Koreaanse Rugbyunie

Die Koreaanse Rugbyunie (Engels: Korea Rugby Union, afgekort “KRU”; Koreaans: 대한럭비협회) is die bestuursliggaam wat rugby en sewesrugby in Suid-Korea beheer. Die beheerliggaam is in 1948 gestig en in Seoel gesetel. Sedert 1988 verteenwoordig dit Suid-Korea by Wêreldrugby en ook by Asië Rugby (“AR”).

Koreaanse Rugbyunie
Kenteken van die Koreaanse Rugbyunie
Kenteken van die Koreaanse Rugbyunie
Engelse naam Korea Rugby Union
Afkorting KRU
Koreaanse naam 대한럭비협회
Land Vlag van Suid-Korea Suid-Korea
Sportsoorte Rugby, Sewesrugby
Stigting 1948
Lid van Wêreldrugby
Aangesluit in 1988
Vastelandse beheerliggaam Asië Rugby
President Choi Won-Tae
Amptelike taal Koreaans
Amptelike webwerf rugby.or.kr

Geskiedenis

Die Koreaanse Rugbyunie is in 1948 gestig en het in 1988 by die Internasionale Rugbyraad (IRR, nou Wêreldrugby) aangesluit.[1] Daarbenewens was die KRU in 1968 ’n stigtingslid van die Asiatiese Rugbyvoetbalunie (Engels: Rugby Football Union, ARFU; nou Asië Rugby).[2]

Taak

Die Koreaanse Rugbyunie organiseer verskeie nasionale spanne, insluitend Korea se nasionale seniormansrugbyspan (die Roos van Saron), vroue en jeug. Die KRU hou ook toesig oor sewesrugby in Suid-Korea en aangesien dit ’n Olimpiese sportsoort is, werk hulle met die Suid-Koreaanse Nasionale Olimpiese Komitee saam. Naas die amptelike nasionale span roep die KRU ook ander keurspanne byeen. Daarbenewens bestuur die beheerliggaam kinder- en jeugrugby in Suid-Korea. Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting. Net soos ander rugbylande beskik Suid-Korea oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[3] Die Korea Sevens is die Suid-Koreaanse sewesrugbyspan en hulle neem aan internasionale toernooie soos Wêreldrugby se Sewesreeks, Sewesrugbywêreldbeker en Olimpiese Somerspele deel.

Die beheerliggaam reël ook die plaaslike kompetisies. Die hoogste rugbyliga in Suid-Korea is die Korea Superrugbyliga, waaraan tien spanne deelneem. Die meeste spelers van die Koreaanse nasionale span is uit dié liga afkomstig. Van die ander spelers is veral in Japan aktief.

Die Koreaanse Rugbyunie organiseer ook gereeld internasionale toernooie. Onder andere word die Korea Sewes jaarliks op die Incheon Namdong Asiad-rugbyveld in Incheon beslis.

Kenteken

Die Koreaanse Rugbyunie se kenteken toon ’n gestileerde alteaboompie (Hibiscus syriacus, ook “Roos van Saron” genoem) in pienk met die belettering Korea Rugby in Engels.


Verwysings

  1. (en) "Korea". Wêreldrugby. Besoek op 25 Maart 2024.
  2. (en) "Korea Rugby Union". Asië Rugby. Besoek op 25 Maart 2024.
  3. (en) "World Rugby U20 Championship". Wêreldrugby. Besoek op 25 Maart 2024.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.