Indwe

Indwe is 'n dorp in die Oos-Kaap, sowat 40 km suidoos van Dordrecht en 34 km noordwes van Cala. Dit is in 1896 aangelê as sentrum vir laegraadse steenkool wat sedert 1867 hier ontgin is. Die dorp het in 1898 munisipale status gekry. Die dorp is genoem na die Indwerivier. Die naam is afgelei van die Xhosa se woord vir die Bloukraanvoël.[2]

Indwe

(ingesluit Mzamomhle)
Die destydse Gereformeerde kerk Indwe.
Indwe is in Oos-Kaap
Indwe
Indwe
 Indwe se ligging in Oos-Kaap
Koördinate: 31°28′0″S 27°20′0″O
LandVlag van Suid-Afrika Suid-Afrika
ProvinsieOos-Kaap
DistrikChris Hani
MunisipaliteitEmalahleni
Stigting1896
Oppervlak
  Totaal20,8 km2 (8,0 vk. myl)
Bevolking
 (2011)[1]
  Totaal7 934
  Digtheid381/km2 (990/vk. myl)
Rasverdeling (2011)
  Wit mense0.8%
  Indiërs/Asiërs0.2%
  Bruin mense3.0%
  Swart mense95.7%
  Ander2.8%
Taal (2011)
  Xhosa 91.8%
  Afrikaans 3.6%
  Engels 1.8%
  Ander 2.8%
Poskode (strate)
5445
Poskode (posbusse)
5445
Skakelkode045
Webwerfhttp://www.indwe.co.za/
Indwe se Rooms-Katolieke kerk waarvan die hoeksteen in 1893 gelê is.
Indwe het eens op 'n tyd 'n florerende Afrikaanse hoërskool gehad.

Vandag is Indwe hoofsaaklik 'n sentrum vir suiwel- en ander boerderybedrywighede.

NG gemeente

Die gemeente is op 10 Maart 1906 gestig op las van die Ring van Burgersdorp, volgens 'n besluit geneem op Lady Grey die jaar vantevore. Die eerste kerkraadsvergadering is gehou op 24 Maart onder die voorsitterskap van ds. J.F. Marais, predikant van Dordrecht, wat in 1952 die oudste lewende predikant van die Nederduitse Gereformeerde Kerk was.

Die eerste leraar was ds. J.J. Krige, hulpprediker op Kroonstad. Dienste is eers in 'n klein kerkie gehou en 'n huurhuis moes as pastorie dien. Die pastorie is eers in 1909 gebou en die eerste kerkgebou, van gekapte klip, in 1920. In 1923 is die gemeente versterk met die toevoeging van Lady Frere, wat by Queenstown weggeneem is.

Mettertyd het die gemeente, wat eens hulpbehoewend was, heeltemal selfstandig geword en teen die vroeë 1950's het die dankoffer bykans £3 000 beloop. Die steenkoolmyne wat aanvanklik verantwoordelik was vir die ontstaan van die dorpie, was enkele dekades later nie meer in werking nie nadat steenkool van 'n beter gehalte in die destydse Transvaal ontdek is en ná Uniewording aan die destydse Kaapprovinsie beskikbaar geraak het. Die wit gemeenskap op Indwe het vroeër jare uit sowat 80 persent Afrikaanssprekendes bestaan waarvan sowat 80 persent aan die NG Kerk behoort het. Sowat 60 jaar gelede was daar slegs een sekte bedrywig, en dit op Lady Frere.

Teen 1950 het die gemeente met skaars 600 lidmate twee volwaardige kerkgeboue in stand gebou, op Indwe en Lady Frere. Weens politieke verwikkelinge in die eertydse Transkei het Indwe sy dienspunt op Lady Frere verloor en die aangrensende NG gemeente Du Plessis (gestig 1919) syne op Kala (voorheen Cala). Du Plessis, met sy kerkgebou op die nedersetting Ida tussen Indwe en Elliot, is omstreeks 1970 by Indwe ingelyf en sedertdien is Indwe 'n tweekoppige gemeente: Indwe en Ida.

Hoewel Indwe se gemeente teen 2012 sowat 10 jaar laas 'n leraar gehad het en die getal belydende lidmate tot sowat 60 gedaal het, het die kerkraadslede self die gemeente aan die gang gehou en was hulle betrokke by die gemeenskap.

Gereformeerde gemeente

Die Gereformeerde kerk Indwe is in 1926 van die Gereformeerde kerk Dordrecht afgestig, maar het in 1990 ontbind toe die sieletal tot net 15 gedaal het. Die kerkgebou in Voortrekkerstraat se hoeksteen is op 22 Oktober 1938 gelê en dis op 6 Mei 1939 in gebruik geneem. In die Noordoos-Kaap het dieselfde lot die Gereformeerde kerke op Elliot (1899–1979), Hofmeyr (1914–1995), Sterkstroom (1882–2002) en Jamestown (1899–2003) getref.

Sien ook

Galery

Verwysings

  1. Som van die hoofplekke Indwe A, Mzamomhle, Indwe B, Indwe C en Indwe tydens die 2011-sensus.
  2. Dictionary of Southern African Place names. URL besoek op 26 Julie 2013.
  • Olivier, ds. P.L. (samesteller), Ons gemeentelike feesalbum. Kaapstad en Pretoria: N.G. Kerk-uitgewers, 1952.
  • Rosenthal, Eric, Encyclopaedia of Southern Africa, Juta and Company Limited, Kaapstad en Johannesburg, 1978.
  • Raper, P.E., Dictionary of South African Place Names, Lowry Publishers, Johannesburg, 1987.
  • Erasmus, B.P.J. (1995). Op Pad in Suid-Afrika. Jonathan Ball Uitgewers. ISBN 1-86842-026-4.
This article is issued from Wikipedia. The text is licensed under Creative Commons - Attribution - Sharealike. Additional terms may apply for the media files.