouwerk bo-op die monument betaal. Die monument is in 1999 aan alle slagoffers van die oorlog gewy en hernoem as Anglo-Boereoorlogmonument.
Phillips het ook die Witwatersrandse Landbouvereniging laat herleef en tussen 1906 en 1924 as sy president gedien.
Toe Lionel die Vergelegen-landgoed in 1917 koop, het hy dit in Florence se naam laat oordra. Die herehuis was destyds in 'n ellendige toestand, en Florence, wat deur Graham Viney in sy Colonial Houses of South Africa as "'n formidabele Edwardiaanse gasvrou en onvermoeide beskermvrou van die Kuns" beskryf is, het die Joodse argitek Joseph Solomon aangestel om die huis te restoureer.[1] Sy opdrag was om eers die Bolandse Kaaps-Hollandse plaasargitektuur te bestudeer voordat hy die projek aanpak. Sodoende was dit een van die beste, maar ook duurste restourasieprojekte van sy tyd. Die wynkelder is as Lionel se biblioteek ingerig, Florence het die oktogonale tuin laat aanlê. Die paar het naas Vergelegen ook herehuise in Engeland besit.[2]
Verwysings
- Graham Viney: Colonial Houses of South Africa. Struik-Winchester 1987
- Martiens van Bart: Vergelegen-gastesuites versier na lady Phillips se smaak. In: Die Burger, 25 September 1992