Krimpsiekte

Krimpsiekte, nenta of kotieldonose is 'n siekte wat veral voorkom in skape en angorabokke, hoewel beeste en perde ook vatbaar is. Die siekte is die eerste keer deur John Croumbie Brown in 1863 beskryf.[2] Dit word deur chroniese vergiftiging met hartglikosiede in die veld veroorsaak.

Gebied waar krimpsiekte voorkom.[1] Dit is hoofsaaklik in die sukkulente Karoo.

In Suid-Afrika kom daar twee soorte glikosiede voor wat hierdie eienskap openbaar:

  • kardenoliede
  • bufadiënoliede

Die chroniese tipe van die siekte word veral deur plantspesies uit die vetplantfamilie Crassulaceae, soos Cotyledon, Tylecodon en Kalanchoe, veroorsaak. Die tulp- en slangkopvergiftiging (deur spesies van die genera Moraea en Drimia) het net akute vergiftiging ten gevolg.[1]

Uit krimpsiekbos is kotieldosied geïsoleer, wat in 'n dosis van 0,01-0,015 mg per kg liggaamsmassa krimpsiekte kan veroorsaak.[3]

Die gevolge van die siekte kan verlamming wees of selfs die dood. In 2007 het navorsers gevind dat daar moontlik 'n entstof teen die siekte geproduseer kan word.[4]

Verwysings

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.