Kameelperd (sterrebeeld)

Die Kameelperd (Latyn: Camelopardalis) is ’n groot, maar dowwe sterrebeeld in die noordelike hemelruim. Dit is in 1612 deur die sterrekundige Petrus Plancius voorgestel. Sommige ouer sterrekundeboeke gebruik die alternatiewe spelling Camelopardus[1] in plaas van Camelopardalis.

Kameelperd
Latynse naamCamelopardalis
GenitiefCamelopardalis
AfkortingCam
Waarnemingsdata (Epog J2000)
Regte klimming6h
Deklinasie70º
Grootte757 vk. grade (18de)
KwadrantNQ2
Besonderhede
Hoofsterre2, 8
Helderste sterBeta Camelopardalis (β Cam)
Naaste sterLHS 2459
Sterre helderder as 3 m0
Sterre met planete4
Messier-voorwerpe0
Bayer-/Flamsteed-sterre36
MeteoorreënsCamelopardalids
Aangrensende sterrebeelde
Draak, Klein Beer, Kefeus, Kassiopeia, Perseus, Koetsier, Rooikat, Groot Beer
Portaal  Portaalicoon   Sterrekunde

Ruimtevoorwerpe

Sterre

Hoewel die Kameelperd die 18de grootste sterrebeeld is, is hy nie baie helder nie omdat die helderste sterre maar ’n magnitude van 4 het.

Alpha Camelopardalis (α Cam) is ’n blou superreus meer as 6 000 ligjare van die Aarde af met ’n helderheid van 4,3 mag. Dit is ongewoon dat so ’n verafgeleë ster met die blote oog gesien kan word.[1]

Beta Camelopardalis (β Cam), van 4,03 mag, is die helderste ster in die sterrebeeld. Dit is ’n dubbelster waarvan die komponente van 4 en 8,6 mag is. Die primêre ster is ’n geelreus wat 1 000 ligjare van die Aarde af is.[1] Die tweede helderste ster is CS Cam, ’n effens veranderlike ster van 4,21 mag.[2]

11 Cam is ’n ster van 5,2 mag wat 650 ligjare van hier is. Dit lyk baie naby aan 12 Cam van 6,1 mag, wat feitlik dieselfde afstand van die Aarde af is, maar hulle is nie ’n ware dubbelster nie; hulle is taamlik ver van mekaar af.[1] Struve 1694 (32 Cam) is ’n dubbelster sowat 300 ligjare van hier. Albei komponente is blouwit; die primêre ster het ’n magnitude van 5,4 en die sekondêre ster ’n magnitude van 5,9.[1]

Veranderlike sterre wat in die sterrebeeld voorkom, is Z Cam,[3] U Cam, VZ Cam en die Mira-veranderlikes T Cam, X Cam en R Cam.[4] RU Cam is een van die helderste tipe II-Cepheïede in die lug.

In 2011 is ’n supernova in die Kameelperd ontdek.[5]

Diepruimtevoorwerpe

Die Kameelperd is in die deel van die hemelsfeer wat weg van die galaktiese vlak wys, en daarom kan baie verafgeleë sterrestelsels in die sterrebeeld gesien word. Van hulle is:

  • NGC 2403, ’n stelsel in die M81-groep van sterrestelsels sowat 12 miljoen ligjare van die Aarde af.[1] Dit het ’n rooiverskuiwing van 0,00043, en het dowwe spiraalarms en ’n groot sentrale bol. Dit het ’n magnitude van 8.
  • NGC 1502, ’n oop sterreswerm van 6,9 mag sowat 3 000 ligjare van hier. Dit het sowat 45 helder sterre en ’n dubbelster van 7 mag in die middel. Dit word ook verbind met Kemble se Kaskade, ’n klein ketting sterre van 2,5° lank wat parallel met die Melkweg lê en na die sterrebeeld Kassiopeia wys.[1]
  • Stock 23 is ’n oop sterreswerm naby die suidelike grens van die sterrebeeld met Kassiopeia. Dit kan as ’n asterisme geklassifiseer word vanweë die klein aantal sterre daarin (’n klein teleskopiese "sterrebeeld").
  • Die dwerg- onreëlmatige sterrestelsel NGC 1569 is steruitbarsting-sterrestelsel van 11,9 mag, en is sowat 11 miljoen ligjare van die Aarde af.
  • NGC 2655 is ’n groot lensvormige sterrestelsel van 10,1 mag.

Meteoorreën

Die jaarlikse meteoorreën Camelopardalides van die komeet 209P/LINEAR het ’n uitstralingspunt in die Kameelperd.

Ruimteverkenning

Die ruimtetuig Voyager 1 beweeg in die rigting van die Kameelperd, maar dit sal die naaste sterre in die sterrebeeld eers oor baie duisende jare bereik, en teen daardie tyd sal sy kragbron lankal buite werking wees.

Verwysings

  1. Ridpath 2001, pp. 92-93
  2. Norton 1973, pp. 118=119
  3. American Association of Variable Star Observers
  4. Norton 1973, pp. 118–119.
  5. Boyle, Rebecca (3 Januarie 2011). "10-Year-Old Canadian Girl Is The Youngest Person Ever to Discover a Supernova". Popular Science (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 18 Maart 2020. Besoek op 8 Junie 2012.

Bronne

  • Norton, Arthur P. (1973), Norton's Star Atlas, pp. 118–119, ISBN 0-85248-900-5
  • Ridpath, Ian (2001), Stars and Planets Guide, Princeton University Press, ISBN 0-691-08913-2

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.