Krugerdag
Krugerdag was 'n openbare vakansiedag wat vanaf 1882 tot 1899 en weer vanaf 1952 tot 1993 jaarliks op 10 Oktober in Suid-Afrika waargeneem is. Die dag is vernoem na Paul Kruger, 'n Boere weerstandsleier teen Britse bewind en later president van die Zuid-Afrikaansche Republiek, wat sy verjaarsdag op 10 Oktober gevier het. Op die dag is gepoog om die waardes en beginsels in die Afrikanervolkslewe te onderstreep.[2]
Oorsprong en afskaffing
Krugerdag is die eerste keer in 1882, terwyl Paul Kruger nog gelewe het gevier. Kruger was destyds die adjunkpresident, maar omdat hy soveel respek van sy volksgenote geniet het, is sy verjaardag met 'n feesdag gedenk. Dit is die daaropvolgende jaar amptelik as 'n openbare vakansiedag ingestel. Die gebruik het ten einde gekom nadat Brittanje die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek verslaan het.
In 1910, met Uniewording, is die dag steeds nie as openbare vakansiedag erken nie. 'n Paar jaar na die Nasionale Party in Suid-Afrika aan die bewind gekom het, is die dag in 1952 as Heldedag ingestel. Van tyd tot tyd is dit amptelik deur opeenvolgende regerings as hetsy Heldedag of Krugerdag geproklameer, en op kalenders as sodanig aangedui.
Die dag is deur die ANC-regering wat in 1994 aan bewind gekom het opgehef.
Sien ook
- Lys van openbare vakansiedae in Suid-Afrika
- Paul Kruger, na wie die dag vernoem is
Verwysings
- "The siege of Makapan's Cave takes place". Archive day: 25 October, 1854 (in Engels). South African History Online (SAHO). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 1 Mei 2015. Besoek op 13 November 2013.
- SA moet ook nuwe helde soek Geargiveer 4 Maart 2016 op Wayback Machine, Beeld, 18 Oktober 2006