J.G.H. van der Walt
Ds. Johannes Gerrit Hendrik van der Walt (waarskynlik Ladybrand, Oranje-Vrystaat, 9 November 1873 – Middelburg, Kaap, 6 Februarie 1956) was die eerste Vrystater wat sy teologiese studie aan die Teologiese Skool Burgersdorp voltooi het en daarna predikant in twee gemeentes van die Gereformeerde Kerk, albei in die huidige provinsie Oos-Kaap: Barkly-Oos van 1899 tot 1904 en daarna Middelburg tot hy sy emeritaat 1939 aanvaar het.
Johannes Gerrit Hendrik van der Walt | |
Ds. J.G.H. van der Walt | |
Naam | Johannes Gerrit Hendrik van der Walt |
---|---|
Geboorte | 9 November 1873 Ladybrand, Oranje-Vrystaat |
Sterfte | 6 Februarie 1956 (op 82) Middelburg, Kaap |
Kerkverband | Gereformeerde Kerk |
Gemeente(s) | Barkly-Oos, 1899–1904 Middelburg, 1904–1939 |
Jare aktief | 1899–1939 |
Kweekskool | Burgersdorp |
Herkoms
Ds. Van der Walt se vader was omstreeks 1870 ouderling van die Gereformeerde kerk Ladybrand. In 1891 het hy sy 18-jarige seun met kar en perde na Burgersdorp gebring vir sy opleiding. Einde 1897 het hy sy teologiese studie saam met ds. J.C. Krüger (oorlede in Junie 1905 in die amp as leraar van Ladybrand), dr. P.C. Snyman (oorlede in Mei 1915 in die amp as leraar van Steynsburg) en prof. J.A. du Plessis, oorlede in 1935; dus is al drie sy medeafgestudeerdes oorlede voor ds. Van der Walt sy emeritaat aanvaar het. Van sy ander medestudente was ds. Dirk Postma (later jare lank leraar van Burgersdorp en prof. Ferdinand Postma.
Lewensoorsig
Prop. Van der Walt het nie dadelik 'n beroep ontvang nie en hom toe onledig gehou deur joernalistieke werk in Bloemfontein te doen. Met die laaste Nagmaalsviering van 1898 is hy na Barkly-Oos uitgenooi. Sy vreugde was groot toe hy ná die voorbereidingsdiens met feitlik algemene stemme daarheen beroep word. Begin 1899 is hy dan tot herder en leraar daar bevestig. Die eerste jare van sy bediening was besonder veeleisend veral ook weens die Driejarige Oorlog wat veel ontwrigting veroorsaak het.
In Oktober 1904 het hy 'n beroep na Middelburg, Kaap opgevolg. Vir die res van sy bedieningstyd sou hy in Middelburg bly. Ds. Van der Walt het sy emeritaat op 16 April 1939 aanvaar ná ’n geseënde dienstyd van sowat 40 jaar, waarvan nagenoeg 35 jaar op Middelburg. Ná sy aftrede het hy en sy tweede vrou op Rus-’n-Bietjie, hul eie woning naby Bloemfontein, gaan woon. Hy het dit self as "’n uitspanplekkie langs die pad" beskryf. Die verblyf so ver van sy laaste werkkring was egter van korte duur, want hy het kort voor lank na Middelburg teruggekeer en sy laaste lewensjare daar deurgebring. Tot omstreeks 1952 was hy nog bereid om veral gedurende tye van vakantskap met prediking en siekebesoek te help.
As leraar van Middelburg in 'n tyd toe Gereformeerde kerke in die weste van die destydse Kaapprovinsie dun gesaai en predikante selfs minder was, het ds. Van der Walt se hele lewe in diens van die kerke in Kaapland gestaan. Vanuit Middelburg het sy voetstappe tot selfs in Angola gelei. As konsulent het hy opgetree by die stigting van die gemeentes in Kaapstad en Port Elizabeth. Ten tyde van sy dood was daar in dié streek reeds vier predikante en ses gemeentes. Met merkwaardige trou het hy ook die verspreidwonende ldimate op Cradock en elders besoek.
Die Gereformeerde kerk Worcester is in 1954 gestig en het in 1956 sy eerste predikant ontvang; daarom het ds. Van der Walt jare lank vanuit Middelburg in die beherende liggaam van die Skool vir Blindes op Worcester gedien. Jare lank het hy ook in die kuratorium van die Teologiese Skool Potchefstroom waardevolle werk verrig. Hy word beskryf as "'n ware kragsfiguur" op die Algemene Vergaderings en Partikuliere Sinodes. Jare lank was hy penningmeester van al die kasse in Kaapland asook voorsitter van die korresponderende kerkraad van die Westelike Klassis.
Bediening in Middelburg, Kaap
Oorsig
Die gemeente is diep aangegryp deur die dood van ds. Stephanus Postma op 8 Februarie 1904. In Mei besluit die kerkraad om weer te roep en so is ’n beroep op 27 Mei 1904 op ds. Dirk Postma van Rustenburg uitgebring. Nadat hy vir die beroep bedank het, is ds. J.G.H. van der Walt met 'n groot meerderheid van stemme op 16 Julie 1904 beroep; op 26 Augustus kon die kerkraad met dank kennis neem daarvan dat die beroep aanvaar word. Ds. Van der Walt is op 9 Oktober 1904 op Middelburg bevestig, die begin van ’n besonder lang bedieningstyd, wat strek tot aan sy emeritaatsaanvaarding op in April 1939. Hy het dus sowat 35 lank voltyds in die gemeente gewerk en eindelik sowat 50 jaar op die dorp gewoon.
Ds. Van der Walt moes leiding gee in die moeilike jare ná die Tweede Vryheidsoorlog; hy moes uit die Bybel koers aandui in die moeilike tye van die griepepidemie en depressie; hy moes aan die roer staan tydens die Eerste Wêreldoorlog (1914–1918) en die Rebellie van 1914.
Sendingwerk
Al het die gemeente nie daadwerklik 'n plaaslike sendingaksie geloods nie, het die kerkraad nie afsydig gestaan teenoor die sendingsaak nie. Die intieme meelewing met die sendingwerk is veral daardeur tot stand gebring dat die Algemene Vergadering in 1911 die sendingwerk aan die deur van die kerk alhier kom neerlê het. Op 24 Maart 1911 rapporteer oudl. D. van der Walt, wat as deputaat van Middelburg op die Algemene Vergadering teenwoordig was, soos volg: "De gemeente Burgersdorp, aan wie de zending te Humpata door de Sinode werd opgedragen, heeft 't niet mogelijk gevonden dat werk onder haar toezicht te nemen omdat de vrije school in die gemeente al haar aandacht eist. De A.V. heeft hierom deze gemeente verzocht 't zendingwerk in Humpata onder haar toezicht te nemen". Hieroor word besluit: “de toezicht over de zending te Humpata te aanvaarden. Tevens wordt besloten de zendingkommissie op te dragen namens de kerkeraad in zake de zending te korresponderen en van tyd tot tyd by de kerkeraad verslag te doen."
Op die kerkraadsvergadering van 12 Mei 1911 is meegedeel dat £14 van die jaarlikse salaris (£50) van br. Graphorn wat die werk in Humpata verrig het, deur die gemeentes van Kaapland voorsien moes word. Dis in die vooruitsig gestel dat die gemeentes van Kaapland kort voor lank verantwoordelikheid vir die volle £50 per jaar sou moes aanvaar. Telkens is uit Humpata berig ontvang en “goede vooruitgang” aan die kerkraad gerapporteer. Dit het waarskynlik nie tot baie groot resultate gelei nie, want dit lyk of die saak van die sendingwerk te Humpata mettertyd nie meer op die kerkraadsagenda verskyn het nie. In die notule van 15 Mei 1914 is die mededeling dat br. Graphorn om gesondheidsredes die werk nie meer kon doen nie; dan ook "daar er op 't ogenblik met die (inboorlinge) oorlog in Angola is en, volgens de nieuwsbladen de zendelingen gevlucht zijn" dat daar in daardie stadium nie iemand in die plek van br. Graphorn gestuur sou word nie. So het die sendingwerk in Angola doodgeloop.
Die Christelik-nasionale onderwys
Blykbaar was die groot tyd van die CNO in die tweede halfeeu van die bestaan van die plaaslike kerk (1910–1960) reeds agter die rug. Hoewel dit vermoedelik so was, het dié lewensbelangrike saak die kerkraad in die tweede halfeeu tog nie koud gelaat nie. Reeds op 11 Mei 1906, twee jaar ná ds. Van der Walt se koms, het die notule van die kerkraadsvergadering gemeld "dat de kerkraad reeds werkt in de richting van het oprichten van een Nationale School". Op 5 Oktober 1906 is besluit om 'n vereniging ter bevordering van CNO te stig. Hierdie vereniging sou in Januarie 1907 vergader (dis nie bekend of dit gebeur het nie). Dit is nie duidelik uit die kerkraadsnotule of die aktiwiteite van hierdie vereniging uitgeloop het op skoolstigting of nie. Vanaf Mei 1907 verskyn die saak van "Normaalklasse aan de School te Steynsburg" in die notule. Dit was 'n gedurige worsteling om die nodige geld bymekaar te kry. In November van dieselfde jaar is aan die kerkraad gerapporteer dat die kerk van Middelburg £30 per jaar vir die skool op Steynsburg moes stort. Die kerkraad besluit om dit te doen en "dat dit morgen namiddag aan de Gemeente zal worden medegedeeld". Verder word in die notule nie belangrike besluite in verband met CNO gevind nie, behalwe dat ds. Van der Walt op 19 Augustus 1911 die volgende aan die kerkraad gemeld het: "dat hij 10 broeders uit de gemeente (uit elke wijk een) heeft verzocht zich tot een kommissie te vormen om te werken voor 't Kristelik nationaal onderwijs, hoofdzakelik met de bedoeling om fondsen bijeen te verzamelen om tot de oprichting van een plaatselijke C.N.O. school te komen". Vermoedelik het die aksie wat in Mei 1906 van stapel gestuur is, doodgeloop. In later jare meld die notule nog net dat dit gaan om die steun aan die opleidingskool op Steynsburg – tot die skool helaas ook weens gebrek aan ondersteuning in 1950 gesluit moes word.
Halfeeufees
Reeds in 1907 het die kerkraad aandag begin gee aan die naderende halfeeufees, maar die notule maak dit nie altyd duidelik watter halfeeufees doel word nie, die Kerkverband s’n in 1909 of die Middelburgse kerk s’n in 1910. Die halfeeufees van die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika het ook toe al binne die gesigskring gekom – en dan ook plaasgevind voor die halfeeufees van die kerk van Middelburg s'n. Eers ná Februarie 1909 was dit duidelik dat dit beslis handel oor die halfeeufees van die plaaslike kerk. Voor daardie datum het dit vermoedelik oor die halfeeufees van die hele Kerk in Suid-Afrika gegaan.
Op 4 Oktober 1907 word geskryf: "Daar het 50 jarige bestaan onzer kerk over een jaar feestelijk herdacht zal worden …" Dit het waarskynlik te doen met die Kerk in Suid-Afrika, maar gereken vanaf Oktober 1907 was dit oor 'n jaar en vier maande. Toe is in besluit om met die oog daarop 'n vleuel aan die kerk aan te bou as "blijvende herinnering aan voormelde heugelijke gebeurtenis".
Toe hierdie besluit van aanbou geneem is, was die probleem om die geld vir hierdie doel byeen te kry. 'n Skatting deur die respektiewe wyksdiakens kom te staan op £1 550. Die geld kon egter nie gevind word nie sodat op 3 April 1908 alreeds besluit word "dat die lijsten vernietigd worden en in plaats daarvan besluit de gemeente een dankoffer bijeen te verzamelen bij de feestviering onzer Kerk in 1909 dat gestort zal worden bij de Bouwfonds".
Die Jongeliedevereniging het ook deel gekry aan die halfeeufees. Art. 21 van die notule van 22 Januarie 1909 sê "dat het de Jongelieden der gemeente geoorloofd is als 'n blijk van dankbaarheid bij 't 50-jarig bestaan van de Geref. Kerk in Zuid Afrika de Kerk met twee luchtpompen te voorzien". Die "luchtpompen" was waarskynlik ventilators wat op die dak van die Kerk aangebring is.
Hierna kom die gemeentelike halfeeufeesviering nou duidelik na vore. Op 14 Mei 1909 is besluite geneem oor die gekollekteerde vee vir die jubileumdankoffer. Seker omdat die insameling nie soveel gelewer het as waarop oorspronklik gereken is nie (£1 550), moes die kerkraad van die aanbouplan afsien. ('n Argitekstekening van die voorgestelde aanbouplan, opgestel in 1907, het minstens in 1960 nog bestaan.). In Februarie 1910 is besluit: " 't geld verkregen voor 't Dankoffer by 't 50-jarig bestaan der Kerk, zal besteed worden aan een klankbord en een klok voor de Kerk". Die klankbord moes nie meer as £20 kos nie. Op 13 Mei 1910 maak die notule melding van die besluit waarna vermoedelik in die boekie "De Vijftig-jarige Feestviering te Middelburg, K.P." verwys word waar geskryf staan: "Toen de Kerkeraad zes maanden geleden besloot, om het vijftig jarig bestaan van de Middelburgse gemeente, dat op 1 Des. 1910 zou plaatsvinden, feestelik te herdenken …" Op 13 Mei 1910 dan besluit die Kerkraad: "om 't vijftigjarig bestaan der gemeente in Dec. a.s. feestelijk te herdenken". Op 23 September word die feesprogram goedgekeur en "de leraar legt de wenselijkheid der vergadering voor om de jongelieden der Gemeente voor gaslichten in de Kerk te doen kollekteren ter aandenking van 't 50-jarig bestaan dezer gemeente". Dat hierdie ligte verkry is, ly geen twyfel nie – of dit wel vir die feesviering gereed was, is nie bekend nie — want in latere notule is daar telkens 'n rekening vir "carbide gepasseerd". (Baie later het die klein geboutjie in die noordoostelike hoek van die kerkterrein nog die naam van "gaskamertjie" gedra.)
Die halfeeufees is op die bestemde tyd gevier. Die feesverrigtirige, waarby agt Gereformeerde predikante en een teologiese professor (dr. J.D. du Toit) teenwoordig was, word mooi weergegee in gemelde uitgawe "De Vijftig-jarige Feestviering te Middelburg K.P.". Die oorspronklike plan om 'n vleuel aan die Kerk aan te bou is nie verwesenlik nie.
Geboue
Die huidige kerkgebou was teen 29 Mei 1861 (minder ses maande ná die stigting van die gemeente) al in aanbou, volgens die Eeufeesgedenkboek van die dorp Middelburg, K.P. Volgens dié boek is hierdie gebou die oudste Gereformeerde kerkgebou in Suid-Afrika wat nog in gebruik is. In die tweede halfeeu van sy bestaan is al telkemale besluite geneem betreffende dié gebou, maar meeste kon nie uitgevoer word nie. Die beplanning van aanbou met die oog op die halfeeufees is byvoorbeeld nie deurgevoer is nie. Ook ná die halfeeufees was weer in 1912 en in 1920 besluite in hierdie verband. Reeds in Januarie 1912 kom die saak van die aanbou van 'n vleuel en 'n toring weer ter tafel. Aangesien hiervoor toe ongeveer £1 200 nodig was en aangesien dit op die Februarie-vergadering geblyk het dat maar vir £500 geteken is deur die lidmate, het die kerkraad besluit om die plan nie nou uit te voer nie. Daar is toe net op vernuwing van die bestaande gebou besluit, en hiervoor is toe gekollekteer.
Wat toe alles aan die gebou gedoen is, word nie beskryf nie. Vermoedelik is die gewelpatroon van die gebou verander deur die minarette op die hoeke aan te bring en die boonste versiering in die middel van elke gewel. Volgens die foto voor in die 1910-gedenkboek was hierdie versierings toe nog nie daar nie. Weer in 1920 (13 Februarie en 21 Mei) is besluit om geld in te samel vir die aanbou van 'n vleuel. En nog 'n keer is hierdie plan nie uitgevoer nie. Gedurende die maande tussen Mei 1945 en November 1947 is gewerk aan 'n grondige reparasie van die kerkgebou. Toe is nuwe banke en 'n nuwe preekstoel ingesit.
Die saal en ander geboue
In 1936 het 'n erflating van sr. Hetta Kruger dit vir die kerkraad moontlik gemaak om te besluit om aan die boukommissie op te dra om tenders vir die bou van 'n saal te vra. Op 15 Augustus 1936 is 'n tender aanvaar en 'n saal opgerig aan die suidekant van die kerkgebou. In November 1936 is aan die kerkraad meegedeel dat sommige lidmate beswaar het daarteen dat die saal die naam "Hetta Krugersaal" dra (helaas word in die notule nie beskryf wat die besware is nie). Die kerkraad het egter besluit om die naam so te behou. Sonder motivering van 'n nuwe besluit (in elk geval word die redes nie in die notule gevind nie) is tog op 12 Februarie 1937 besluit om die naam voor die saal te verwyder. Betekenisvol staan by hierdie jongste besluit genotuleer: "Tien stemme word hierteen uitgebring." Op dieselfde perseel waar in 1936 die saal gebou is, word in die laat 1950's 'n moderne kantoorgebou opgerig. Vir dié doel is die saal gesloop.
Die pastorie
Toe ds. Van der Walt in 1904 hierheen gekom het, kon hy die nuwe pastorie wat net voor die heengaan van ds. S. Postma voltooi is, betrek. Hierdie gebou is gebruik tot die kerkraad in die loop van 1951 besluit het om dit te sloop en op dieselfde terrein 'n nuwe pastorie op te rig. In September 1954 rapporteer die Eiendomskommissie dat die nuwe pastorie so te sê gereed is. Ook die watervoorsiening by die pastorie het sy eie geskiedenis. Vroeër jare was daar 'n put op die erf. Op 3 Julie 1914 is aan die boukommissie opgedra om ondersoek in te stel na die watervoorsiening (met mag om te handel). Hiermee saam is ook "algemeen besloten Telefoonverbinding voor de pastorie aan te vragen" – water en telefoon is dus sommer saam behandel.
Bediening aan verspreidwonende lidmate
Reeds kort ná die aankoms van ds. Van der Walt het die bediening van verafwonende lidmate die aandag van die kerkraad geniet. Op die eerste kerkraadsvergadering ná sy bevestiging deel ds. Van der Walt mee (18 November 1904) dat hy nog nie op Cradock diens gehou het nie, maar hy stel dit in die vooruitsig om dit binnekort te doen. Met die jare is telkens weer rapport gedoen oor die bediening van die verspreidwonendes. Soms lyk dit asof die wyk Cradock wil verdwyn (23 Februarie 1906): "De leraar rapporteert dat er thans nog slechts 5 lidmaten onzer Kerk te Cradock zijn en dat daarom een driemaandelijkse bediening daar niet meer mogelijk is." Tog het alles daar nooit tot niet gegaan nie. Altyd was daar – soms heelwat, ander kere weer baie min – lidmate op Cradock. In Februarie 1906 het dit gelyk asof daar nie veel toekomsverwagting meer kon wees nie; in Oktober 1907 is meegedeel dat daar 10 lidmate is sodat 'n ouderling daar verkies word; vroeg in 1908 "doet de leraar verslag dat die wyk (Cradock) in zeer gunstige toestand verkeert". So het dit met die loop van die jare op- en afgegaan.
In die notule van 19 November 1920 is gewag gemaak van die bydrae van die gemeente vir 'n reisende predikant. Hierdie lank gekoesterde ideaal is eers in 1958, ná ds. Van der Walt se dood, verwesenlik toe van die Westelike Klassis Kaapland die opdrag kom na die kerkrade Middelburg-Steynsburg-Hofmeyr "om 'n predikant te beroep om die lidmate wat woon tussen die spoorwegvurk na Port Elizabeth en Mosselbaai te bedien".
Voor die klassis die saak vir sy rekening geneem het, en veral gedurende die grootste gedeelte van die bedieningstyd van ds. J.G.H. van der Walt, was die hele suidelike helfte van die Kaapprovinsie vir bediening op Middelburg aangewys. So was ds. Van der Walt dikwels op reis na Cradock, Graaff-Reinet, Grahamstad, Port Elizabeth, De Aar, Ceres, Worcester en Clanwilliam. Soms is net melding gemaak van die bediening van die Boland. Hy het dié taak met onderskeiding uitgevoer.
Afgesien van die bediening van die verspreidwonende lidmate binne die bereik van ds. Van der Walt bied die notule nog 'n bykans skouspelagtige beeld van die bewegings van ds. J.G.H. van der Walt. Gedurende die jare 1906–1908 was hy onder meer op Burgersdorp, Venterstad, Bethulie, Vryburg, Humpata, Dordrecht, Steynsburg, weer Vryburg, Nylstroom, Jamestown, Humpata, Dordrecht, Steynsburg, weer Vryburg, Nylstroom en effens later tree hy ook op in Pretoria, Vryburg, Strydenburg, Ceres, “Crokedelrivier" (naby Brits) en Johannesburg. Hoewel ds. Van der Walt vir die grootste gedeelte van sy bedieningstyd predikant van Middelburg was, lê sy spore tot ver buite die grense van sy eie gemeente, provinsie en selfs vaderland.
Die Dankfonds
Die Dankofferfonds se ontstaan word baie kort in die notule weergegee. Art. 19b, 15 Februarie 1935 lui net: “Dat een Dankoffer in Meimaand van die Gemeente gevra sal word in geld en vee." Hoewel dit nie in die notule gemeld word nie, is die vermoede dat die fonds gestig is om 'n eventuele geldnood, soos juis in die moeilike jare van depressie en droogte rondom 1933 beleef is, die hoof te bied. Eers op 23 Oktober 1942 is weer melding van die fonds. Toe is besluit om met Nagmaalsgeleenthede 'n spesiale dankoffer te vra en dit in 'n reserwefonds te belê. Tot hierdie fonds, wat die naam “Reserwefonds" gekry het, het die gemeente mildelik bygedra. Die vier deurkollektes wat daarvoor gedurende 1944 alleen gehou is, het byna £100 opgelewer. Op 25 Maart 1945 het die kassier aan die hand gegee dat die naam van die fonds voortaan sal wees die Dankofferfonds. Die enigste ander besluit oor die fonds was blykbaar op 21 Februarie 1947, toe gereël is dat die “Naoorlogse fonds" en die Dankofferfonds saamgevoeg word. Verder was daar jaarliks melding in die finansiële verslae.
Die Afrikaanse Bybel
Die jaar 1933 was die jaar van die Afrikaanse Bybel. Op 7 Julie 1933 neem die kerkraad die volgende gevoelvolle besluit: “Die Kerkraad van die Geref. gemeente Middelburg verklaar hiermee dat hy lewendig besef die groot betekenis van die aanstaande invoering van die Bybel in ons eie taal in ons erediens waartoe hiermee die leraar gemagtig word ooreenkomstig die besluit van ons Sinode te Pretoria Maart 1933. Waar die Regeerder van hemel en aarde ons in hierdie donkere tyd aardse skatte ontneem (dit was die tyd van groot droogte en depressie), skenk Hy ons die vergoeding om deur sy Woord sy stem te hoor in ons moedertaal soos 'n ligstraal in die donker nag.
“Verder word geboekstaaf ons dank en aanbidding aan God vir die onwaardeerbare gawe van die Nederlandse Statevertaling waaruit vir 300 jaar ons voorgeslagte, ons en onse kinders die brood en water van die lewe ontvang het tot nou toe en waarvan ons hierby met leed afskeid neem.” Op 12 Augustus is 'n broeder deur die voorsitter bedank vir die Afrikaanse Bybel wat hy vir die kansel gegee het. Die kerkraad het op 27 Augustus 1933 ook gedenk aan die fees by geleentheid van die amptelike ingebruikneming van die Afrikaanse Bybel.
Gesinslewe
Hy is in 1898 getroud met mej. L. Venter van Venterstad. Hulle het saam sewe kinders grootgemaak. Ná haar dood in 1936 is ds. Van der Walt getroud met mev. A.A.J. van der Walt van Middelburg, Kaap, die oudste suster van ds. N.H. van der Walt.
Galery
- Professore en studente van die Teologiese Skool op Burgersdorp. Voor: J. du Plooy, Ferdinand Postma, J. Kruger, Willem de Klerk, W. Rörich, P. Lion Cachet, J. Coetzee, ene Venter. Middel: Jacobus du Plessis, Flippie Snyman, prof. Stephanus Postma, prof. Jan Lion Cachet, Willem Postma, J.C. Krüger, J.G.H. van der Walt. Agter: Dirk Postma, ene Heystek, D. van der Walt, G.H.J. Kruger, W. Henning, A. Henning, J. de Klerk, onbekend, H. de Klerk, C.W. van der Walt, D. Maré (waarskynlik eintlik Japie Maré) en J. Diepraam.
- Professore en studente van die Teologiese Skool op Burgersdorp in 1897. Voor: Ferdinand Postma, P. Coetzee, J. Venter, Wardaugh, P. Lion Cachet, Willem de Klerk, W. Henning, J.P. van der Walt, J. Pretorius. Middel: G.H.J. Kruger, J.D. du Toit, P.C. Snyman, J.A. du Plessis, prof. J. Lion Cachet, prof. S. Postma, J.C. Krüger, J.G.H. van der Walt. Agter: C. Pretorius, J. Maré, ene Faul, H. de Klerk, L.J. du Plessis (begin 1969, met die skool se eeufees, die oudste [89 jaar] nog lewende oudstudent van die Teologiese Skool en woonagtig te Reddersburg, seun van ds. L.J. du Plessis), J. du Plessis, F. Henning, J. du Plooy, C. van der Walt, N.H. van der Walt, D. Postma.
- Die Algemene Sinode in sitting te Middelburg, Kaap, 1904, waartydens besluit is om die Teologiese Skool Burgersdorp na Potchefstroom te verplaas. Voor: (vyfde van links) G.H.J. Kruger. Eerste ry op stoele: (vyfde van links) ds. A.J.J. de Klerk Coetsee, oudl. G. Henning, J.G.H. van der Walt, L.J. du Plessis, prof. Jan Lion Cachet, Petrus Postma, J.D. du Toit, P.C. Snyman, Taetse Hamersma. Eerste ry staande: (sesde van links) Willem Postma, Martinus Postma, J.A. van Rooy, onbekend, prof. Jan Kamp, W.J. de Klerk, J.C. Krüger, J.A. du Plessis, W.J. Snyman, Dirk Postma.
- 1924:Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika op Rustenburg, 4 April, onder die seringboom waaronder die Kerk in 1859 gestig is en met prof. H.H. Kuyper as deputaat van die Geref. Kerke in Nederland. Eerste ry: A.S.E. Yssel, C.W.M. du Toit, J.V. Coetzee, J.G.H. van der Walt, J.H. Boneschans, J.C. van der Walt. Tweede ry: D.P. du Plessis, D. Rumpff, T. Hamersma, D. Postma, M. Postma, prof. H.H. Kuyper, L.P Vorster, proff. J.D. du Toit, J.A. du Plessis, I.D. Kruger. Derde ry: D.N. Kotzé, N.H. van der Walt, A. Duvenage, J.A. van Rooy, C.J.H. de Wet, B.J. de Klerk, W.J. de Klerk, G.H.J. Kruger, D.G. Venter, H.P.J. Pasch. Vierde ry: F.P.J. Snyman, H.J. Venter, P.J.S. de Klerk, H.S. van Jaarsveld, H.J.R. du Plessis, J.H. Kruger.
- Die Algemene Vergadering van die Kaapprovinsie in sitting te Aliwal-Noord, 1926. In die middelste ry sit van links: P.J du Plessis, ds. J.H. Boneschans, dr. E.L.J. Venter, ds. D. Postma, ds. T. Hamersma, ds. J.G.H. Van der Walt, ds. D.G. Venter, ds. H.S. van Jaarsveld, W. Buys en J.A. Venter.
- Afgevaardigdes na die Gereformeerde Kerk se Algemene Sinode te Reddersburg, 1910. Voor: J.A. van Rooy, Martinus Postma, Petrus Postma, W.J. Snyman, Jan Lion Cachet, Louw du Plessis, Louis Vorster, Pieter Biewenga. Middel: J.G.H. van der Walt, Jacobus du Plessis, Willem de Klerk, G.H.J. Kruger, Dirk Postma, H.J.R. du Plessis, Willem Postma, Hendrikus Pasch. Agter: J.P. van der Walt, N.H. van der Walt, T.N. Venter, P.C. Snyman, J.H. Kruger, J.D. du Toit, Sietse Los, T. Hamersma, Derk Rumpff.
- Die Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerk in sitting op Rustenburg, 1904. Eerste ry: Di. W.J. de Klerk, Flippie Snyman, J.G.H. van der Walt, Totius, G.H.J. Kruger. Tweede ry: Di. Martinus Postma, Petrus Postma, prof. Jan Lion Cachet, di. L.J. du Plessis, W.J. Snyman. Derde ry: Di. T. Hamersma, Willem Postma, Louis Vorster, Dirk Postma, J.A. van Rooy en prof. Jacobus du Plessis.
- Die Algemene Vergadering van die Gereformeerde Kerk in die Kaapprovinsie, gehou in 1911 te Barkly-Oos: Eerste ry: Izak van Heerden, onbekend (of andersom), ds. J.G.H. van der Walt, ds. G.H.J. Kruger, ds. Dirk du Plessis, onbekend. Tweede ry: Ds. T. Hamersma, ds. P.W. Bingle, ds. W.J. de Klerk, ds. J.H. Kruger, ds. W.J. Snyman, onbekend, ds. P.C. Snyman. Derde ry: Nick van der Walt, ds. Dirk Postma, onder andere (nie in regte volgorde) I.J. Aucamp, D. Lessing, M. Neser. Vierde ry: G.C. Coetsee (onbekend watter plek).
- Die Algemene Vergadering van die Kaapprovinsie te Venterstad, omstreeks 1913. Die agterste twee rye is blykbaar die Gereformeerde kerk Venterstad se kerkraad. Voor sit van links: Di. Taetse Hamersma, G.H.J. Kruger, I.D. Krüger, P.W. Bingle, Dirk Postma, J.G.H. van der Walt, P.C. Snyman en Derk Rumpff.
- Die Algemene Sinode van die Gereformeerde Kerk in sitting te Steynsburg, 1913: Eerste ry: Onbekend, J.H. Kruger, F.P.J. Snyman. Tweede ry: T.N. Venter, onbekend, J.G.H. van der Walt, G.H.J. Kruger, Totius, H.J.R. du Plessis, onbekend, onbekend, Jacobus du Plessis, onbekend, Izak Krüger, onbekend, onbekend, H.C. van Rooy, J.A. van Rooy. Derde ry: Onbekend, Hendrikus Pasch, N.H. van der Walt, Pieter Bingle, Taetse Hamersma, J.P. van der Walt, Petrus Postma, Louis Vorster, onbekend, W.J. de Klerk, W.L. Steenkamp, onbekend (of dié twee andersom), W.J. Snyman, drie onbekend. Vierde ry: Dirk Postma (agtste van links), prof. Sietse Los (11de van links, skuins agter man voor hom), Derk Rumpff (derde van regs), D.P. du Plessis (regs).
- Algemene Vergadering gehou te Aliwal-Noord, 1917, geneem in ’n tuin op die dorp. Voor: Onbekend, prop. C.W.M. du Toit, oudl. J.L. Hatting, onbekend (of andersom), ds. J.H. Kruger, ds. P.W. Bingle, ds. F.P.J. Snyman. Tweede ry: N.F. Alberts, J.H. Kruger en twee onbekende kerkraadslede (volgorde van dié vir onbekend), ds. J.G.H. van der Walt, ds. G.H.J. Kruger (res onbekend). Derde en vierde ry (saam gereken): (vierde van links) ds. Derk Rumpff, (sewende van links) ds. Dirk Postma en sy vader, Martinus Postma, (heel regs) Taetse Hamersma.
- 1927: Die Algemene Sinode van die GKSA op Reddersburg. Eerste ry: D. Rumpff, N.H. van der Walt, J.G.H. van der Walt, prof. J.A. du Plessis, prof. C.J.H. de Wet, T. Hamersma, L.P Vorster, J.A. van Rooy, H.P.J. Pasch. Tweede ry: H.S. van Jaarsveld, H. Venter, F.P.J. Snyman, J.C. van der Walt, D.G Venter, C.W.M. du Toit, I.D Krüger, H.J.R. du Plessis. Derde ry: J.V. Coetzee, G.H.J. Kruger, E.L.J. Venter, D. Postma, D.P. du Plessis, A.S.E Yssel, D.N. Kotzé. Vierde ry: J.H. Boneschans, T.T. Spoelstra, W.J. Postma, W.J. Snyman, A. Duvenage, P.J.S. de Klerk, B.J. de Klerk.
- Die Nasionale Sinode van die GKSA van 1939 voor die Vrouemonument in Bloemfontein. Eerste ry: H.S. van Jaarsveld, F.N. Lion Cachet, W.J. Postma, B. de Klerk, H.J. Venter, J. van Rooy, P.W. van der Walt, P.G.W. Snyman. Tweede ry: N.H. van der Walt, J.G.H. van der Walt, D. Postma, dr. J.D. Du Toit, J.A. van Rooy, dr. C.J.H de Wet, dr. S.O. Los, dr. J.P. Jooste, J.V. Coetzee, I.D Kruger, J.C. van der Walt. Derde ry: J.P. van der Berg, G.H.J. Kruger, A.L Aucamp, M. Postma, J.M. de Wet, I.J. Lessing. Vierde ry: Jacs. van Rooy, J.L. de Bruin, J.A. Schutte, A. Postma, E.L.J. Venter, D.G. Venter, J.L. Vorster, T.T. Spoelstra, Derk Rumpff, H. du Plessis. Vyfde ry: dr. B.J. de Klerk, P.J. de Klerk, J.J. Venter, J.H. Boneschans, L.S. van der Walt, S. du Toit, J.F. du Plooy, A.S.E. Yssel. Sesde ry: H.F.V. Kruger, P.J.S. de Klerk, D.N. Kotze, W.J. Snyman, W.F. Venter, S.P. van der Walt, J.W.J. van Ryssen, N.J. Snyman, B.R. Krügerr, D.J. van der Walt.
Bronne
- (af) Van der Vyver, M.D.: "Geskiedenis van die Gereformeerde Kerk Middelburg, K.P. 1860 tot 1904". In: Die Gereformeerde Kerk Middelburg Kaapland Gestig Desember 1860. Gedenkboek by geleentheid van die eeufees 2de, 3de en 4de Desember 1960. Middelburg, K.P.: Eerwaarde Kerkraad van die Gereformeerde Kerk.
- (af) Van der Walt, ds. N.H. (hoofred.) 1949. Almanak van Die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika vir die jaar 1940. Potchefstroom: Admin. Buro.