Kalmikiërs
Die Kalmikiërs (Kalmikies: хальмгуд, chalmgoed) is 'n Mongoolse etniese groep of 'n subgroep van die Oiratse volk wat inheems aan Suidwes-Rusland is. Hulle praat Kalmikies, 'n taal wat tot die Sentral-Mongoolse groep behoort en in 'n groot mate wedersyds verstaanbaar met Mongools is. Die Kalmikiërs is die enigste volk van Europa waarvan die tradisionele godsdiens Boeddhisme is.
- Hierdie artikel handel oor die etniese groep. Vir die taal, sien Kalmikies.
Kalmikiërs | |
---|---|
'n Nomadiese familie van Kalmikiërs in 1917 | |
Totale bevolking: | ~200 000 |
Belangrike bevolkings in: | Rusland 179 547[1] Turkye ~3 800 |
Taal: | Kalmikies, Russies |
Geloofsoortuiging: | Boeddhisme |
Verwante etniese groepe: | Ander Mongoolse volke soos Mongole en Boerjatiërs |
Geografie
Soos baie van Rusland se etniese minderhede, het die Kalmikiërs hul eie federale deelgebied, die Republiek van Kalmikië wat naby die Kaspiese See geleë is en aan Astrachan-, Rostof- en Wolgograd-oblaste, Dagestan en Stawropol-krai grens. Die Kalmikiërs vorm meer as 60% van die republiek se bevolking. Etniese Russe, Kasakke, Turke en verskeie etniese groepe van Dagestanse oorsprong is die grootste minderhede. Kalmikiese dorpies bestaan ook in verskeie nabygeleë distrikte wat nie administratief tot die republiek behoort nie soos Liman-rajon en Narimanof-rajon in Astrachan-oblast.
Politiek
Die Oirat-Kalmikiese Volkskongres is 'n separatistiese organisasie wat hom beywer vir die onafhanklikheid van Kalmikië van Rusland en die skepping van 'n soewereine Kalmikiese staat. In Maart 2022 het die voorsitter van die Kongres Arslang Sandzjijef en sy adjunkte Batir Boromangnajef, Wladimir Dowdanof en Adoetsje Erdnijef 'n resolusie onderteken wat die Russiese inval in Oekraïne veroordeel. Sandzjijef het verklaar dat die Kalmikiërs aan die Russiese kant geveg het in talle oorloë in die afgelope 400 jaar, maar hierdie aggressiewe oorlog nie kan ondersteun nie.[2]
Verwysings
- "Национальный состав населения [Russiese Sensus 2021]". Росстат (in Russies). Besoek op 13 Augustus 2023.
- "Kalmyk people congress – let oligarchs and their children fight!". Free Idel-Ural (in Engels). 2022. Besoek op 13 Augustus 2023.