Krugersdorp
Krugersdorp, oorspronklik Paardekraal genoem en voorheen met 'n eie stadsraad, is 'n stad in die munisipale gebied bekend as Mogale City, op die Wesrand van Gauteng, Suid-Afrika.
Krugersdorp | |
---|---|
Krugersdorp se Stadsaal | |
Krugersdorp Krugersdorp se ligging in Gauteng | |
Koördinate: 26°6′S 27°46′O | |
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Gauteng |
Distrik | Wesrand |
Munisipaliteit | Mogale City |
Stigting | 1887 |
Oppervlak | |
• Totaal | 247,22 km2 (95,45 vk. myl) |
Hoogte | 1 724 m (5 656 ft) |
Bevolking (2011)[1] | |
• Totaal | 140 643 |
• Digtheid | 569/km2 (1 470/vk. myl) |
Rasverdeling (2011) | |
• Wit mense | 50.2% |
• Indiërs/Asiërs | 5.4% |
• Bruin mense | 1.4% |
• Swart mense | 42.3% |
• Ander | 0.8% |
Taal (2011) | |
• Afrikaans | 42.0% |
• Engels | 19.5% |
• Tswana | 14.5% |
• Zoeloe | 4.8% |
• Ander | 19.2% |
Poskode (strate) | 1740 |
Poskode (posbusse) | 1740 |
Skakelkode | 011 |
Geskiedenis
Krugersdorp het sy bestaan te danke aan goud soos baie dorpe in Gauteng. Op 27 April 1887 het die regering van die Transvaalse Republiek besluit om 428 ha van die plaas Paardekraal teen £3 000 aan te koop vir 'n dorp. Die dorp moes dien as 'n administratiewe sentrum vir al die mynboubedrywighede wes van Johannesburg. Die eienaar van die plaas, Marthinus Pretorius, het aangedring dat die nuwe dorp ter ere van Paul Kruger genoem word. Die eerste standplase is op 31 Oktober 1887 verkoop. Twee jaar later het die regering £800 aan die munisipaliteit geskenk om bome langs die strate te plant. Die spoorlyn vanaf Johannesburg het Krugersdorp teen 1891 bereik.
George Pratley, die Suid-Afrikaanse ingenieur van Krugersdorp, het Pratley Putty in die sestigerjare ontwerp.
Algemeen
Krugersdorp is veral bekend vir sy geskiedkundige rol in die Jameson-inval, die Eerste Vryheidsoorlog, die Paardekraal Monument die nabygeleë myne en die Sterkfonteingrotte wat tot wêrelderfenisgebied verklaar is. Hierdie grotte noordwes van Krugersdorp het internasionale bekendheid verwerf toe die Skotse medikus en paleontoloog dr. Robert Broom hier in 1947 "Mevrou Ples" en ander mensagtige fossiele ontdek het.[2] Die N14 nasionale pad gaan noordwes van Krugersdorp verby.
Distrik
Die distrik is 1 500 km2 groot. Die myne in die distrik lewer hoëgraadse mangaan, verskeie kleurstowwe, kalk en dolomiet. Die belangrikste landbouprodukte is mielies, tabak, beeste, suiwelprodukte, sagtevrugte en snyblomme. Dr. D.F. Malan het op 8 Oktober 1952 die eerste aanleg geopen wat uraan as 'n neweproduk van goud produseer.
Besienswaardighede
- Krugersdorp Museum
- Krugersdorp Wildreservaat
- Maropeng
- Ou Kromdraai Goudmyn
- Paardekraal Monument
- Robert Broom Museum
- Sterkfonteingrotte
- Tarlton International Raceway
- Wieg van die Mensdom
- Wondergrot
Bekende inwoners van Krugersdorp
- Christa Steyn, Afrikaanse sangeres is hier gebore.
- Clive Derby-Lewis, verregse politikus wat sluipmoord op Chris Hani gepleeg het.
- Danie Theron, 'n baasverkenner in die Tweede Vryheidsoorlog.
- Daniël Krige, ingenieur en professor.
- Frederik Willem de Klerk, voormalige Staatspresident.
- Jan Kemp, soldaat en kabinetsminister.
- Marthinus Wessel Pretorius, eerste President van die ZAR.
- Phil Mostert, Suid-Afrika se sestiende Springbokrugbykaptein is hier gebore.
- Brad Binder, eerste Suid-Afrikaanse wenner van 'n MotoGP wedren.
Onderwys
Die skole in Krugersdorp sluit in:
- Hoërskool Bastion
- Hoërskool Jan de Klerk
- Hoërskool Monument
- Hoërskool Noordheuwel
- HTS Nic Diederichs
- Krugersdorp High
- Laerskool Ebenhaeser
- Laerskool Kenmare
- Laerskool Krugersdorp-Noord
- Monument Primary
- Townview High
- Laerskool Millennium Primary
- Laerskool Muldersdrif
Sien ook
Bronne
- Erasmus, B.P.J. (1995). Op Pad in Suid-Afrika. Jonathan Ball Uitgewers. ISBN 1-86842-026-4.
- Rosenthal, Eric, Encyclopaedia of Southern Africa, Juta and Company Limited, Kaapstad en Johannesburg, 1978.
Verwysings
- "Hoofplek Krugersdorp". Sensus 2011.
- McDonald, Elsa: Krugersdorp 100. In: Suid-Afrikaanse Panorama, volume 32, nommer 8 (Augustus 1987), bl. 33
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Krugersdorp.
- Mogale City se webwerf Geargiveer 10 Februarie 2007 op Wayback Machine
- Google kaart van Krugersdorp