Konrad Adenauer
Konrad Hermann Joseph Adenauer (* 5 Januarie 1876 in Keulen; † 19 April 1967 in Rhöndorf; eintlik Conrad Hermann Joseph Adenauer) was vanaf 1949 die eerste bondskanselier van die Federale Republiek van Duitsland (Wes-Duitsland). Naas hierdie amp, wat hy tot en met 1963 beklee het, het hy tussen 1951 en 1955 gelyktydig ook as minister van buitelandse sake gedien.
Konrad Adenauer | |
Bondskanselier van Duitsland | |
Ampstermyn 15 September 1949 – 16 Oktober 1963 | |
Voorafgegaan deur | - |
---|---|
Opgevolg deur | Ludwig Erhard |
Minister van buitelandse sake | |
Ampstermyn 15 Maart 1951 – 6 Junie 1955 | |
Voorafgegaan deur | - |
Opgevolg deur | Heinrich von Brentano |
Persoonlike besonderhede | |
Gebore | 5 Januarie 1876 Keulen, Duitse Keiserryk |
Sterf | 19 April 1967 Rhöndorf |
Politieke party | Christelik-Demokratiese Unie (CDU) |
Eggenoot/-note | Emma Weyer (1904-†1916) Auguste Zinsser (1919-†1948) |
Alma mater | Universiteit van Freiburg Universiteit van München Universiteit van Bonn |
Religie | Rooms-Katoliek |
Handtekening |
Konrad Adenauer het in die regte gestudeer en sy politieke loopbaan as lid van die Rooms-Katolieke Sentrumparty reeds in die Duitse Keiserryk en die Republiek van Weimar begin. Hy was burgemeester van Keulen, afgevaardigde in die Pruisiese Herehuis en voorsitter van die Pruisiese Staatsraad waar hy hom vir die belange van die Rynland beywer het - 'n streek waaraan hy hom sy lewe lank verbonde gevoel het. In die tyd van die Nasionaalsosialistiese bewind is hy van sy ampte onthef en tydelik in hegtenis geneem.
Ná die Tweede Wêreldoorlog was Adenauer een van die stigters van die Christelik-Demokratiese Unie van Duitsland (CDU) en het sestien jaar lank, tussen 1950 en 1966, as leier van dié party gedien. As president van die Parlementêre Raad, eerste bondskanselier en minister van buitelandse sake het hy sterk invloed op die politieke ontwikkeling van Wes-Duitsland uitgeoefen. Adenauer, wat in die ouderdom van 73 as kanselier verkies is, het vir Bonn as nuwe setel van die federale regering gepleit, 'n streng westerse beleid gevolg, samewerking in Europa en 'n aktiewe rol van Wes-Duitsland in die NAVO-alliansie bevorder. Hy het 'n streng anti-kommunistiese binnelandse beleid gevolg en ook ferm opgetree teenoor die Sowjetunie en sy Oos-Europese satellietstate. In ekonomiese opsig was hy 'n voorstaander van 'n sosiale markekonomie.