Johannes Rabie
Johannes Stephanus Marais (Jan) Rabie (plaas Groenkloof, distrik Fauresmith, Oranje-Vrystaat, 3 Februarie 1868 – Bloemfontein, Suid-Afrika, 31 Desember 1939) was ’n joernalis, stigters- en erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en jare lange raadsvoorsitter van die Grey-universiteitskollege. Volgens prof. dr. P.J. Nienaber was hy "op verskeie ander terreine van die opvoedkundige en volkslewe . . . ’n opbouende faktor van betekenis" en is die stryd vir Afrikaans in Natal ten nouste aan sy naam verbonde as "die eerste oortuigde pleitbesorger en gangmaker vir ons taalregte in die Tuinprovinsie".[1]
Herkoms
Rabie was die oudste van die nege kinders van Johannes Jacobus Rabie (gebore 1816) en sy tweede vrou, Hester D.M. Marais (gebore 1836). J.J. Rabie was 'n Voortrekker afkomstig uit die Kamdeboo, wat gedurende die Groot Trek by Piet Retief se mense was. Hy het deelgeneem aan die slag by Bloedrivier en in 1848 aan die geveg by Boomplaats, het veldkornet in sy distrik geword, was een van die ondertekenaars van die Bloemfontein-konvensie in 1854 en het Fauresmith jare lank in die Oranje-Vrystaatse Volksraad verteenwoordig. Hy het ’n belangrike rol in die wordingsgeskiedenis van die jong Vrystaatse Republiek gespeel. Sy moeder, Hester Marais, was klein van gestalte, maar formidabel van gees. Komende uit 'n intellektuele familie in die Drakenstein, tree sy in die huwelik met ‘n kwaai ou oom van 50 wat baas was van sy plaas in die wildernis. Sy kom uit ‘n buigsame Victoriaanse omgewing en beland eensklaps in ‘n streng Republikeinse opset. Sy het ook nie veel tyd gehad om aan te pas nie, want binne 12 jaar het sy ma van nege kinders geword. Sy wou elkeen ‘n ordentlike opvoeding gee – musiek en boeke lees – iets waarvoor die Rabies min kans gehad het.[2]
Opleiding
Ná sy aanvanklike skoolopleiding op Fauresmith, het Jan Rabie begin 1883 na die Grey-kollege in Bloemfontein gegaan, destyds die enigste middelbare skool in die OVS. In Junie 1886 het hy die matrikulasie-eksamen afgelê en in 1887 het hy na Stellenbosch vertrek waar hy sy B.A. in 1888 aan die Victoria-kollege verwerf het. Vir verdere studie is hy in 1889 saam met genl. J.B.M. Hertzog, hoofregter Jacob de Villiers en regter C.L. Botha oorsee waar hy die eerste ses maande aan die Christ's College, Cambridge, en een semester aan die Universiteit van Bonn vertoef het. Einde 1889 of begin 1890 het hy teruggekeer in sy vaderland.
Loopbaan
Van 1892 tot 1893 was hy verslaggewer by Ons Land in Kaapstad, maar in laasgenoemde jaar verhuis hy na Bloemfontein waar hy aansluit by die redaksie van die tweetalige (Hollands en Engels) nuusblad De Express en ná Nico Hofmeyr se vertrek, volg hy hom op as redakteur van die Hollandse gedeelte van dié blad. Dié betrekking het hy, aldus prof. Nienaber, "met bekwaamheid en takt beklee". Nadat Bloemfontein in 1900 tydens die Driejarige Oorlog deur die Britte ingeneem is, het Rabie by die Boerekommando's aangesluit en deelgeneem aan die gevegte by Paardeberg, Abrahamskraal (Poplar Grove) en Sannaspos. In Julie 1900 word hy gevange geneem by die oorgawe van genl. Marthinus Prinsloo en na Ceylon verban, waar hy onderwys aan die krygsgevangenes gegee en meegewerk het aan hul kampkoerante De Strever en De Krijgsgevangene. In die kamp te Diyatalawa het hy klas gegee aan penkoppe en grysaards en die skrif van die Singalese taal aangeleer.[3]
Ná die oorlog het hy agtereenvolgens die redakteurskap waargeneem van Land en Volk (Pretoria, 1903), De Natalse Afrikaner (Pietermaritzburg, 1904-06) en De Vriend des Volks (Bloemfontein, van 1906 af). Hy het egter sy betrekking by laasgenoemde koerant in Julie 1915 neergelê omdat hy hom nie as Afrikaner gedurende die Eerste Wêreldoorlog, en veral tydens die Rebellie, met die voorgeskrewe politiek van hierdie blad kon vereenselwig nie.
Daarna het hy die joernalistiek vaarwel toegeroep en ’n amp beklee in die provinsiale administrasie van die OVS, tot by sy aftrede einde 1931. Agt jaar later is hy oorlede.
Huwelikslewe
In September 1918 is hy getroud met Johanna Postma (gebore Slijkhuis), die weduwee van prof. Stephanus Postma. So het die Afrikaanse skryfsters Rikie en Hilda Postma sy stiefdogters en prof. Ammi Postma sy stiefseun geword. Hy het geen eie kinders gehad nie en is eers laat in sy lewe die eerste keer getroud.
Waardering
Prof. P.J. Nienaber skryf Rabie "was 'n vurige voorstander van Afrikaans in sy koerante: As redakteur van De Natalse Afrikaner het hy belangrike baanbrekerswerk vir Afrikaans in Natal gedoen en selfs hoofartikels in Afrikaans geskryf. As praktiese koerantman besef hy vroeg die hopeloosheid om Nederlands as taal van die Afrikaner te handhaaf; hy steun dus vroeg die beweging ten gunste van die vereenvoudigde Nederlandse spelling en pas dit ook toe as joernalis, maar hy stel dit duidelik in De Natalse Afrikaner dat hy dit slegs beskou as 'n stap in die rigting van die eventuele erkenning van Afrikaans as kultuurtaal."
Rabie se betekenis vir die Afrikanersaak en die Afrikaanse taal is deur verskillende belangrike instansies erken: Hy is benoem tot lid van die Leidsche Maatschappij der Nederlandse Letterkunde in Leiden en gekies tot erelid van die S.A. Akademie vir Taal, Lettere en Kuns, waarvan hy in 1909 'n stigter was.
Bronne
- (af) De Kock, W.J. (tot 1970) en Krüger, prof. D.W. (sedert 1971, hoofred.) . 1972. Suid-Afrikaanse Biografiese Woordeboek Deel II. Kaapstad en Johannesburg: Tafelberg-Uitgewers.
- (af) Nienaber, P.J. 1947. Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel I. Johannesburg: L. & S. Boek- en Kunssentrum.
Verwysings
- (af) Nienaber, P.J. 1947. Afrikaanse Biografiese Woordeboek, deel I. Johannesburg: L. & S. Boek- en Kunssentrum.
- (af) Rabie Annale 3. URL besoek op 7 Oktober 2016.
- (af) Rabie Annale 3. URL besoek op 7 Oktober 2016.