Lachmiede

Die Lachmiede (Arabies: اللخميون) was ’n Christelike Arabiese koninkryk in die hedendaag Suid-Irak, met al-Hirah van 266 n.C. af as hoofstad. Digters het dit as ’n paradys op aarde voorgehou; een Arabiese digter het dit so beskryf: "Een dag in al-Hirah is beter as ’n jaar se behandeling."[1]

’n Persiese manuskrip uit die 15de eeu wat die bou van die Al-Khornaq-kasteel in Al-Hira uitbeeld en beskryf.

Die ruïnes van al-Hirah is 3 km suid van die hedendaagse Kufa, aan die westeroewer van die Eufraatrivier. Die Lachmiede se moderne afstammelinge is die Mandhari's in Oman, Irak en die Verenigde Arabiese Emirate, die Na'amani's, ook in Oman, en verskeie ander stamme en families.

Geskiedenis

Die Lachmidiese Koninkryk is gestig deur ’n stam wat in die 2de eeu uit Jemen geëmigreer het en regeer is deur Banu Lakhm, vandaar die naam wat aan hulle gegee is. Die stigter van die dinastie was 'Amr, wie se seun Imru' al-Qais hom volgens Westerse skrywers tot die Christendom bekeer het.

Hy het gedroom van ’n verenigde Arabiese koninkryk en het baie stede in Arabië verower. Hy het toe ’n groot leër op die been gebring en die koninkryk as ’n seemag ontwikkel waarvan die skepe aan die Bahreinse kus bedrywig was. Van daar het hy die kusstede van Persië aangeval – dié land was toe in ’n burgeroorlog gewikkel.

In 325 het die Perse onder Shapur II ’n veldtog teen die Arabiese koninkryke begin. Imru' al-Qais het die Romeinse Ryk se hulp gevra, maar die ryk kon nie help toe sy hulp nodig was nie en Shapur II het die Lachmidiese leër verslaan, al-Hirah verower en die koninkryk as ’n buffersone gebruik tussen Persië en die ander Arabiese gebiede op die skiereiland.

Die Lachmiede het deur die 6de eeu invloedryk gebly, maar in 602 is hul laaste koning, Nu'man III, deur die Sassanidiese koning Chosroës II laat doodmaak weens ’n valse suspisie van verraad, en die Lachmidiese Koninkryk is geannekseer. Islam het die Sassanidiese Ryk in die 7de eeu verower en die materiaal van al-Hira is gebruik om die stad Kufa te bou.

Verwysings

Bronne

  1. Esat Ayyıldız, “Lahmîlerin Arap Edebiyatına Etkisi”, 2nd International Archeology, Art, History and Cultural Heritage Congress, ed. Kenan Beşaltı (Şanlıurfa: Iksad Yayınevi, 2022), 38-44.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.