Joachim Gauck
Joachim Gauck (* 24 Januarie 1940 in Rostock) het tussen Maart 2012 en Maart 2017 as die elfde federale president (seremoniële staatshoof) van Duitsland gedien. As Evangelies-Lutherse pastoor, partylose politikus en publisis het hy 'n belangrike bydrae tot die politieke proses van Duitse hereniging in 1990 gespeel.
Joachim Gauck | |
Joachim Gauck in 2016 | |
11de President van Duitsland | |
Ampstermyn 18 Maart 2012 – 19 Maart 2017 | |
Eerste minister | Angela Merkel |
---|---|
Voorafgegaan deur | Christian Wulff |
Opgevolg deur | Frank-Walter Steinmeier |
Federale Kommissaris vir die Stasi-Argief | |
Ampstermyn 4 Oktober 1990 – 10 Oktober 2000 | |
Voorafgegaan deur | Nuwe amp |
Opgevolg deur | Marianne Birthler |
Lid van die Bundestag | |
Ampstermyn 3 Oktober 1990 – 4 Oktober 1990 | |
Lid van die Volkskammer | |
Ampstermyn 18 Maart 1990 – 3 Oktober 1990 | |
Persoonlike besonderhede | |
Gebore | 24 Januarie 1940 Rostock, Duitse Demokratiese Republiek (tans Duitsland) |
Politieke party | Onafhanklik (1990–hede) Neues Forum/Bündnis 90 (1989–1990) |
Eggenoot/-note | Gerhild Gauck (1959–1991) Daniela Schadt (sedert 2000) |
Kind(ers) | 4 |
Alma mater | Universiteit van Rostock[1] |
Religie | Lutheranisme[2] |
Handtekening |
Loopbaan
Tussen 1982 en 1990 was Gauck in Rostock by die koördinasie van kerklike kongresse betrokke. In die tyd van vreedsame omwenteling in die destydse Duitse Demokratiese Republiek (DDR) in 1989 en 1990 was hy een van die leidende persoonlikhede in Rostock se Neues Forum en ná die eerste en enigste vrye verkiesing afgevaardigde in die DDR-parlement (Volkskammer). Hier is hy as voorsitter van 'n spesiale parlementêre kommissie verkies wat toesig oor die ontbinding van die DDR-veiligheidsdiens Ministerium für Staatssicherheit (MfS) gehou het.[3]
Vanaf 3 Oktober 1990 was Gauck die hoof van 'n openbare instelling wat die geheime argiewe van die DDR-veiligheidsdiens bestuur en vir die algemene publiek toeganklik gemaak het. Hy het hierdie posisie twee ampstermyne lank beklee en is in Oktober 2000 deur Marianne Birthler opgevolg.
Gauck was sedertdien as publisis werksaam en het sy mening oor maatskaplike aangeleenthede onder meer in lesings en in openbare media uitgespreek, onder meer as voorsitter van die vereniging Gegen Vergessen – Für Demokratie. Hy was een van die inisieerders van die "Praag-verklaring oor die Europese gewete en kommunisme" en die "Verklaring oor die misdade van kommunisme". Gauck het verskeie kere toekennings vir sy prestasies en publikasies ontvang.
Sy kandidaatskap om Duitse bondspresident te word het in 2010 wye ondersteuning in die media en by die algemene publiek geniet. Ná drie stemmings het Gauck teen Christian Wulff, wat deur die konserwatief-liberale regeringskoalisie as kandidaat benoem is, verloor.
Ná Wulff se bedanking in Februarie 2012 het die drie regeringspartye CDU, CSU en FDP ná moeilike onderhandelinge met die opposisiepartye SPD en Bündnis 90/Grüne ooreengekom om Joachim Gauck amptelik as opvolger van Wulff te nomineer. Op 18 Maart 2012 is hy deur die Bundesversammlung as nuwe bondspresident van Duitsland en opvolger van Christian Wulff verkies en vyf dae later amptelik ingesweer. Hy is op 19 Maart 2017 deur Frank-Walter Steinmeier opgevolg.
Verwysings
- (de) Auf vielfältige Weise mit der Universität Rostock verbunden, Uni Rostock, 20 Februarie 2012, archived from the original on 28 Oktober 2014, https://web.archive.org/web/20141028235123/http://www.uni-rostock.de/detailseite/news-artikel/auf-vielfaeltige-weise-mit-der-universitaet-rostoc/, besoek op 9 Desember 2013
- (en) Gessat, Michael (19 Februarie 2012), Gauck's civic engagement wins him wide support, DW, http://www.dw.de/dw/article/0,,15751782,00.html, besoek op 9 Desember 2013
- (de) Die Auflösung des Ministeriums für Staatssicherheit Geargiveer 14 Maart 2012 op Wayback Machine, Deutsches Rundfunkarchiv
Eksterne skakels
- Wikimedia Commons het meer media in die kategorie Joachim Gauck.