Ivoriaanse nasionale rugbyspan

Die Ivoriaanse nasionale rugbyspan (Frans: Équipe de Côte d'Ivoire de rugby à XV) is die nasionale rugbyspan wat Ivoorkus in internasionale wedstryde (toetswedstryde) verteenwoordig. Hulle dra die bynaam Les Éléphants (“die olifante”), genoem na die Afrika-olifant, Ivoorkus se wapendier. Rugby word in Ivoorkus geadministreer deur die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Fédération ivoirienne de rugby, FIR) wat in 1961 gestig is. Ivoorkus word deur Wêreldrugby as ’n vlak drie-span erken. Die Ivoriaanse rugbyspan is tans (April 2024) 46ste op Wêreldrugby se wêreldranglys gelys.[4] Die span word as een van die sterker Afrikaspanne na die Suid-Afrikaanse Springbokke en die Namibiese Welwitschias beskou.

Ivoorkus
Unie Ivoriaanse Rugbyfederasie (FIR)
Bynaam(e) Les éléphants (“Die olifante”)
Embleem die Olifant
Stadion Stade Félix Houphouët-Boigny, Abidjan
Kapasiteit 50 000
Afrigter(s) Andre Adopo
Kaptein(s) Charles Zamble
Spankleure


Alt. kleure

Statistiek
Meeste toetse 5 spelers (8 elk)[1]
Meeste punte Athanase Dali (31)[2]
Meeste drieë Abubacar Camara (3)[3]
Eerste internasionale wedstryd
Vlag van Zimbabwe Zimbabwe 22–9 Ivoorkus Vlag van Ivoorkus
(Harare, Zimbabwe; 5 Mei 1990)
Grootste oorwinning
Vlag van Ivoorkus Ivoorkus 83–3 Mauritius Vlag van Mauritius
(26 Junie 2013)
Grootste nederlaag
Vlag van Ivoorkus Ivoorkus 0–89 Skotland Vlag van Skotland
(Rustenburg, Suid-Afrika; 26 Mei 1995)
Wêreldbeker
Verskynings 1/10 (Eerste in 1995)
Beste uitslag Laaste in groep 1995

Ivoorkus het in 1990 sy eerste toetswedstryd teen Zimbabwe gespeel. Die span kon vir een rugbywêreldbekertoernooi kwalifiseer, maar hulle het tydens die 1995-toernooi al hul groepwedstryde verloor. Sedert 2001 neem Ivoorkus aan die jaarlikse Afrikabeker deel.

Beheerliggaam

Die beheerliggaam vir rugby in Ivoorkus is die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Frans: Fédération ivoirienne de rugby, FIR). Die Ivoriaanse Rugbyfederasie is in 1961 gestig en het in 1988 ’n volle lid van die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) geword.[5] Daarbenewens was die Ivoriaanse Rugbyfederasie ’n stigtingslid van die kontinentale beheerliggaam Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération Africaine de Rugby; nou Rugby Afrika) wat in 1986 in Tunis deur agt beheerliggame gestig is.[6]

Naas die amptelike nasionale span roep die Ivoriaanse Rugbyfederasie ook ander keurspanne byeen. Nes ander rugbylande beskik Ivoorkus oor ’n o/20-nasionale span wat aan die Wêreldrugby o/20-kampioenskap deelneem.[7] Kinders en jongmense word reeds op skool aan rugby bekend gestel en na gelang van hul belangstelling en talent begin hul met hul afrigting.

Geskiedenis

Invoering en vestiging van rugby

Rugby is tydens die Franse koloniale tydperk na Ivoorkus saamgeneem. Die eerste bekende wedstryd in Ivoorkus is net ná die einde van die Tweede Wêreldoorlog gespeel en in 1946 deur Mme Andre Benois tussen setlaars gereël. Vir die wedstryd is ’n geïmproviseerde bal, gemaak uit die buis van ’n motorband, gebruik.[8] Die sport is deur Franse skoolmeesters, wat in die land gewerk het, verder ontwikkel.[9] As ’n voormalige Franse kolonie is die ontwikkeling van die spel veral deur Frankryk beïnvloed en talle spelers soos Max Brito het daar gespeel. Hoewel die Ivooriaanse rugby se oorspronge dateer uit die 1960’s en vroeër, het dié sport eers in die 1980’s ’n aansienlike ontwikkeling ondergaan, nadat die Franse amptenaar Jean-François Turon die sport by die Universiteit van Abidjan gevestig het. Onafhanklik daarvan word François Dali as “vader van Ivooriaanse rugby” beskou en sy seun Athanase Dali was in die 1990’s kaptein van die nasionale span.[10]

Die Ivoriaanse Rugbyfederasie (Fédération Ivoirienne de Rugby, FIR) is in 1961 gestig. In Januarie 1986 was Ivoorkus in Tunis een van die stigtingslede van die Konfederasie van Afrikarugby (Engels: Confederation of African Rugby; Frans: Confédération Africaine de Rugby; nou Rugby Afrika). Die ander stigtingslede was die beheerliggame van Kenia, Madagaskar, Marokko, Senegal, Seychelle, Tanzanië en Tunisië.[11] In dieselfde jaar het Ivoriaanse verteenwoordigers aan die Internasionale Rugbyvoetbalraad (IRVR; nou Wêreldrugby) se eeufees deelgeneem.[12] In 1985 het die IRVR, wat destyds baie eksklusief was en slegs agt lede gehad het, op die invoering van die rugbywêreldbekertoernooi besluit. Vir die eerste Rugbywêreldbeker 1987 het die IRVR nege spanne vir deelname genooi, maar Ivoorkus het geen uitnodiging ontvang nie.[13] In 1988 het die Ivoriaanse Rugbyfederasie by die Internasionale Rugbyvoetbalraad aangesluit. Tydens die Rugbywêreldbeker 1991-kwalifisering het Ivoorkus sy eerste toetswedstryd gespeel teen Zimbabwe, maar met 9–22 verloor.[10] Nadat hulle ook in die ander twee wedstryde deur Tunisië en Marokko geklop is, het hulle die toernooi misgeloop.[14]

Op pad na die eerste rugbywêreldbekerdeelname

Tydens die Rugbywêreldbeker 1995-kwalifisering het Ivoorkus vir die eerste keer die hooftoernooi gehaal.[15] Daarmee het hulle die eerste Franstalige Afrikaland een ook die eerste buite die Suid-Afrikaanse invloedsfeer geword wat vir dié toernooi kon kwalifiseer. Aangesien die span in teenstelling met dié van Suider-Afrika geheel en al uit “swart” spelers bestaan het, is dit as ’n positiewe teken vir rugby in Afrika geag.[10] Die hoofafrigter Claude Ezoua het aangevoer, dat hulle aan die wêreld wou wys dat rugby in Afrika uit meer bestaan as Suid-Afrika.[9] Hulle is in die groepfase in Suid-Afrika egter ná drie nederlae teen Skotland (met 0–89), Frankryk (met 18–54) en Tonga (met 11–29) uitgeskakel.[16] Die 0–89-nederlaag teen Skotland is die ergste in die Ivoriaanse beheerliggaam se geskiedenis. ’n Tragiese ongeluk van die Ivoriaanse speler Max Brito het die laaste wedstryd teen Tonga oorskadu: In die derde speelminuut het hy ná ’n duikslag op die grond geval, ’n aantal spelers het op hom beland en hy het bewusteloos bly lê. Hy is dadelik na ’n hospitaal geneem waar sy lewe gered is, maar hy het van die nek af verlam gebly en was sedertdien aan ’n rolstoel gekluister.[17]

Misgelope toernooie

Die Ivoriaanse nasionale rugbyspan op Stade Felix Houphouet-Boigny voor hul Rugbywêreldbeker 2011-kwalifisering teen Zambië op 21 Julie 2008. Ivoorkus het met 32–9 gewen.

Ná die Rugbywêreldbeker 1995 het Ivoorkus hulself vir drie jaar aan alle internasionale toernooie onttrek en eers weer in September 1998 vir die Rugbywêreldbeker 1999-kwalifisering teruggekeer. Ivoorkus se prestasie was swak, toe hulle al hul drie wedstryde teen Namibië (met 10–22), Zimbabwe (met 0–32) en Marokko (met 3–6) tydens ’n toernooi in Casablanca, Marokko, verloor het.[18]

In 2000 is die eerste Afrikabeker beslis, maar Ivoorkus het nie aan dié toernooi deelgeneem nie.[19] Een jaar later het die Olifante aan die Afrikabeker 2001 deelgeneem, maar albei wedstryde teen Marokko verloor: met 11–18 tuis en met 18–20 weg; en teen Tunisië in ’n 11–11 gelykop weg gespeel en ’n 46–0-oorwinning tuis aangeteken.[20] Tydens die Afrikabeker 2002 wat ook as Rugbywêreldbeker 2003-kwalifisering gedien het, is Ivoorkus ná twee nederlae teen Tunisië (met 8–13) en Marokko (met 21–23) uitgeskakel.[21]

Tydens die Afrikabeker 2003 het hulle ’n naelskraapse nederlaag teen Marokko gely, terwyl die span die wedstryd teen Tunisië weens dié opponent se onttrekking gewen het.[22] Een jaar later het hulle ná oorwinnings oor Tunisië en Kameroen, asook ’n nederlaag teen Marokko tweede in hul groep geëindig.[23] Tydens die Afrikabeker 2005 is die wedstryd teen Namibië weens die onttrekking van Ivoorkus as ’n nederlaag geag, terwyl hulle deur Madagaskar verneder is.[24] In 2005 het hulle die Rugbywêreldbeker 2007-kwalifisering met twee oorwinnings oor Senegal (met 20–6) en Zimbabwe (met 33–3) belowend afgeskop. Die Afrikabeker 2006 was ook deel van die kwalifisering, maar hulle het gemengde resultate opgelewer teen Marokko – ’n 9–9-gelykop tuis en ’n 7–23-nederlaag weg – en Uganda – met ’n 7–32-nederlaag weg en ’n 18–7-oorwinning tuis – waarmee hulle uitgeskakel is.[25]

Die Afrikabeker 2007 het Ivoorkus ná naelskraapse oorwinnings oor Senegal en Tunisië en ’n naelskraapse nederlaag in die halfeinstryd teen Madagaskar met nog ’n naelskraapse nederlaag in die uitspeelwedstryd teen Kenia in die vierde plek afgesluit, hul beste prestasie in dié toernooi ooit.[26] Die Afrikabeker 2008/09 het as die Rugbywêreldbeker 2011-Afrikakwalifisering gedien en die span het ná oorwinnings oor Zambië en Marokko die halfeindstryd gehaal. Hulle het toe teen Namibië te staan gekom en in ’n 13–13-gelykop in Abidjan gespeel, maar met 14–54 in Windhoek verloor, en daarmee die toernooi weereens misgeloop.[27]

Tydens die Afrikabeker 2010 het hulle in die halfeindstryd ’n nederlaag teen Marokko en in die uitspeelwedstryd ’n nederlaag teen Senegal gely.[28] In die daaropvolgende jaar het Ivoorkus weens finansiële beperkings hulself onttrek.[29] In 2012, gelyktydig die eerste rondte van die Rugbywêreldbeker 2015-Afrikakwalifisering, is Ivoorkus in die groepfase uitgeskakel, nadat hulle as naaswenner in ’n vyf-span-groep geëindig het. Elke span het slegs twee wedstryde elk gespeel, dus het Ivoorkus ondanks twee oorwinnings agter Botswana geëindig, wat ook albei sy wedstryde kon wen en die volgende rondte gehaal het.[30]

Die daaropvolgende toernooi het Ivoorkus sy groep gewen ná maklike oorwinnings oor Zambië en Mauritius, asook ’n naelskraapse oorwinning oor Marokko.[31] In 2014 kon die span in die halfeindstryd Uganda klop en het die afdelingeindstryd gehaal, waar hulle egter deur Tunisië verslaan is.[32] Een jaar later het hulle nederlae gely teen Uganda en Madagaskar, voordat hulle ’n naelskraapse oorwinning oor Senegal kon behaal.[33]

In 2016 het die span sy afdeling tweede afgesluit agter Tunisië en daarmee in die Rugbywêreldbeker 2019-kwalifisering die daaropvolgende rondte gehaal, wat op 8 Julie 2017 in die Afrikasilwerbeker teen Marokko in Casablanca beslis is.[34] Hulle het egter met 3–8 vasgeval en kon sodoende nie tot die Goue beker vir die laaste rondte van die kwalifisering vorder nie.[35]

Nadat die toernooi twee keer vanweë die wêreldwye Covid-19-pandemie gekanselleer is, het die Ivoriane wel deelgeneem aan die Afrikabeker 2021/22, wat by uitsteek oor twee jaar gestrek het. Die eerste rondte, wat in 2021 in Grand-Bassam beslis is, het met ’n naelskraapse oorwinning oor Namibië en ’n naelskraapse nederlaag teen Madagaskar afgeskop, waarmee die Ivoriane die uitklopfase gehaal het. Om epidemiologiese redes is dit in Julie 2022 in die Franse stede Marseille en Aix-en-Provence beslis. Hulle het egter in die kwarteindstryd teen Zimbabwe vasgeval.[36]

Kleure, embleem en bynaam

Ivoorkus speel tradisioneel in ’n oranje trui met wit broeke en groen sokkies. Hul alternatiewe trui is wit met oranje broeke en oranje sokkies.

Die Ivoriaanse Rugbyfederasie se kenteken toon ’n rugbyspeler met doelpale op die agtergrond en ’n Afrika-olifant, Ivoorkus se wapendier. Die nasionale span se bynaam is Les éléphants (“die olifante”).

Tuisstadion

Die veeldoelige Stade Félix Houphouët-Boigny in Abidjan, tuiste van die Ivoriaanse rugbyspan

Ivoorkus se tuisstadion is die Stade Félix Houphouët-Boigny in die hawestad Abidjan met ’n kapasiteit van sowat 50 000.

Toetswedstryde

Ivoorkus het 29 van sy 63 toetswedstryde gewen, ’n wenrekord van 46,03%. Ivoorkus se statistieke in toetswedstryde teen alle lande, in alfabetiese volgorde, is soos volg (korrek in Desember 2022):[37]

Opponent Gespeel Gewen Verloor Gelykop  % Gewen
Vlag van Algerië Algerië20200,00
Vlag van Botswana Botswana1100100,00
Vlag van Frankryk Frankryk10100,00
Vlag van Ghana Ghana1100100,00
Vlag van Kameroen Kameroen1100100,00
Vlag van Kenia Kenia10100,00
Vlag van Madagaskar Madagaskar20200,00
Vlag van Marokko Marokko13210119,23
Vlag van Namibië Namibië522140,00
Vlag van Nigerië Nigerië1100100,00
Vlag van Rwanda Rwanda1100100,00
Vlag van Senegal Senegal651080,00
Vlag van Skotland Skotland10100,00
Vlag van Switserland Switserland10100,00
Vlag van Tonga Tonga10100,00
Vlag van Tunisië Tunisië852168,75
Vlag van Uganda Uganda211050,00
Vlag van Zambië Zambië2200100,00
Vlag van Zimbabwe Zimbabwe422050,00
Totaal632931346,03

Rekords

Wêreldbekerrekord

Ivoorkus het tot dusver vir een rugbywêreldbekertoernooi gekwalifiseer. Hulle is tydens die 1995-toernooi egter sonder ’n oorwinning in die groepfase uitgeskakel.

JaarUitslag
1987Nie genooi nie
1991Nie gekwalifiseer nie
1995Groepfase
1999Nie gekwalifiseer nie
2003Nie gekwalifiseer nie
2007Nie gekwalifiseer nie
2011Nie gekwalifiseer nie
2015Nie gekwalifiseer nie
2019Nie gekwalifiseer nie
2023Nie gekwalifiseer nie
2027N.v.t.
2031N.v.t.

Afrikabeker

Ivoorkus neem sedert 2001 aan die jaarlikse Afrikabeker deel. Hulle kon die toernooi egter nog nie wen nie.

Ander toetswedstryde

Vanweë sy laat vestiging in 1990 het Ivoorkus gedurende die amateurtydperk min toere volgens die ou tradisie onderneem, aangesien dit teen die jaar 2000 tot ’n einde gekom het. Deesdae is toetswedstryde teen die spanne van die Noordelike Halfrond tweekeer per jaar moontlik. Gedurende Juniemaand se midjaarrugbytoetsreeks vertrek Europese spanne na Ivoorkus en gedurende Novembermaand se eindjaarrugbytoetsreeks reis die Ivoriane na Europa. In teenstelling met die meeste ander rugbylande speel Ivoorkus nie vir enige trofee teen sy opponente nie.

Spelers

Huidige span

Agterspelers (arrières)
SpelerPosisieKlub
Firmin Kohon Douho GnonsioSkrumskakelYopougon RC
Paul Régis LohourySkrumskakelROC Houilles-Carrières
Ezer KosseLosskakelCA Lormont
Jonathan Kévin LoLosskakelRugby Épernay Champagne
Yacouba DembeleSenterYopougon RC
Eric Abo Joseph FlochSenterSC Rieumois
Lohore Yann-Eauthys Jose-Mary KapteinSenterSOC Chambéry
Brahima Ahmed DiabateVleuelOlympique Rugby Club Koumassi
Toussaint Kassi AnzianVleuelTreichville Biafra Olympique
William EdanVleuelYopougon RC
James Koussai ZieVleuelRugby Chartres
Benjamin YouzanHeelagterTreichville Biafra Olympique
Salif TouréHeelagterRugby Épernay Champagne
Voorspelers (avants)
SpelerPosisieKlub
Brahima KonateHakerTreichville Biafra Olympique
Youssouf DossoHakerUnion sportive Orthez rugby
Franck YeoHakerCA Orsay Rugby Club
Stéphane David AkahStutunion sportive Saint sulpicienne F1
Gbapo Behi Kessie Jean EmmanuelStutYopougon RC
Kevin BrouStutAmicale sportive vauréenne
Poupeau Quentin Gérard YvesStutSaint Médard rugby club
Arthur Roméo N'DaSlotRugby Épernay Champagne
Yassi Bolly Junior WilliamSlotYopougon RC
Gori Jean Philippe KevinSlotAvenir Aturin
Christian Emmanuel Sahin NesmonSlotYopougon RC
Bakary MeitéLosvoorspelerCarcassonne
Charles Lebon ZambleLosvoorspelerYopougon RC
Ismaël SilueLosvoorspelerYopougon RC
Oulai Dion EvrardLosvoorspelerAviron bayonnais
Paul Diallo Dit PeresAgstemanStade Nantais
Dov Ore KosseAgstemanStade niçois

Bekende spelers

Tot dusver is geen voormalige Ivoriaanse speler in Wêreldrugby se Heldesaal opgeneem nie.

Spelerstatistieke

Vervolgens die belangrikste statistieke van Ivoorkus se spelers. Die spelers wat met * gekenmerk is, is nog aktief en kan hul statistieke verbeter.

(Korrek teen: April 2022)

Meeste toetswedstryde[38]
RangNaamTydperkToetswedstryde
01Ernest Bley1993–19958
02Toussaint Djehi1993–19958
03Ismaila Lassissi1993–19958
04Lucien Niakou1993–19958
05Jean-Baptiste Sathiq1993–19958
06Aboubakar Camara1993–19957
07Athanase Dali1993–19957
08Amidou Koné1993–19957
09Alfred Okou1993–19957
10Ble Aka1993–19956
Meeste punte aangeteken[39]
RangNaamTydperkPunte
01Athanase Dali1993–199531
02Aboubakar Camara1993–199515
03Aboubacar Soulama1994–199513
04Victor Kouassi1993–199508
05Paulin Bouazo1993–199505
06G. Kouassi1993–199305
07Célestin N’Gabala1994–199505
08Lucien Niakou1993–199305
09Alfred Okou1993–199505
10Jean-Baptiste Sathiq1993–199505
Meeste drieë gedruk[40]
RangNaamTydperkDrieë
01Aboubakar Camara1993–19953
02Paulin Bouazo1993–19951
03Célestin N’Gabala1994–19951
04Lucien Niakou1993–19951
05Alfred Okou1993–19951
06Jean-Baptiste Sathiq1993–19951
07Aboubacar Soulama1994–19951
08S. Swatson1994–19941

Verwysings

  1. (en) "Most matches". ESPNscrum. Besoek op 8 April 2024.
  2. (en) "Most points". ESPNscrum. Besoek op 8 April 2024.
  3. (en) "Most tries". ESPNscrum. Besoek op 8 April 2024.
  4. (en) "World Rankings". Wêreldrugby. Besoek op 8 April 2024.
  5. (en) "Ivory Coast". Wêreldrugby. Besoek op 8 April 2024.
  6. (en) "Rugby Africa Unions". Rugby Afrika. 2020. Besoek op 8 April 2024.
  7. (en) "World Rugby U20 Championship". Wêreldrugby. Besoek op 8 April 2024.
  8. (en) Huw Richards (2007). A Game for Hooligans: The History of Rugby Union. Edinburg: Mainstream Publishing. p. 164. ISBN 978-1-84596-255-5.
  9. (en) Huw Richards (2007). A Game for Hooligans: The History of Rugby Union. Edinburg: Mainstream Publishing. p. 237. ISBN 978-1-84596-255-5.
  10. (en) Richard Bath (1997). The Complete Book of Rugby. Seven Oaks. p. 69. ISBN 1-86200-013-1.
  11. (en) "History of the CAR". Rugby Afrika. Besoek op 8 April 2024.
  12. (en) Nigel Starmer-Smith (1986). Rugby – A Way of Life, An Illustrated History of Rugby. Lennard Books. p. 186. ISBN 0-7126-2662-X.
  13. (en) "1987 Rugby World Cup: The long road to the cup". New Zealand History. 2021. Besoek op 8 April 2024.
  14. (en) "1991 Rugby World Cup – African qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  15. (en) "1995 Rugby World Cup – African qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  16. (en) "Rugby World Cup 1995: Overview". rugbyworldcup.com. 2019. Besoek op 8 April 2024.
  17. (en) "The tragic tale of Max Brito – the Ivorian player paralysed at the 1995 Rugby World Cup". The 42. 17 September 2015. Besoek op 8 April 2024.
  18. (en) "1999 Rugby World Cup – African qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  19. (en) "2000 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  20. (en) "2001 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  21. (en) "2003 Rugby World Cup – African qualifiers". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  22. (en) "2003 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  23. (en) "2004 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  24. (en) "2005 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  25. (en) "2006 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  26. (en) "2007 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  27. (en) "2008/09 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  28. (en) "2010 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  29. (en) "2011 Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  30. (en) "2012 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  31. (en) "2013 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  32. (en) "2014 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  33. (en) "2015 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  34. (en) "2016 Rugby Africa Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  35. (en) "2017 Rugby Africa Silver Cup". rugbyarchive.net. 2022. Besoek op 8 April 2024.
  36. (en) "Namibia win Rugby Africa Cup to secure place at Rugby World Cup 2023". rugbyworldcup.com. 10 Julie 2022. Besoek op 8 April 2024.
  37. (en) "International Rugby Union Statistics – Ivory Coast". ESPNscrum. Besoek op 8 April 2024.
  38. (en) "Total matches played (descending)". ESPNscrum. Besoek op 8 April 2024.
  39. (en) "Total points scored (descending)". ESPNscrum. Besoek op 8 April 2024.
  40. (en) "Total tries scored (descending)". ESPNscrum. Besoek op 8 April 2024.

Verdere leesstof

  • (en) Huw Richards (2007). A Game for Hooligans: The History of Rugby Union. Edinburg: Mainstream Publishing. ISBN 978-1-84596-255-5.
  • (en) Richard Bath (1997). The Complete Book of Rugby. Seven Oaks. ISBN 1-86200-013-1.

Eksterne skakels

This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.