Ladismith
Ladismith is 'n dorp in die Kannaland munisipaliteit van die Tuinroetedistrik (provinsie Wes-Kaap, Suid-Afrika). Die dorp is sowat 300 km oos van Kaapstad aan die Roete 62 tussen Barrydale en Calitzdorp geleë. Ander belangrike dorpe in die omgewing is Laingsburg (85 km van Ladismith af) en Oudtshoorn (100 km).[2][3] Die dorpsnaam word met 'n "i" gespel om verwarring met Ladysmith in KwaZulu-Natal te voorkom.
- Vir die dorp in die provinsie KwaZulu-Natal, sien Ladysmith.
Ladismith | |
---|---|
Die landskap in Ladismith se omgewing | |
Ladismith Ladismith se ligging in Wes-Kaap | |
Koördinate: 33°29′37″S 21°16′2″O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Wes-Kaap |
Distrik | Tuinroete |
Munisipaliteit | Kannaland |
Stigting | 1852 |
Oppervlak | |
• Totaal | 25,8 km2 (10,0 vk. myl) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 7 127 |
• Digtheid | 276/km2 (710/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 11.5% |
• Indiërs/Asiërs | 0.3% |
• Bruin mense | 81.3% |
• Swart mense | 6.4% |
• Ander | 0.5% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 95.7% |
• Engels | 1.9% |
• Ander | 2.4% |
Poskode (strate) | 6655 |
Poskode (posbusse) | 6655 |
Skakelkode | 028 |
Geskiedenis
Ladismith is in 1852 gestig en vernoem na Lady Juana Maria Smith (1798–1872), die eggenote van die destydse goewerneur van die Kaapprovinsie, sir Harry Smith.
Wapen
Ladismith het in 1862 'n munisipaliteit geword. Die raad het in 1970 'n wapen by die Buro vir Heraldiek geregistreer : In goud, 'n blou berg met gesplete top belaai met 'n aansiende olifantskop van natuurlike kleur. Die helmteken is 'n eland met 'n heraldiese fontein tussen sy voorpote, uitkomend uit 'n rooi muurkroon; die wapenspreuk is "Deus saxum meum est".[4]
Besienswaardighede
Besienswaardighede sluit die plaaslike kerkgeboue van die Pinksterbeweging en Lutherane en die geboortehuis van die bekende Afrikaanse digter C.J. Langenhoven in.
Die Anysberg Natuurreservaat is sowat 70 km noordwes van Ladismith geleë.
Ekonomie
Die plaaslike landboubedryf het sy eerste ekonomiese opswaai tydens die 19de eeuse volstruisveertydperk beleef. Vandag staan die gebied as die belangrikste produsent van appelkose in die Suidelike Halfrond bekend.[5] Daarnaas dra ook skaapteelt, melkboerdery, pruime, nektariene en perskes by tot die ekonomiese welvaart van die gebied. Danksy die vrugbare landbougrond in die valleie en besproeiing verskil die gebied van Ladismith duidelik van sy barre omgewing.
Toerisme
Ladismith is 'n vertrekpunt vir toere na die Swartberge en rondritte na die ou sendingstasies Zoar en Amaliënstein, wat deur die Berlynse Sendinggenootskap gestig en na die Duitse weldoeneres Amalie von Stein vernoem is, die indrukwekkende Seweweekspoort en die verruklike Hoekovallei. Die natuurskoon van die streek het 'n aantal kunstenaars gelok wat hier hul ateljees geopen het.
Kookkuns
Die plaaslike restourante bied outentieke plattelandse kos aan.
Bekende boorlinge
- Maria Kloppers, stigter van die Kinderhawe in Observatory, Johannesburg.
- Hannes la Grange, eerste Suid-Afrikaner wat die Suidpool bereik.
- Abraham H. de Vries, skrywer.
- Morkel van Tonder, Afrikaanse radio-omroeper.
Verwysings
- Som van die hoofplekke Ladismith en Nissenville tydens die 2011-sensus.
- "Demarcation.org.co.za". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 26 April 2009. Besoek op 14 Junie 2008.
- "www.karooinfo.com". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 April 2016. Besoek op 24 Desember 2015.
- National Archives of South Africa : Data of the Bureau of Heraldry.
- "www.kapstadt.de: Ladysmith in Südafrika". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Maart 2009. Besoek op 14 Junie 2008.